Sondag 26 Maart 2017

Die Skoenpoetser... ‘het jy God lief?’


So 50 jaar gelede en vroeër kon mens in Kaapstad, en veral in Adderleystraat op die sypaadjie op ‘n stoel gaan sit terwyl ‘n skoenpoetser, jou skoene skoonmaak en blink vryf. Dit was ook in talle ander lande ‘n daaglikse gesig.


            Sommige skoenpoetsers was volwasse mans, ander was jeugdiges.
Die pragtige verhaal word vertel van 'n skoenpoetser  wat een dag in die straat 'n prokureur, wat hy leer ken het, se skoene skoonmaak. Terwyl hy met sorg die man se skoene blinkmaak vra hy: "Mr. Bartlett, het jy God lief?”
Prokureur Bartlett was 'n waardige persoon, maar hy was nie 'n uitgesproke Christen nie. Taamlik geskok antwoord hy: "Hoekom vra jy my dit?"
Die seun vertel van sy probleem. Hy en sy mense woon in 'n bouvallige gebou wat gesloop moet word, en die inwoners moet nou ander blyplek kry. Sy ma het nie vaste werk nie, sy ouma is verlam en sy enigste inkomste is om mense se skoene skoon te maak.
Hy vervolg op sy  manier van praat: "Ek wiet nie wat om te doen’ie. Gister het ek twie manne hoor praat. Die iene seg virrie anner: God sal ienigiemand wat vir Hom lief is help as hulle vi’ Hom seg hulle is innie moeilikheid. Ek het toe gedink om vi’ iemand wat vir God lief is, te vra om vi’ my te bid.’
Die enigste raad wat die verbouereerde regsman kon gee, was dat hy maar net moet vra en hy sal wel iemand kry wat hom sal help. Hy gee die outjie 'n pond en haas hom weg.
Maar na 'n dag van selfondersoek en verwyt, daag hy die aand vir die eerste keer, wat die mense kon onthou, by die biduur op. Hy vertel openlik van sy gesprek met die seuntjie sonder om homself te verskoon.
Die predikant wat die biduur lei, vertel die voorval 'n paar aande later in 'n predikante vergadering. 'n Ander predikant daar weet toe van 'n jongman, wat deur die dieselfde vraag so ontwaak het, dat hy na die HERE toe gekom het en gered is.
Toe sê die derde leraar dat 'n man, wat geweet het hoe om die seun te antwoord, het die seun na sy studeerkamer toe geneem het. Net daar word besluit om die saak verder te voer.
Die seun en sy gesin is met goeie woonplek en versorging gehelp en hulle het vir die seun gereël om behoorlik skool toe te gaan, waar hy soveel belofte vir goeie opleiding getoon het, dat 'n prokureur hom onder sy sorg geneem het om as regsgeleerde opgelei te word.
Hy het 'n bekwame en simpatieke regsman en helper van die jong skoenpoetsertjie geword. Hy self het 'n toegewyde Christen geword, omdat hy iemand raakgeloop het wat vir hom 'n woord by die Hemelse Vader kon doen.
God se werke in ons lewens is breed en ryk. Ons moet net by God uitkom met ons nood.
            “Moenie bang wees nie klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die Koninkryk aan julle te gee." Luk 12: 32
            “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die Ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (ook) by die verbryselde en nederige van gees, (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
            Hou nooit op om te bid nie, veral nie as jy vir God lief is nie!