Wys tans plasings met die etiket Ewige liefde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ewige liefde. Wys alle plasings

Dinsdag 14 Januarie 2020

Net Liefde sal die deurslag gee



Die jaar 2020 het vir baie Suid-Afrikaners met uitsonderlike en jubelende goedheid en guns afgeskop.

            Mildelike reën sak steeds in verskeie droogte geteisterde dele uit. Baba’s is gebore, huwelike voltrek. Duisende matrieks se gemoed loop oor van vreugde en studentestraal in gradeglans.

            Goeie nuus. Wonderlike gebeure, Lofsange tot God in sy Almag. Onder gelowiges heers opgewondenheid en afwagting op die Wegraping... nou, 40 jaar nadat Jerusalem polities en staatkundig tot hoofstad van Israel verklaar is.

            Baie ander egter, het 2020 met tragedie en hartseer binnegegaan. Onskuldige kindertjies is dood en in Iran sterf 176 passasiers in ‘n Boeing 737 ramp toe die vliegtuig “per ongeluk” afgeskiet is.           

            Die dood van drie driejarige Tia van Blerk van Upington, die eenjarige Juane Greeff van Vredefort en die tweejarige Malan Holtzhauzen van Graaff-Reinet, laat  mens aan die verhaal jare gelede in Kaapstad dink waar ‘n tweejarige dogtertjie van ‘n mediese dokter en sy vrou deur ‘n ambulans doodgery is.

            Die egpaar besluit op ‘n oorsese vakansie om oor die verlies van hul pragtige dogtertjie te kom.

            Hulle reis begin met ‘n drie wekelange verblyf in die Alpe in Switserland.

            Hulle gaan stap elke oggend voor ontbyt. Een plek moet hulle effe spring om oor ‘n waterstroompie te kom. ‘n Herder met sy skape het ook soggens daarlangs verby gekom.

            Sowat ‘n week later het ‘n gletser in die nag afgekom en die stroompie het ‘n sterk stroom geword. Hulle was huiwerig om daardeur te stap.

            Toe kom die herder met sy skape aan en hulle besluit om te wag en te kyk wat hy en sy skape gaan doen.

            Die herder het ‘n klein lammertjie geneem en deur die stroom gestap. Toe hy die lammetjie aan die anderkant neersit het die lammetjie dadelik begin blêr. Die ooi het toe deur die stroom beweeg na haar lammetjie toe.

            Die toneel het die dokter en sy vrou stom gelaat. Hulle het in grootste stilte en diepe bepeinsing teruggestap na die hotel toe.

            Terug in hulle kamer het hulle gaan bid. Beide het die Boodskap gekry: Die HERE het hulle lammetjie ook net oorkant toe geneem om seker te maak, hulle kom self ook daar.

            Die egpaar het die ses maande vakansie net daar kanselleer en in grootse oorwinning en Goddelike verheerliking teruggekeer SA toe.

            Hou op iemand blameer, beledigings rondslinger, fout soek. Dra mekaar se laste en bid vir mekaar.  Gal 6:2  “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” Wat is die wet van Christus? Jak 2:8  “As julle ewenwel die koninklike wet (liefde) volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” – Wekroep

Saterdag 11 Mei 2019

Die Liefde moet heers



Petrus waarsku: “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter (hoekom?), om te kan bid.” 1 Pet 4:7

            Dit sê Petrus 2 000 jaar gelede, maar hy besef daar gaan ‘n tydsverloop plaasvind en voeg by: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die HERE soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

            “Die HERE vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
2 Pet 3: 8-9

            Petrus sê ook dat ons hierdie tydsgaping soos volg moet vul: “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek.

            “Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer.

“Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.

“As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle Ewigheid. Amen.” 1 Pet 4:8-11

            Ons sien hoe Eindtydse gebeure reg oor die wêreld afspeel. Ons weet wat aangaan, maar die  wêreld raak benoud.                                                 

            Die Jode is bv. terug in Jerusalem en die rebelle nasies van die wêreld maak gereed vir oorlog teen die Jode.  Alles wat geprofiteer is, gaan in vervulling.

            Ons is in die eindvak van dit wat Petrus na verwys het. Maar let tog op na hoe ons hierdie interim tydvak moet optree.

            Laat die Liefde heers. – Wekroep

        

Vrydag 21 September 2018

Die enigste voorwaarde....


Image result for Jes 54:10


As ons Hom getrou dien…

Dr. H. A. Ironside van Stockton, Kalifornië preek een keer oor Christus se Wederkoms.

            Hy vertel, in sy slotgebed dank hy die HERE oor die vooruitsig van die Here Jesus se Wederkoms. Hy bid: "Kom, ja, kom gou Here Jesus!"

Hy word bewus van 'n vrou wat opstaan en haastig uit die kerk uitstap.

Na hy die diens afgesluit het, het hy na die uitgang gegaan om soos gewoonlik die kerkgangers by die deur te groet.

‘n Vrou dam hom by:  "Hoe durf jy so 'n gebed bid - Kom Here Jesus? Ek wil nie hê Hy moet kom nie! Dit sal al my planne verongeluk! Hoe durf jy so bid?"

Hy antwoord haar: "My liewe mens, Jesus kom weer of jy daarvan hou of nie. As jy Hom ken en lief is vir Hom, sal jy Hom met bludskap verwag.”

Jesus het altyd oor Sy Wederkoms gepraat as iets baie goeds wat met ons gaan gebeur. Al die ellende en geweld en swaarkry wat hierdie lewe so moeilik maak, sal verby wees.

Kyk wat belowe die HERE nog: “Gewis, Sy heil (redding) is naby die (let op) wat Hom vrees (dien), sodat heerlikheid in ons land kan woon.

Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.

Trou spruit uit die aarde en geregtigheid kyk uit die Hemel neer.

Ook gee die HERE die goeie, en ons land lewer sy opbrings.

Geregtigheid gaan voor Hom uit, en dit let op die weg van sy voetstappe.” Ps 86:10-14.

Die voorwaarde? Vir diegene wat Hom dien! Dien die HERE voluit en bemoedig andder om dit ook te doen.

En verder: “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar My goedertierenheid sal van jou nie wyk en My vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.” Jes 54:10

Vir ons wat Hom verwag, sal Hy nie kom soos ‘n dief in die nag nie. Ons wag vir Hom met lampe wat oorloop van die olie.

As ons Hom getrou dien, kan ons ook verwag dat die situasie in die land sal omkeer. – Sjibbolet