Wys tans plasings met die etiket selfmoord. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket selfmoord. Wys alle plasings

Vrydag 31 Mei 2019

‘n Engel staan Wag



Ek dank die HERE dat my huis na 51 jaar nog staan, maar so byna nie. Na vier jaar was my huwelik in die skeihof... toe red die HERE my siel een middernag toe ‘n Engel my keer waar ek selfmoord wou pleeg.

            Ek was alleen in ons huis wat reeds verkoop was. My vrou en tweejarige kind het geloop. Vriende het net skielik weggebly. Ek was lank alleen, ek en die drank,  dwelms en my rookgoed... soos beste maats.

            Een laatmiddag stap ek weer oudergewoonte na die Sjinese winkeltjie op die hoek om sigarette te koop. Op pad hoor ek ‘n stem by my regterskouer: “As die wingerdstok nie vrug dra nie, word hy uitgekap en verbrand.”

            Ek het geskrik en bang-bang verder geloop. Ek wou nie na regs kyk nie, bang dat ek in die HERE sou vaskyk want ek het besef, dis Hy wat praat. Ek sou later besef dit was my eerste ondervinding, en ook nie die laaste keer nie,  dat die HERE, soos na Sy opstanding, met mens in die gees kan praat.

By die winkeltjie het ek steeds verwilderd die sigarette gekoop en so gou moontlik huis toe geloop.   Ek het op die stoep gaan staan om te rook want ek het nooit in my huis gerook nie. Ek het merkbaar gebewe en die as het vanself van die sigaret afgeval.

            Terug in die studeerkamer het ek in ‘n stoel gaan sit, heeltemal verdwaas. Ek het nie eers aan aandete, drank, dwelms of niks gebruik nie. Die stem oor my regterskouer vroeër, het my geskud.

            Buite het dit donker geword. Die enigste lig in die huis was die liggie op my lessenaar. Ek is totaal nugter, ook ontsteld omdat ek die huis, al my beleggings, polisse, alles, behalwe my werk verloor het.

            Selfmoord was vir my die enigste oplossing. Ek het alles fyn beplan en opgestaan om dit ten uitvoer te bring, maar ek kon nie by die studeerkamer se deur uitkom nie. ‘n Reuse Engel het die hele oop deur toegestaan. Daar was geen manier wat ek by hom verby sou kom nie.

            Ek het dadelik weg beweeg, terug in die studeerkamer in en gebewe soos ‘n riet, nogtans, te meer oortuig hier is nie meer plek vir my op hierdie aarde nie. ‘n Tweede en later ‘n derde keer het ek om die deur geloer, maar die Engel was steeds daar.

            Ek was nie bang vir die Engel nie, maar sy grootte het my verstom. As jy ooit sou bid dat Engele jou moet beskerm, glo dit, want niks en niemand kan by hulle verby kom nie. Dit sou ek ook in 1973 in die Yom Kippoer Oorlog in Israel ervaar.

            ‘n Ander soort vrees het my egter beetgepak. Ek het begin bewe van angs en trane het net oor my wange gestroom. Duidelik was ek vasgekeer en ek was bewus van ‘n groter mag wat ‘n tweestryd met my wil voer. Ek wou nie, ek wou by die Engel verby en daar was geen manier nie.

            Ek onthou van ‘n klein advertensie in ‘n weekblad. Miskien moet ek die nommer daar bel want iemand moet kom help. Ek moet hier uitkom.

            Ek kry die advertensie: “As u gebed of geestelike hulp verlang, skakel...” Net dit. Dit was ‘n Pretoria nommer, en ek skakel.

            Dis middernag. ‘n Vrou antwoord, wil weet of sy kon help. Ek vertel haar ek wil selfmoord pleeg ek wil wegkom van alles, maar ‘n reuse man, ek dink dis ‘n Engel, staan die hele oop deur toe dat ek nie daar kan uit om myself om die lewe te bring nie.

            Die vrou het sonder om ‘n woord te sê begin bid. Ek het nie geweet ‘n vrou kan so bid nie. Dis of sy binne die Hemel voor die Troon van God gestaan en pleit het. Terwyl sy vurig soos iemand in storm en drang bid, kom daar meer lig in die studeerkamer en alles raak stil in my. Die vreemde vrou praat toe vir die eerste keer met my.

            Sy vra hoe dit nou met my gaan en ek sê ek is rustig, maar baie hartseer. Sy sê ek is welkom om ter eniger tyd te bel. Hulle plaas my op hulle gebedlys en hulle begin dadelik vir my intree by die HERE.

