Woensdag 26 April 2017

Getuienis oor 22 April 2017

Dit was ook Hendrik en Marna se Tyd

Hendrik en Marna Nel van Koster het deur ‘n Goddelike wonderwerk die reuse nasionale Biddag in Bloemfontein bygewoon.
Sy getuig: “Wat 'n belewenis was dit nie? Ons het 'n groot getuienis.
Ons het teëspoed op die pad gekry. Het 12:30 Vrydagnag op die N! gestaan met ons kar, sewe km voor Bloemfontein. Drie wiele was los en my man moes dit eers vasdraai. Die motor was by ‘n motorherstel plek om die skokbrekers te vervang. Dit blyk dat drie van die wiele nooit reg vasgedraai was nie.



            Na my man dit vasgemaak het het ons verder probeer ry maar daar was 'n verskriklike geluid voor by die enjin. Ons het dadelik weer gestop en besef daar is nou baie groot fout. Ons sal ingesleep moet word.
            Maar dit is net na middernag en ons kén niemand daar wat ons kan bel om ons te kom help nie. Ons besluit toe om baie stadig te ry tot by die Ultra City. Maar dit klink verskriklik voor iewers in die enjin. Ons het net gebid om tot daar te kom. Ons het by Ultra City gekom en gedink ons sal die volgende oggend kyk wat ons kan doen.
            Ons was baie moeg en het reggemaak en in die motor geslaap. Vroeg Saterdagoggend is ons op. My man sê toe vir my, niks gaan ons weghou van die biddag af nie. Ons gaan die kar netso ry.
            Ek sê toe vir hom, jy besef seker dat as die ding breek, dan gaan ons groot skade hê. Maar hy sê “ons ry.” Én so ry ons toe met die aardigste geluid voor by die enjin.
Kom toe by die terrein aan en besluit ons gaan nie verder oor dit tob nie. Ons wou die gebeurtenis ten volle beleef.
Dit was 'n wonderlike belewenis. Ons het die Heilige Gees tasbaar ervaar en beleef. Ons was in trane.
Ons kom na sesuur die aand eers weer by ons kar uit. Pak alles in die kar en daar wil die enjin nie vat nie. Dit is al skerp skemer toe ons die kar uiteindelik aan die gang kry. Maar nou staan die karre buffer teen buffer. Honderde duisende !!!.
            Die geluid is steeds in die enjin en ons besluit om weer netso tot by Ultra City te ry en weer in die motor oor te slaap. Ons kom eers 9:30nm by Ultra City aan. Ons weier om ons te bekommer en besluit ons gaan die HERE vertrou.
            Ons het gebid en vir Hom dankie gesê vir die dag en wat Hy vir elkeen se lewe beplan. Vyfuur die volgende oggend, Sondagoggend, val ons in die pad terug huis toe. Die kar begin erg ruk en die geluid is nou baie harder. Ons bid kliphard saam en getuig van Sy grootheid en goedheid en vra dat die HERE asseblief Sy hand op elke meganiese deel van die kar sal hou en ons op die pad sal bewaar en sal beskerm. En ons ry.
            Die Heilige Gees sê toe vir my man om vinniger te ry. Hy ry toe 100 km per uur want op 80 ruk die kar verskriklik en dan is die vreemde geluid baie erg. Die HERE sê toe vir my man om nog vinniger te ry. En hy ry toe 120. Intussen bid ons kliphard en sê vir die HERE dankie dat ons kan weet ons kan op Hom vertrou ens. En soos ons bid raak die geluid sagter en word die geruk van die kar minder. Naderhand is alles stil.
            Na 'n lang ruk is die geluid weer terug en sê ons weer net dankie vir Sy beskerming en dadelik is die geluid weer stil. Ons het tot by die huis gery. Oor die 400km. Die kar is opgedomkrag, die wiele afgehaal en daar is geen fout nie!!! Hulle het alles nagegaan en geen fout gekry nie. Hulle kry absoluut niks fout nie!!! Ons kar makeer op die aarde niks!!! Maandagmore makeer die kar ook niks.
            Ons geloof is getoets. Tot die uiterste toe. Die vyand het geweet wat ons by Wilde Als gaan kry en hy het met alles in sy mag gekeer dat ons daar uitkom. Niks kon ons keer nie en Vader het gewys dat NIKS VIR HOM ONMOONTLIK IS AS ONS OP HOM VERTROU EN NIE BANG IS NIE.
            Ons het ons weer opnuut tot die HERE verbind. Ons geloof en huwelik is nou sterker as ooit vantevore. Ons had ‘n wonderlik huwelik maar was net baie, baie goeie vriende. Dit gaan nou verander. Ons het saam op Wilde Als hande geneem, gekniel en saam gebid, vir die land, maar ook vir ons en ons eie huwelik. Ons was in trane.
            Ons aangenome seuntjie het reg deur die groot gebeurtenis geslaap. My en my man se onverdeelde aandag het alles eerstehands beleef.
            Die Heilige Gees het baie mense aangeraak. Ek kan nie wag om al die getuienisse te hoor nie. En ek verwag 'n GROOT HERLEWING in ons land.”