Wys tans plasings met die etiket ouers se plig teenoor kinders. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket ouers se plig teenoor kinders. Wys alle plasings

Vrydag 23 September 2016

Pa: Veel Meer as ’n Broodwinner


Image result for dad playing with his kids


Pa: Veel Meer as ’n Broodwinner
Deur dr. Kevin Smith


Tot baie onlangs het alle literatuur oor ouerskap die hele kwessie van moe­derskap geïdealiseer en vaderskap heeltemal oor die hoof gesien. Met die nuut­ste navorsing oor die gesin het daar ’n baie besliste skuif plaasgevind en die persepsie is nou dat vaders ’n baie groot bydrae t.o.v. sowel kinder- as volwasse-ontwikkeling kan lewer (Mary Pickard-verslag, 1998).

Die gemeenskap besef uiteindelik dat vaders net so ’n belangrike rol speel ten einde die gesonde ontwikkeling van hul kinders te verseker. Hul rol strek veel verder as bloot dié van tradisionele stereotipe broodwinner. Navorsing wys toenemend op die voordele van kinders met gesonde vader-kind-verhoudings. Volgens George Rekers, professor in Neuropsigiatrie en Gedragswetenskappe, Navorsingsdirekteur vir Kinder- en Adolessentpsigiatrie en voorsitter van die Fakulteit Sielkunde aan die University of South Carolina School of Medicine, is daar ’n definitiewe korrelasie tussen ’n positiewe en volhoubare verhou­ding met die vader en ’n goeie selfbeeld, hoë selfvertroue in persoonlike en sosiale interaksie, hoë morele volwassenheid, verminderde tienerswangerskappe, groter interne beheer en hoër loopbaanaspirasies.

Vaders wat liefdevol, sorgsaam en aktief betrokke is by die grootmaakproses se kans op goed-aangepaste kinders is veel groter as die wat nie betrokke by hul kinders is nie. Die vernietigende gevolge van ongesonde vader-kind-verhoudings is nét so goed gedokumenteer. Die afwesigheid van ’n vader lei by seuns tot toenemende aggressie en/of vroulikheid. Maritsa van Loggerenberg, ’n sosiale werker by St Albans Maksimum Veiligheidsgevangenis in Port Elizabeth, beraam dat ongeveer 90% van al die gevangenes met wie sy werk, sonder ’n vaderfiguur grootgeword het.

Alhoewel die media dikwels op die negatiewe fokus, het daar ook die afgelope paar dekades positiewe veran­deringe plaasgevind t.o.v. persepsies van die vader se rol. Die tradisionele beeld van die vader as ’n emosioneel-verwyderde broodwinner en streng dissiplinêre gesagsfiguur het plek gemaak vir ’n vaderfiguur wat ook ’n opvoedingsrol in die kinders se lewens speel. As Christene verwelkom ons hierdie positiewe verandering. Die Woord van God verminder vaderskap nooit tot ’n enkele funksie of metafoor nie, maar beklemtoon tog sommige van die belangrike rolle wat vaders behoort te aanvaar. Ek wil graag vyf hiervan noem.

Pa as pastorale begeleier
Theodore Hesburgh het eerste die woorde wat deesdae ’n beradingspreuk is, geui­ter: ‘Die belangrikste ding wat ’n pa vir sy kinders kan doen, is om hul ma lief te hê.’ So waar en belangrik as wat hierdie woorde is, is daar iets belangriker wat deur die Woord van God uitgelig word – Die belangrikste wat ’n pa vir sy kinders kan doen, is om die “Here jou God met jou hele hart lief te hê,” Deut 6:4-5 en “Herhaal hierdie woorde oor en oor vir julle kinders.” Deut 6:7.

Indien ’n pa die leiding neem en God liefhet en dien, is dit hoogs waarskynlik dat die kinders sy voorbeeld sal volg. Navorsing deur die Christian Business Men’s Committee het gevind dat ’n pa wat ’n aktiewe gelowige is, se kinders ’n 75% groter kans het om ook aktiewe gelowiges te wees. Wanneer slegs die ma ’n gelowige is, is die kans dat die kinders die Here dien, slegs 15%. As Christen-pa’s is ons geroep om pastorale begeleiers in ons huise te wees – mans wat God passievol liefhet en dien en wat hul gesinne in aanbidding van die Here Jesus Christus kan lei.

