Maandag 25 Julie 2016

Bly gefokus...


 Image result for news paper


'n Publikasie het ‘n lasterlike berig oor 'n man geplaas. Hy het by ‘n regsgeleerde, regsadvies gaan inwin. Die advokaat het geduldig na die man se klagtes geluister en hom die volgende raad gegee. "Moet niks doen nie. Navorsing toon, die helfte van die mense wat die koerant koop, het die berig nie gesien nie. Die helfte van die mense wat die berig gesien het, het dit nie gelees nie. Die helfte van die mense wat dit gelees het, het dit nie verstaan nie. Die helfte van die mense wat die berig verstaan het, ken jou en glo dit nie. Die helfte van die mense wat die berig glo se menings is nie vir jou belangrik nie."

"Hulle rek hulle monde teen my oop…maar U het gesien dit is nie so nie…Tree tog vir my in my God." Ps 35: 21-23

Wat belangriker is as ander mense se menings oor my en jou, is wat 'n mens van jouself weet. Nog belangriker as ons eie mening oor onsself, is wat God van ons weet. "Die hart is bedriegliker as enigiets anders… wie kan hom verstaan? Ek, die Here deurgrond en toets hart en verstand." Jer 17:9,10.

Belangrikste is of ons omgee wat God van ons weet. Dit was Dawid se pleitgebed tot God, dat Hy aan hom (Dawid) sal bekendmaak wat Hy van Sy dienskneg weet en wat die Here van hom dink: "Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my… kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie…" Ps 139:23. Besorgdheid oor God se beoordeling van ons lewe, hou ons geestelike lewe gesond.

Om ons te steur aan wat ander mense oor ons te sê het, steel ons vreugde en vrede. Dit wek haat en nyd op. Hoe vinnger mens daarvan vergeet. Leef in vrede met almal en ook met jouself en sien uit na die Koms van die HERE. – Sjibbolet