Donderdag 20 April 2017

Die prys van ongehoorsaamheid.

Image result for die bybel

Ken jy vir Asa?

Van Asa moet jy eers gaan lees in 2 Kron hoofstukke 14 tot 16. Dis kort hoofstukke en dit lees maklik.
            Asa stap 35 jaar lank getrou en in grootse gehoorsaamheid die pad saam met God. Dis ‘n pad van enorme welslae.
Dan dop hy twee toetse na mekaar. Hy wend hom nie in gehoorsaamheid tot God nie, maar tot ander... en alles loop verkeerd.
            As Gelowige kan jy al die gawes hê, siele wen, suksesse een na die ander beleef... maar een ding, ongehoorsaamheid, sal jou beslis sink. Mens kom dit maklik agter tydens berading. Die persoon is in die moeilikheid juis oor ongehoorsaamheid.
            ‘n Gelowige kan nie sommer leef na eie keuses nie. Jesus sê: “Julle is my vriende as julle (let op) alles doen wat Ek julle beveel.” Joh 15:14        
            As mens werklik afsonder om die HERE se stem en opdragte te kan hoor en dit in volle gehoorsaamheid uitvoer, dan volg goedheid en guns ons.
            Die Bybel self is ook vol opdragte wat ons in gehoorsaamheid moet uitvoer, byvoorbeeld: “Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.” Kol 3:19
            En: “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die HERE welbehaaglik. Kol 3:20
            En: “Vaders, moenie julle kinders terg (moenie met hulle aanhou fout vind) nie, sodat hulle nie moedeloos word nie. Kol 3:21.
Daar is talle meer. Maak self die lys.
            Sal jy dit alles in volle gehoorsaamheid kan onderhou? Natuurlik want jy onderwerp jou aan die Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
            As mens tydens berading vra, dan sê mense nee, hulle ken nie vir Asa nie, weet niks van hom af nie. As mens vir hulle sê: “Wanneer ek so na jou storie luister, dan is jy ‘n Asa,” dan wil hulle gou alles oor Asa gaan lees... om in weemoed te erken: “Ja, ek is ongehoorsaam.”
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:12-13