Dinsdag 07 Maart 2017

U stok en U staf vertroos my


In 1849 het dr. Alexander Duff, die man wat die suksesvolle Dr Duff meisies hoërskool in Kalkutta, Indië gestig het, was hy naby Simla aan die voet van die reuse Himalajagebergte op ‘n sendingreis.



Eendag lei sy roete teen die berg op, al langs ’n nou voetpad wat teen ’n steil rant uitgekap is. Hy sien hoe ’n herder met sy kudde met die voetpad langs die berg afkom.
Die voetpad loop een kant, naby ’n diep afgrond langs, verby. Die herder loop voor en sy skape volg. Elke nou en dan gaan die herder staan en kyk terug hoe sy skape hom volg.
In sy hand hou hy ’n stok, langer as hyself, vas. Om die een punt van die stok was ’n metaalband met ’n ronde haak aan, gedraai. Om die ander punt was daar ook ’n metaalband gedraai, maar ’n plat, swaar yster, steek daar uit.
Dr. Duff staan aangedaan na die herder se manier van doen en kyk. As een van die skape teen die berghang probeer uitklouter, haak hy die haak om die skaap se agterbeen en trek die skaap versigtig terug op die voetpad.
Dieselfde as ’n skaap dit te naby die afgrond waag.
Dr. Duff vra die herder hom oor die plat, ysterdeel, van sy stok.
“Hiermee slaan ek enige ongedierte of iets wat die skape bedreig,” verduidelik die herder selftevrede.
“Voel,” nooi hy en gee sy stok in dr. Duff se hande. Die slaandeel van die stok was swaar. Hy kon ’n wolf of jakkals daarmee sleg seermaak, straks  doodslaan. Hy gebruik dit veral snags dikwels, vertel die herder. Dit is die tyd wanneer ongediertes kom om die skape kwaad aan te doen.
            Dr. Duff dink aan Psalm 23 en verstaan wat die herder se stok en staf regtig beteken.
Dit is hoe ons groot en goeie Herder ons bewaar. Met die stafdeel trek Hy ons terug op die regte koers, met die stokdeel verdedig en beskerm Hy ons teen gevaar.
“Die goeie herder lê sy lewe af vir sy skape. ’n Huurling… as hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar… Ek is die goeie Herder. Ek ken my skape… en Ek lê my lewe af vir die skape.” Joh.10:11-15
            Mens voel sommer verlig en veiliger nou dat jy weet wat die stok en die staf se rol is.
            “… ek sal geen onheil vrees nie… (want) u stok en u staf dié vertroos my.” Ps 23:4
            Vandag se skaapwagters gebruik skaaphonde. So sien ek eendag op ‘n plaas by Redelinghuys ‘n boer en sy honde wat ‘n trop boerbokke aankeer.
            Skielik spring ‘n boerbok kortom en vlieg byna oor die sand en tussen die besembosse deur soos wat hy hol na waar ook al.
            Die boer het nie eers omgekyk nie, hy het net ‘n kortaf bevel aan een van die honde gegee, toe sit die hond die bok agterna. Die hond het die bok so 50m later ingehaal en probeer aankeer terug na die trop nie, maar die bok wou nie.
            Toe storm die hond op die bok af en gee die bok net een harde byt in sy binneboud. Die bok het in die lug geklim van die pyn en toe hy grondvat toe hol hy soos nog nooit om terug by die trop te kom.
            Ek het my verkyk aan die verskynsel en toe beleef ek die volgende in my gees:
            Die HERE sê Hy hou sy hand oor ons en niks kan ons uit Sy hand uitruk nie... maar as jyself uit sy hand uitspring en eie koers kies... dan sê Hy vir sy skaaphond, die satan: “Sa, vat hom.”  En kort voor lank is jy terug in die trop.
            Luister dus liewer na die Herder en bly op koers.
            Onthou die groot Volksaamtrek op 22 April op ‘n plaas buite Bloemfontein wanneer Angus Buchan die volk sal toespreek/aanspreek en meer as een miljone Christen volksgenote tot God sal roep om die land te normaliseer.

            “Cancel every other meeting and make sure you are there. I really believe this is the last chance that we will have in South Africa to bring normality back to this beloved nation.” – Angus Buchan