Pa as lewensafrigter
Onderrig van veral seuns is ook Pa se verantwoordelikheid. Dit sluit die onderrig van die weë van God (Deut 6:4-9), maar ook die onderrig van praktiese lewensvaardighede – goeie maniere, werksetiek, morele waardes, verhoudings met vrouens, gesinsfinansies en sakevernuf in. (Spr 1-9). Vaders behoort lewensafrigters te wees. Die hedendaagse slaggat is om hierdie ‘afrigtings­rol’ aan die kerk, die skool of selfs die televisie oor te laat. Vaders voel hopeloos ontoereikend toegerus vir hierdie be­langrike taak as lewensafrigter en los dit dus veel eerder vir ‘opgeleide, professionele mense’.

Ons vergeet egter in die proses dat ons vir ons jong kinders amper soos God is. Jou dogter glo elke woord wat jy sê en jou seun klou vas aan absoluut alles wat jy sê en doen. Vir jou kinders is jou gesag feitlik net soos God s’n. God het dit so beskik, want hy het pa’s geroep as die ‘lewens­afrigters’ in hul kinders se lewens. Sommige pa’s, egter, verwar ‘afrigting’ met ‘kritiek’. Ek onthou die televisie-onderhoud wat ek eens met ’n wêreldgehalte sportman gekyk het. As kind het sy pa hom verskriklik gedryf om die hoogste sport te bereik. Na elke wedstryd sou sy pa hom na die park neem en elke iedere foutjie wat begaan is, uitwys en hom tot sononder dril om dit uit te skakel.

Hy onthou: ‘Die meeste seuns het voor die wedstryd ’n hol kol op die maag gekry; myne het altyd na die wedstryd gekom omdat ek geweet het wat wag.’ Hy het verder onthou dat dit vir hom baie erger en meer stresvol was om sy pa na die tyd in die oë te kyk as enige span waarteen hulle te staan sou kom. God roep vaders op om afrigters te wees, nie kritici nie, om op te bou en nie af te breek nie!

Pa as bemoediger
Elke seun verlang na sy pa se goedkeuring en versekering dat hy trots is op hom en ’n dogter verlang sy goedkeuring in alles. Ma s’n is verseker – dis maklik om haar goedkeuring en trots te kry. Pa s’n is egter heeltemal ’n ander storie. As seun was dit vir my uiters noodsaaklik dat my pa trots op my sou wees. Ek het tog geleef met die gevoel dat hy was – en dit het my met moed en selfvertroue gevul.

’n Baie goeie vriendin het ook daarna verlang dat haar pa haar sou vertel dat sy pragtig is en dat hy bly is dat sy sy dogter is. Sy het egter nooit sy onvoorwaardelike, heelhartige goedkeuring en aanvaarding ervaar nie – en haar hart smag nou nog daarna.

John Eldredge, skrywer van ‘Wild at Heart’ glo dat elke seun nodig het om van sy pa te hoor dat hy dit in hom het om ’n ware man te word en elke dogter moet van haar pa hoor dat sy pragtig is en werd is om bemin te word. Indien hulle nie hierdie bevestiging van hom kry nie, sal hulle dit op ander plekke gaan soek. Dit maak nie saak hoe oud ons is of hoe ver ons van ons pa’s af weggedryf het nie, ons verlang nog steeds na hul goedkeuring. ’n Spaanse pa se verhouding met sy seun het so gespanne ge­raak dat die seun weggeloop het. Sy pa het besluit om hom te gaan soek. Hy het maande lank gesoek – sonder enige sukses. Uiteindelik, in ’n laaste poging om sy seun te kry, het hy ’n advertensie in die Madrid-koerant geplaas. Dit het gelees: ‘Liewe Paco, ontmoet my Saterdag om 12-uur voor die koerantkantoor. Alles is vergewe. Ek is lief vir jou. Pa.’

