Maandag 11 Julie 2016

Klim uit jou parskuip uit


Image result for koring gerwe 


In Rigters 6:11 slaan Gideon koring uit in ‘n parskuip. Mens slaan nie koring uit in ‘n parskuip nie. ‘n Parskuip is waar druiwe gepars word om wyn te maak.
            Koring word bogronds uitgeslaan sodat die wind kan help om die kaf van die koring te skei.
            Gideon is in die parskuip besig omdat hy daar wegkruip vir die vyand. As die vyand hom sou sien, gaan hulle hom kom aanrand en al sy koring steel. Hy is bang, vol vrees en loer kort-kort om te sien of die vyand nie straks aankom nie.
            Die volgende oomblik moes hy hom buite sy sinne geskrik het. ‘n Engel van die HERE verskyn en sê: “Die HERE is met jou dapper held.”
            Die arme Gideon was nie dapper nie en nog minder ‘n held. Wanneer hy die opdrag gegee word om Israel te verlos, sê hy: “Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie.”
            Hy het niks verkeerds gedoen nie, behalwe sy minderwaardigheidskompleks en sy vrees. Daar staan so 265 keer in die Bybel “Moenie vrees nie.”
            Die HERE het egter vir Gideon gesê hy is meer van belang in die oë van God as wat hy van homself dink.
            So is ons ook baie belangriker vir God as wat ons van onsself dink. Hoeveel mense vertel nie leuens oor jou nie. Hoeveel keer lieg jy nie vir jouself oor jouself nie?
            Die slim mense sê jy ly aan ‘n minderwaardigheidskompleks, jy het nie selfvertroue nie en nog interessanthede.
            Jy is jou eie vyand want jy laat toe dat mense en omstandighede jou in ‘n armsalige smartvraat verander.
            Die HERE verwag dat ons nederig moet wees, maar dis ‘n sonde om onsself te verkleineer. In Christus moet ons triomfeer, nie oorweldig word nie.
            Gideon is uit daai parskuip uit en hy het ‘n dapper held geword. Klim jy ook nou maar uit jou parskuip want God sien jou ook as ‘n dapper held.
            Kyk wat sê die HERE: “Moenie bang wees nie. Ek verlos jou. Ek het jou op jou naam geroep, jy is MYNE.”Jes 43:1
            “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaar geweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien, toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” - Ps 139:12-16
            Al wat jy moet doen is om op te staan en uit jou parskuip uit te klim. “So sê die Here:   Bly stil, moenie huil nie, moenie trane in jou oë hê nie! Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word... ” Jer 31:16
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
            “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Hebr 12:12-15
            Dis wat jy moet doen, die HERE doen die res en Hy gaan jou saak beredder op  geen manier wat jy ooit kon bedink nie. “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor  en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.” 1 Kor 2:9
            Komaan, hier kom boonop ‘n magtige Herlewing en almal is nodig om daarby betrokke te wees. – Sjibbolet