Wys tans plasings met die etiket duisternis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket duisternis. Wys alle plasings

Donderdag 12 Desember 2019

Die man steek die donker vol gate


Dis donkeraand. Die verlamde seuntjie sit voor sy slaapkamer se venster. Hy verkyk hom aan die man wat die lampe van paal tot paal in die straat aansteek.

            Toe sy ma hom gereed wou maak om te gaan slaap, vra sy: “Waarna staar jy so aandagtig deur die venster?” Hy antwoord: “Ek kyk na die man hier buite wat gate in die donker nag in steek.”

Die Diamantstad Kimberley had sy eerste elektriese straatligte in 1882 en was die eerste stad in Afrika met elektriese straatligte. In daardie stadium had London steeds gaslampies vir straatligte.

            In die dae voor elektriese straatligte, moes die gas- of paraffienlampe, met sononder een vir een, deur 'n lampaansteker aangesteek word, en die volgende oggend, weer gedoof word.

            Die Sunday School Times vertel van so 'n lampaansteker, 'n onverskillige jongman, wat een aand, op sy rondte om die lampe aan te steek, by die Heilsleër se opelugdiens verbyloop, die Evangelie hoor en tot bekering kom.

Sy geestelike lig is daardie aand deur Jesus aangesteek. Een van sy vriende, 'n ware drinkebroer, spot later met hom, omdat hy nou so godsdienstig geword het, dat hy nie meer met die 'manne' wil uitgaan en jolyt hou nie.

            "Jy weet wat my werk is," sê Jesus se nuwe volgeling vir sy vorige maat. "Soggens voor sonop, begin ek straatop gaan om lampe dood te maak. Dan lê die straat, soos ek vorder, donker agter my. Dit is hoe my lewe eers was, 'n donker verlede. Kyk ek vorentoe, sien ek 'n lang ry skynende ligte voor my. Dit is hoe my toekoms nou lyk, na ek Jesus in my lewe laat inkom het."

"Dis goed en wel," antwoord die vorige maat, "maar dis nie lank nie of jy maak die laaste lamp ook dood en dan is dit ook maar weer donker. Waar is jy dan met jou danige Jesus?"

"Dis waar," antwoord die lampwerker, "maar dan kom die son op en ek het nie meer lampe nodig om vir my lig te maak nie. Jesus is nou die lig in my lewe en na my laaste dag, op aarde, gaan ek na Hom toe in Sy ewige Hemel."

            Die Nuwe Testament beklemtoon hierdie bemoedigende waarheid. "Die volk wat in duisternis woon, het 'n groot lig gesien... vir hulle het die lig opgegaan." Matt 4:13-16.

"Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die HERE is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is." Efes 5:8

Dit is elke geredde mens se verwagting van die ewige Hemel: "Die stad het nie die son en maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig en die Lam is sy lamp." Openb 21:23

Op 'n dag doof elkeen van ons se lewenslig. Vir elkeen in wie se lewe die Here Jesus as Verlosser ingekom het, kom die son van Ewige Lig dan op.

  Intussen is daar ‘n getal om vol te maak. Is jy die Lampaansteker vir Jesus in jou lewensstraat?

Kyk hoe donker is hierdie land van ons. Daar is ‘n paar Gelowiges wat gate in die duisternis steek, maar vele meer is nodig. As jy bely dat jy kind van God is, dan word verwag dat jy ‘n lampaansteker sal wees.

“Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik. “

Komaan, steek die donker vol gate. – Wekroep