            Ek het dankie gesê en die foon neergesit. Weer loer ek om die deur en die Engel is weg. Ek loop uit die studeerkamer, maar nie na die motorhuis toe nie, na my slaapkamer toe.

            Daar tel ek die Bybel op, iets wat in baie, baie jare nie gedoen het nie. Ek maak sommer oop en dit val oop by die verhaal van die blinde man van Jerigo. Eers wil ek weg blaai want ek onthou dié verhaal van jare gelede, maar skielik kyk ek regdeur die Bybel en ek sien ‘n blinde langs ‘n weg sit, nie waar voertuie beweeg nie, net mense, donkies en kamele loop.

            Ek sien dit alles in kleur. Die blinde se kleed is vuil. Hy is blind, hy weet nie dit is vuil nie. Daar kom ‘n groep mense aangestap. Ek hoor hulle. Hy tel sy kop op en draai sy oor. Hy luister, en hoor Jesus is tussen hulle. Hy het van Jesus gehoor en van die wonderkerke wat Hy doen. Hy wou Jesus ook ontmoet, maar hoe?  Hy weet nooit waar om Jesus te kry nie en hy kry niemand om hom na Jesus toe te neem nie.

            Beseffende hier is dalk sy enigste en laaste kans, roep hy: “Jesus, Jesus, seun van Dawid wees my barmhartig!” Maar diegene wat voorgeloop het maak hom stil. Ek sien hulle en hoor hulle. Ek beleef alles.

            Die blinde besef hy kry dalk nooit weer so ‘n geleentheid nie en hy skreeu harder: “Jesus, Jesus, seun van Dawid, wees my barmhartig.”

            Jesus roep die blinde man. Die blinde staan op, gooi sy vuil kleed af en Jesus vra: “Wat kan ek vir jou doen?” Almal kom tot stilstand.

            Die blinde antwoord: “Dat ek kan sien.” En Jesus sê: “Jy sien.” En die blinde het gesien en gejuig en die HERE gedank.

            Die gesig wat ek sien afspeel het, was weg en ek  was op my knieë by my bed em ek begin in trane: “HERE, HERE seun van Dawid, wees my barmhartig... en ‘n duisternis val oor my en vrae: “Wat dink jy doen jy? Jy weet jy kan nie ophou drink en dwelms gebruik nie. Die newe effekte en onttrekkingsome is onmenslik, en nog...”

            En ek besef, ek moet uit hierdie woestyn uitbreek en ek skreeu hard soos wat ek kon: “HERE, HERE, seun van Dawid, wees my barmhartig!”

            Toe was die duisternis weg en ek bid verder, smekend en in trane: “HERE, en nou vra U vir my... wat kan U vir my doen?” EN ek sê: “HERE, dat ek kan sien.” Ek het nog verder gebid, maar kan nie alles onthou nie. Ek het aan die slaap geraak want ek was uitgeput.

            Die volgende oggend het ek besef ek is stoksielalleen deur ‘n nag van doodskaduwee, maar ek was inderdaad Wedergebore, nie mooi geweet hoe alles werk nie, maar met die duidelike besef ek is ‘n Nuwe Skepsel. Ek het so skoon en vry gevoel.

            Tog was ek nie alleen nie. Laatmiddag het Jesus langs my gestap, toe die Engel, toe vreemde die vrou oor die telefoon... en toe Liefde en Genade ongekend.

            Die son het helderder geskyn, die voëltjies het mooier as ooit gesing. ‘n groot las was weg. Ek het nie weer lus gekry vir rook, dwelms en drank nie. Ek had ook geen onttrekkingsimptome nie.

            Ek het my vrou haastig voor haar werktyd besoek. Sy het my weggejaag. Ek het gepleit: “Ek wil net iets kort vir jou sê.”

            Die woede is steeds daar, maar sy gun my ‘n oomblik, en ek sê: “Ek is Wedergebore.” Toe draai ek om en verdwyn.

            Ek was nie bewus daarvan nie, maar sy het my drie maande lank laat dophou om seker te maak of daar verandering is. Sy het net positiewe rapporte ontvang. Die skeisaak is teruggetrek en ons is vier maande later versoen.

Ek en my vrou het drie dogters. Hulle is almal op 6 na 7 jaar gered en al drie se mans is gered en die kleinkinders kom een na die ander in.

Ek het oud geword. My hand is steeds aan die ploeg.

Wat jou probleem ook al sou wees, Jesus wag vir jou.  - Wekroep