Donderdag 20 April 2017

Liefde ongekend...


Image result for want so lief het god die wereld gehad

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” Joh 3:16-17
           Na alles volg Golgota.
           DIE vraag word allerweë gevra: Wie het Christus doodgemaak, die Romeine of die Jode?
          Christus gee self die antwoord in Joh. 10:17-18: “Daarom het die Vader my lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem.
          “Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit af uit Myself.  Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer op te neem.  Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.”
          Niemand sou die voorreg hê om Christus dood te maak nie.
          Lukas 23:46 lees:  “En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê :  “Vader, in U hande gee Ek my gees oor!  En toe Hy dit gesê het, blaas Hy sy laaste asem uit.”
          Mense het normaalweg 36 ure aan ‘n kruis gehang voordat hulle dood is.  Jesus het na ses ure besluit, Hy sterwe.
          So gaan 1 Kor. 15: 54-55 ook in vervulling: “Die dood is verslind in die oorwinning.  Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”
          Die Hoofman oor ‘n Honderd staan daardie oomblik voor Christus. Toe hy sien wat plaasvind bely hy :  “Waarlik, hierdie man is regverdig!”
          Saam hiermee word die waarheid oor die Ewige Lewe bevestig. Hemel of hel, daar is beslis ‘n Ewige Lewe. Oor waar mens die Ewigheid gaan deurbring is jou eie keuse.
          Paulus weet waar hy die Ewigheid gaan deurbring en sê in Rom. 8:38-39 “Wat ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of toekomstige dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel, my sal skei van die Liefde van God wat daar in Jesus Christus is nie!”
         As jy dit ook kan sê, loof ons die Here saam met jou.
         As jy dit nie kan sê nie, as jy nie daardie versekering het nie, dan moet jy dringend werk daarvan maak. Dit is jou lewe en jou toekoms.
         Die HERE sê in Joh. 1:9 “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig, om ons nie net al ons sondes te vergewe nie, maar ons ook van alle ongeregtigheid te reinig.
         En jy wat reeds hierdie kragtige versekering het, bid saam met ons vir ‘n magtige Herlewing.
         As jy hierdie boodskap reeds tot by hierdie punt gelees het, dan moet jy besef dit is die Heilige Gees wat jou gedring het om tot hier te lees. Dan praat Hy met jou omdat hy jou lief het en dan verwag Hy reaksie van jou kant af!
        Jy moet jou saak met die HERE uitmaak want, die Liefde waarna aan die begin van hierdie skrywe verwys word, voltooi ‘n perfekte sirkel: Jesus sê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
       “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.” Joh 14:2-4          
       Hy stuur nie iemand nie, Hy kom ons self haal... binnekort.
       “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die HERE YAWEH!” Matt 23:39