Dinsdag 28 Januarie 2020

Veilig in Jesus hoede


Die Oordeelsdaghorlosie staan nou op 100 sekondes voor middernag. Die waarskuwing oor die Vyf Dwase maagde staan vas, maar so ook die verskonings:

·       Ek het my kerk

·       Ek gehoorsaam die 10 Gebooie

·       Ek is gedoop

·       Ek bid elke dag die Onse Vader

·       My pa was ‘n predikant, ek is okei

·       Ek is elke Sondag in die kerk

·       My ma en my ouma bid gereeld vir my

·       Ek lees die Bybel gereeld



Die wêreld se top wetenskaplikes het die Oordeelsdaghorlosie  in 1947 begin om te wys hoe naby die wêreld aan globale vernietiging is.

            Dit is bepaal ingevolge die vervaardiging en bedreiging van kernwapens. Ander wêreld bedreigde faktore word ook in aanmerking geneem. Die afgelope tyd egter is daar ‘n hernude toename in die vervaardiging van kernwapens en deur meer lande... en uiters gevaarlike hande.

            Ons weet dat ons reeds in die Eindtyd is soos wat Jesus dit voorspel het in Matt 24.

            Die rits verskonings aan die begin van hierdie  skrywe, is wat ons elke dag moet aanhoor wanneer ons met iemand oor die Ewige Lewe wil praat. Dink jy nou waaragtig jy sal met sulke simpele praatjies die Ewigheid kan binnegaan en gered word!

            Openb 3:16 noem jou lou. Let egter op, daar is voorsiening vir diegene wat koud is, maar nie vir die wat lou is nie.

            Let op: Die vyf dwase maagde. Hulle was Christene in die kerk... Christene met ‘n gedaante van godsaligheid. 1 Tim 3:5 Die dwases het ook op die Bruidegom se koms gewag. Hulle was maagde, hulle had ook lampe,

maar te min olie.

            Paulus sê vir die Galasiërs: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:16-17). Die vlees moet gekruisig word (Luk. 9:23; Gal. 6:14) en ons moet met die Gees vervul word sodat Hy ons lewens kan beheer en lei.

            Daar is baie opdragte in die Nuwe Testament dat Christene met die Heilige Gees VERVUL moet word (vgl. Hand. 6:3; Ef. 5:18). Nie almal voldoen egter aan hierdie opdragte nie, en daardeur tree hulle dwaas op. Paulus noem sulke persone in 1 Kor. 3:1-3 vleeslike Christene. Hy sê vir hulle: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.” Hulle wandel nie deur die Gees nie en doen dus nie werke wat die Here behaag nie.

            Kyk maar weer na die lys van verskonings. Niks op daardie lys gaan jou kannetjie vol olie maak nie.

            Die vereiste is om VOL van die Heilige Gees te wees, nie net halfpad of gedeeltelik nie, maar VOL: Luk 4:1; Hand 6:3; Hand 7:5; Hand 11:24.

            Die einde van alles spoed op ons af. Maak nou daardie nodige volle oorgawe.

            “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Jes 1:18