Twaalfuur die betrokke Saterdag was 800 Paco’s daar om Pa se liefde en goedkeu­ring te ervaar! ’n Deel van God se opdrag aan pa’s is om hul kinders van hul heelhartige goedkeuring en steun te verseker. Ons seuns moet weet dat ons trots is op hulle – hulle moet weet dat hulle vir ons die beste seuns in die wêreld is en dat hulle dit beslis in hulle het om ware mans te word. Kom ons laat ons dogters voel dat hulle prinsesse is – pragtig en waardig om bemin te word.

Pa as wetstoepasser
Dissipline is ’n aspek van die pa se liefde wat ons moontlik nog in hierdie generasie kan verloor. My predikant het onlangs van die VK teruggekeer met ’n skokkende verslag oor die gebrek aan dissipline onder kinders. Die Bybel is baie duidelik: “Hy wat sy seun nie dissipline leer nie, het hom nie regtig lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom dissiplineer.” Spr 13:24.

As liefdevolle pa’s is dit ons plig om toe te sien dat die toepaslike reëls in die huis geld. Hoe dit ook al ons harte skeur – en dit behoort - sal dit net erger wees indien ons dit nie doen nie. Na jare se hantering van rebelse tieners, het die Houston Polisie die volgende saamgestel: Reëls om misdadige kinders groot te maak.

Begin al kleintyd – gee die kind alles wat sy/haar hart begeer. So word hulle groot en glo die wêreld skuld hulle alles.

Wanneer hulle vloekwoorde gebruik, lag daaroor. Dit sal hulle laat dink hulle is oulik. Dit sal hom/haar ook aanmoedig om ander woorde aan te leer wat jou later uit jou sinne sal skok.

Tel alles op wat hulle laat rondlê – boeke, skoene, klere. Doen alles moontlik vir hulle, so sal hulle leer om alle verantwoordelikheid te ontduik.

Laat hulle enigiets lees. Maak net seker jou eetgerei is skoon en kiemvry, maar laat hulle enige gemors waarop hulle hul hande kan lê, lees.

Kies die kind se kant teen bure, onder­wysers en selfs die polisie. Hulle is almal tog bevooroordeeld teenoor jou kind.

Ons moet wrede, roekelose, outoritêre dissipline verwerp, maar indien ons die regte dissipline ignoreer, faal ons om ons kinders op God se manier lief te hê. Kinders floreer indien hul pa’s hulle lief genoeg het om Goddelike grense te stel en toe te sien dat dit konsekwent en met sorg toegepas word.

Pa as kameraad
Indien hulle voor die keuse gestel word, sal ons kinders beslis tyd saam met Pa bo enige speelgoed kies. Hulle wil veel eerder ons tyd as ons geskenke hê. En laat ons nou maar nie onsself bluf nie: gehaltetyd beteken ook genoeg tyd! Gehalte-oom­blikke vind plaas indien ons genoeg tyd saam met ons kinders spandeer.

Charles Francis Adams, ’n politieke fi­guur en diplomaat uit die 19de Eeu, het dagboek gehou. Eendag het hy geskryf: ‘Het vandag saam met my seun gaan visvang – dag gemors.’ Sy seun, Brook, het ook dagboek gehou en op dieselfde dag die volgende inskrywing gemaak: ‘Vandag saam met Pa gaan visvang – die lek­kerste dag van my lewe!’ Tyd saam met ons kinders mag moontlik voel asof dit gemors is, maar slegs die ewigheid sal kan wys dat dit moontlik ’n belegging met die grootste opbrengs was.

Toekomsbelegging
Navorsing aan die Cornwall Universiteit het getoon dat gemiddelde pa’s ongeveer 38 sekondes per dag aan hul kinders afstaan waarin hulle onverdeelde aandag kry en ongeveer 20 minute per dag verdeelde aandag. Dieselfde kinders spandeer 54 uur per week voor die televisie. Verdere navor­sing het getoon dat die gemiddelde kerkgaande tiener ongeveer twee minute per dag in gesprek met hul pa’s spandeer. 25% van hierdie tieners verklaar dat hulle nog nooit ’n sinvolle gesprek met hul pa’s gehad het nie, m.a.w. ’n gesprek waar daar op hulle belange en behoeftes gefokus word nie. Ons kinders het ons nodig om daar vir hulle te wees – om na hulle te luister, om saam met hulle te lag, om net eenvoudig by hulle te wees.

