Wys tans plasings met die etiket hongersnood. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket hongersnood. Wys alle plasings

Maandag 18 November 2019

Nog ses maande, dan hongersnood...


Suid-Afrika is deel van 16 Suider Afrikalande  wat onder ‘n alles vernietigende droogte deurloop. By 400 Noord-Kaapse boere sit die wolf reeds voor die deur. Die droogte is by verre groter as wat vermoed was. Mens en dier kan nie sonder kos en water oorleef nie.


            Elise Tempelhoff van NETWERK24 berig: Altesame  45 miljoen mense in Suider-Afrika sal binne die volgende ses maande honger ly.

            Dít word toegeskryf aan die veranderende klimaat. So het die VN se Voedsel-en-landbou¬organisasie (FAO) en die Wêreldvoedselprogram (WFP) drie weke gelede gister in ’n gesamentlike verklaring gesê.

So wag die wolf voor die deur. Dis baie laat...

Volgens die FAO gaan ’n rekordgetal mense in die 16 lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap binnekort “ernstige kostekort” ervaar.

“Daar is nou sowat 11 miljoen mense in nege lande in hierdie streek wat honger ly en ’n krisis ervaar met toegang tot kos. Dié mense woon in Angola, Zimbabwe, Mosambiek, Zambië, Madagaskar, Malawi, Namibië, eSwatini (voorheen Swaziland) en Lesotho.

Die organisasies het ’n dringende beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om finansiering beskikbaar te stel en te help om “klimaatskokke” in dié streek die hoof te bied en gemeenskappe te help om dit te weerstaan.

Margaret Malu, die WFP se waarnemende streekdirekteur vir Suider-Afrika, sê dié streek ervaar nou die ergste droogte in 35 jaar terwyl die plantseisoen reeds begin het.

“Ons moet die honger van miljoene mense probeer afweer, maar ook in gemeenskappe belê om weerstand te kan bied teen meer en erger droogtes, vloede en storms,” sê sy.

Sy wys daarop dat klimaatsverandering chaos veroorsaak in ’n streek waar groot en kleiner boere geheel en al van reën afhanklik is. Die groeiende probleem met honger, wat sowel stedelike as landelike gemeenskappe ervaar, word vererger deur stygende kospryse, grootskaalse verliese aan vee en toenemende werkloosheid.

Die VN sê in die verklaring die FAO en die WFP het hul pogings om in te gryp verskerp en beplan om 11 miljoen mense met kos, asook beter boerderymetodes en water- en grondgebruik by te staan. Die organisasie is tans ook besig om boere se vee teen siektes in te ent.

“Die reën wat te laat kom, lang droogtes, twee massiewe siklone en ekonomiese uitdagings is ’n resep vir ’n ramp,” sê Alain Onibon, die FAO se koördineerder in Suider-Afrika.

Volgens hom sal dit boerderygemeenskappe minstens twee tot drie goeie groeiseisoene neem om weer op die been te kom.

Luidens die verklaring styg Suider-Afrika se temperature tans twee keer vinniger as die internasionale gemiddelde en die lande wat die hardste getref gaan word, is die Demokratiese Republiek van die Kongo, Malawi, Mosambiek, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe.

Waar lê die oplossing. Hoegemaak dat dit begin reën soos in vanmelewe se tyd: Tien dae sonder ophou?

Ons murmureer, ons bid so swaarmoedig.        Alles ten spyt moet ons soos Habakuk maak en jubel.  Habakuk sê: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

            “Die HERE God is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 17-19

            Ten spyte van wat ook al, jubel Habakuk. Hy was altyd bly. Hy het nooit murmureer nie.

            Altyd beteken presies wat dit sê soos in: Wees altyd bly.

Dog, hoe is mens bly en dankbaar wanneer daar fout is, wanneer dinge verkeerd loop, wanneer jy onrustig is, of seer het of hartseer is? Kyk verby al hierdie seer. Waarde lê in die toekoms.

            Eenvoudig, ons is bly omdat ons weet dat wat ons omstandighede ook al is, die Almagtige God, ons God, het reeds die antwoord.

            “Wees altyddeur bly.

            “Bid en Jubel sonder ophou.

            “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”
1 Thes 5:16-18

            Dalk moet alle gemeentes die preke vir ‘n tyd lank op Sondae stop en die hele diens gebruik in lofprysinge, aanbidding en gebed, dalk ook sommer daar op die dorre plase.  Waar twee of drie in Sy naam vergader, daar is Hy. Verwelkom Hom met ‘n vreugdekreet en jubelende sang vergesel deur musiekinstrumente. – Wekroep