Maandag 10 April 2017

Is jy Jesus...?


Image result for apples on a table

‘n Paar jaar gelede het ‘n groep verkoopsmanne ‘n streekskonferensie in Chicago bygewoon. Almal wou vroeg daardie Vrydagmiddag terug by die huis wees, betyds vir aandete saam met hul gesinne.
            In hulle haas by die lughawe om die vlug terug huis toe te haal, het hulle ‘n tafel raak geskop waarop die mooiste appels pragtig uitgestal was. Appels het die lughawe se vloer vol gerol.
            Hulle het nie gestop of teruggekyk nie, net gehol om nie die vliegtuig te verpas nie. Almal was betyds aan boord... almal behalwe een.
            Toe hy terugkyk, sien hy die meisie wat die appels verkoop se tafel lê onderstebo. Hy het vir kollegas gesê hulle moet maar vlieg, hy gaan eers terug om te sien wat hy aan die skade kan doen. Hulle moes net sy vrou bel en laat weet wat gebeur het. Hy sou met ‘n later vlug terugkeer.
            Die appels het oral deur die lughawe op die vloer gelê. Hy was bly toe hy by die 16-jarige meisie kom. Sy was blind. Sy het saggies gehuil. Trane het oor haar wangetjies gerol terwyl sy hulpeloos op die vloer mistas na appels. Die passasiers het deur die lughawe gestroom, maar niemand het haar gehelp nie, eerder die appels verder geskop.
            Die verkoopsman het op die vloer langs haar gekniel en appels bymekaar begin maak. In die proses sien hy baie van appels is te erg beskadig om weer te verkoop. Daardie appels het hy eenkant in ‘n ander mandjie gesit.        
            Toe alles opgetel was, het hy sy beursie uitgehaal en vir haar R500 gegee om te vergoed vir die skade. Hy wou weet of sy tevrede is en deur die trane het sy “ja” probeer sê. Hy het gesê: “Ai, ek hoop nie ons het jou dag te sleg gemaak nie,” omgedraai en gestap om ‘n vliegtuig te probeer haal.
            Toe hy begin wegstap roep die meisietjie agter hom aan: “Meneer!” Hy kyk vir ‘n tweede keer in haar verwilderde blinde ogies vol trane. Toe vra sy hom: “Is jy Jesus?”
            Hy het mooi met haar gepraat en gesê: “Nee, ek is glad nie soos Jesus nie. Jesus is liefdevol, Hy gee om, Hy is goed, Hy sou in die eerste plek nie jou tafel onderstebo geloop het nie.”
            Sy het haar koppie geknik en gesê: “Ek het maar net gevra want ek het gebid Jesus moet my asseblief kom help om die appels op te tel. Hy het vir oom gestuur omdat Jesus weet jy is nes Hy – net Jesus weet wie Sy wil sal uitvoer. Dankie dat oom Jesus se stem gehoor het.”
            Hy het gegroet en hierdie keer stadig weggestap, verdwaas. Op pad na vliegtuig en tydens die vlug, sny die vraag hom deur murg en been: “Is jy Jesus?”                                    Maak mense met my  en jou ook die “fout” om ons vir Jesus aan te sien? Die wêreld is blind vir Jesus se liefde, lewe en genade.
            As ons sê dat ons gered is, is ons soos Jesus? As ons Jesus regtig ken, dan sal ons soos Hy wees want ons is veronderstel om in Sy voetspore te volg.
            Dit baat nie ons ken Skriftuurplase  en ons is nie soos Hy nie. Ons is die appel van Sy oog, al is ons ook gekneus en stukkend van die val. Hy het ook gestop met wat Hy ook al mee besig was en ons as stukkende appels opgetel en op Golgota die prys daarvoor betaal.
            Is jy Jesus?