Hulle wil graag hê ons moet vir hulle sê, deur die tyd wat ons aan hulle afstaan, dat hulle ons grootste prioriteit is, belangriker as die koerant, die tuin, rugby, die werk en selfs kerkaktiwiteite. Ek het hier slegs bo­langs aan die Bybelse rol van pa’s geraak. Ek kon nog baie ander fasette byvoeg – Pa as beskermer, voorsiener, gebedstryder – maar as ons as pa’s net bogenoemde vyf rolle aanvaar, wat ’n belegging sal dit nie wees in die lewens van ons kinders nie! God het hulle aan ons sorg toevertrou! – Die artikel het ‘n tyd gelede in die tydskrif “Juig” verskyn en word met Juig se toestemming  asook die toestemming van dr. Kevin Smith, verder versprei. http://www.juig.co.za/

Dinsdag 28 Julie 2015

Ouers – Wees getrou aan God


Image result for godly parents

“Die roede en die bestraffing gee wysheid ; maar ‘n seun wat aan homself
oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.” – Spreuke 28:15

“Tugtig jou seun, want daar is hoop…”  – Spreuke 19:18

“Hou die tug nie terug van die kind nie, as jy hom met die roede slaan sal
hy nie sterwe nie.

Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” –
Spreuke 23:13-14.
Daar is iets hemels, iets onskuldig, iets wonderlik omtrent klein kindertjies.  Hulle is gawes van God en geen geld kan hulle koop nie.

Maar elke klein kindjie het ook iets sondig in hom.  Elkeen van hulle het ‘n natuur wat, as dit nie ingeperk word nie, handuit ruk met ontsettende gevolge. Ps. 58:4.

Omdat God mense straf oor sonde, en selfs Christene daaroor tugtig, sal dit verwaand wees van ons as ouers as ons sommige opvoeders glo wat sê dat kinders nie getugtig mag word nie.  Die kinders moet glo net met liefde grootgemaak word.

Natuurlik moet daar ‘n oorvloed van liefde in ‘n gesin wees, maar die roede beskerm dit juis en bou die liefde uit.
Om ‘n kind vir elke bakatel te slaan, is net so verkeerd as om hom nie te tugtig wanneer dit nodig is nie.  Om hom te tugtig sonder rede of sonder om rede te verskaf, is ook verkeerd.

Die Bybel leer duidelik dat ‘n roede gebruik moet word. Mens slaan nie ‘n kind met jou plat hand of vuis nie.  Jou hande is gegee om mee te seën, te genees.  Die praktyk het geleer dat selfs ‘n hond respek vir ‘n mens verloor wat hom met die hand in plaas van ‘n neutrale voorwerp slaan.

Die wêreld, ook SA, se immorele en kriminele jeugbendes is die produk van ouers wat nagelaat het om hulle kinders te tugtig, te leer en te dissiplineer.
Dit is die plig van ouers om kinders vir die Hemel voor te berei, veral ook omdat hulle dit as ‘n belofte aan God afgelê het. Tugtiging is en bly aller noodsaaklik.  Ook op skool. ‘n Geregverdigde ses-van-die-bestes in die skoolhoof se kantoor het geen kind kwaad aangedoen nie.

Volwassenes wat as kinders getugtig, geleer en gedissiplineer was, sê vandag almal dat dit die beste ding was wat hulle as kinders oorgekom het.
Tugtiging en dissipline is ‘n noodsaaklike komponent by die vorming van ‘n kind se karakter. Spreuke 22:15 sê:  “As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.”

