Vrydag 01 Julie 2016

‘n Geliefde is Huis toe...


Image result for Red roses

Die lewe is soos ‘n lang pad wat mens moet aflê. Op verskillende plekke is daar uitkykpunte. Mens kan oomblikke daar stilhou en op die uitkyktoring gaan staan.
            Annetjie Steenkamp se begrafnis is so ‘n uitkykpunt. Jy wat nou ook by hierdie uitkykpunt is, ek sien saam met jou al die mooi dinge langs jou pad. Ek is saam met die HERE trots op jou en jou  prestasies.
            Terwyl jy by hierdie uitkykpunt staan, wil jy natuurlik ook graag vorentoe kyk. Niemand van ons weet wat die toekoms inhou nie, behalwe dat  Sy Woord duidelik sê dat Sy hand van ryke seën op ons rus, dat Hy ons paaie gelykmaak.
            Daarom gaan mens vorentoe, na die volgende uitkykpunt, wetende daar wag groter voorspoed, oorvloed en ryke seën... en grootste van alles, die Ewige Lewe!
Die HERE het ons geken, vir my en vir jou, van voor ons geboorte af: Psalm 139:13-16. Hy sal ons ook dra tot in gryse ouderdom: Psalm 71:6-9.
So, wanneer jy terugkyk dank ek saam met jou die HERE vir al Sy goedheid en guns, Sy liefde en genade en ook die wysheid wat Hy jou as geskenk gegee het.
Kyk dus vorentoe met ‘n blymoedige hart. Onthou, Abraham het nie geweet waarheen hy gaan toe hy deur die woestyn moes trek nie, maar hy het geweet saam met Wie hy gaan!
As jy by hierdie uitkykpunt stilgehou het en jy is oorval deur onsekerheid oor die pad na die volgende uitkykpunt, vertoef dan nog ‘n rukkie, kniel eers en maak jou saak met Jesus uit. Doen dit... jy durf nie verder reis sonder Jesus nie. Maak 2 Julie 2016 die belangrikste datum ooit in jou hele lewe.
En verder: Volharding bring oorwinning mee  –  jy is tot alles in staat deur Christus wat jou die krag daartoe gee: Fil 4:13.
God se Belofte aan jou staan vas:
Net goedheid en guns volg jou elke dag....
            Ek kyk uit vir jou by die volgende Uitkykpunt! – Sjibbolet