Dinsdag 14 Januarie 2020

Net Liefde sal die deurslag gee



Die jaar 2020 het vir baie Suid-Afrikaners met uitsonderlike en jubelende goedheid en guns afgeskop.

            Mildelike reën sak steeds in verskeie droogte geteisterde dele uit. Baba’s is gebore, huwelike voltrek. Duisende matrieks se gemoed loop oor van vreugde en studentestraal in gradeglans.

            Goeie nuus. Wonderlike gebeure, Lofsange tot God in sy Almag. Onder gelowiges heers opgewondenheid en afwagting op die Wegraping... nou, 40 jaar nadat Jerusalem polities en staatkundig tot hoofstad van Israel verklaar is.

            Baie ander egter, het 2020 met tragedie en hartseer binnegegaan. Onskuldige kindertjies is dood en in Iran sterf 176 passasiers in ‘n Boeing 737 ramp toe die vliegtuig “per ongeluk” afgeskiet is.           

            Die dood van drie driejarige Tia van Blerk van Upington, die eenjarige Juane Greeff van Vredefort en die tweejarige Malan Holtzhauzen van Graaff-Reinet, laat  mens aan die verhaal jare gelede in Kaapstad dink waar ‘n tweejarige dogtertjie van ‘n mediese dokter en sy vrou deur ‘n ambulans doodgery is.

            Die egpaar besluit op ‘n oorsese vakansie om oor die verlies van hul pragtige dogtertjie te kom.

            Hulle reis begin met ‘n drie wekelange verblyf in die Alpe in Switserland.

            Hulle gaan stap elke oggend voor ontbyt. Een plek moet hulle effe spring om oor ‘n waterstroompie te kom. ‘n Herder met sy skape het ook soggens daarlangs verby gekom.

            Sowat ‘n week later het ‘n gletser in die nag afgekom en die stroompie het ‘n sterk stroom geword. Hulle was huiwerig om daardeur te stap.

            Toe kom die herder met sy skape aan en hulle besluit om te wag en te kyk wat hy en sy skape gaan doen.

            Die herder het ‘n klein lammertjie geneem en deur die stroom gestap. Toe hy die lammetjie aan die anderkant neersit het die lammetjie dadelik begin blêr. Die ooi het toe deur die stroom beweeg na haar lammetjie toe.

            Die toneel het die dokter en sy vrou stom gelaat. Hulle het in grootste stilte en diepe bepeinsing teruggestap na die hotel toe.

            Terug in hulle kamer het hulle gaan bid. Beide het die Boodskap gekry: Die HERE het hulle lammetjie ook net oorkant toe geneem om seker te maak, hulle kom self ook daar.

            Die egpaar het die ses maande vakansie net daar kanselleer en in grootse oorwinning en Goddelike verheerliking teruggekeer SA toe.

            Hou op iemand blameer, beledigings rondslinger, fout soek. Dra mekaar se laste en bid vir mekaar.  Gal 6:2  “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” Wat is die wet van Christus? Jak 2:8  “As julle ewenwel die koninklike wet (liefde) volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” – Wekroep