Daardie eie wil is die wortel van alle sonde en ellende.  Wat dit ook al in kinders aanvoor het nadelige nagevolge, selfs geestelik.  Wanneer daarteen opgetree word, bevorder dit hul toekomsgeluk en vroomheid.
Die Christen Godsdiens is niks anders nie as om die wil van God te doen.  Ouers het ‘n plig teenoor God en teenoor hulle kinders om God se wil te doen.  Volwassenes wat ook ‘n eie wil in plaas van God se wil openbaar, pluk net wrange vrugte daarvan.
Die korrekte opvoeding van kinders lê die fondament vir die pad na die Hemel.  Die enigste ander pad is die een oor die afgrond na die hel.
Spreuke 13:24 sê:  “Wie sy roede terughou, haat sy seun, maar hy wat sy seun liefhet, besoek hom met tugtiging.”
Vaders is die hoë priester van hul gesinne.  Vader Abraham is ons voorbeeld in Gen. 18:17-19. God het Abraham gekies omdat Abraham gewillig was on sy gesin die weë van God te leer.  Die gesinslewe is die pilare van ‘n Christenvolk.

Vaders moet hulle gesinne die Woord van God leer. Deut. 4:9,10.  Die Woord is die grondslag van die Goddelike gesprek en leefwyse. Deut. 6:6-9. Spreuke 4:1-4 is nog ‘n voorbeeld van ‘n vader wat sy seun leer.
Die man is hoof van sy vrou – 1Kor. 11:3,4.  Hulle moet hulle vroue liefhê – Efes. 5:25.  Hulle moet hulle vroue eer – 1Pet. 3:7.  Hulle moet hulle huise goed regeer – 1Tim. 3:4 en 12.
God het ‘n orde geskep wat soos volg lyk: God self, die Engele, die man, die vrou, die kinders, die diereryk, planteryk en mineraleryk.  Niemand durf hierdie orde omver gooi nie.

Moeders baar kinders en leer hulle – 1Tim.5:14.  Hulle bring hulle kinders na Jesus Christus – Mark 10:13-16.  Hulle moet hulle kinders leer oor geloof en ‘n sterk geloof openbaar – 11 Tim.1:5 en 3:15.
Ouers moet hulle kinders leer – Spreuke 22:6. Hulle moet die kinders korrigeer – Spreuke 13:24; 19:18; 22:15; 23:13.  Hulle moet aan die kinders voorsien – 11 Kor. 12:14.
Kinders weer, moet hulle ouers eer – Deut. 5:16 en Efes. 6:12.  Kinders moet gehoorsaam wees – Efes. 6:1.  Kinders moet God dien – Pred. 12:1. Die jongmanne moet nugter en verantwoordelik wees. Tit. 2:6-8.
‘n Mens sonder beginsels, is ‘n beginsellose mens. ‘n Volk sonder beginsels, is ‘n onbeskaafde volk.
As ‘n volk sy beginsel vergeet, oorboord begin gooi, dan verval hy in barbarisme.
As ‘n volk gesonde beginsels verwerp, word hy ‘n dweepsieke volk.
Die denkende Christen moes 30 jaar gelede – want toe was die skrif al aan die muur – sy gesonde beginsels op twee fronte verdedig het.  Hy het dit nie gedoen nie
Vandag het hy weer geleentheid om dit te doen:

Die eerste is  teen die verwaarlosing van alle beginsels wat ly tot  sosiale en persoonlike agteruitgang.

Die ander is die aanname van vals beginsels wat die wêreld in anargie dompel.
Die gevaar op die oomblik is dat ‘n groot deel van ons Christene  vergeet het dat ons Christen-beginsels ooit bestaan.
Ons moet dus onsself verdedig deur vernuwing van ons bewuste ware geestelike, morele, politieke en ekonomiese beginsels. Ons moet dit ook onverwyld in elke sektor van ons  volks-, gemeenskaps- en gesinslewe toepas.
Ons het die pligte van die vader as hoë priester van die huis verskuif na die predikant en die Sondagskool.  Die pligte van die ouers het ons verskuif na die sekulêre skool. Ons morele, volks- en ekonomiese beginsels het ons op die staat afgeskuif.
Ons het beheer oor ons self en ons eie huishoudings verloor. Ons staan skuldig voor God en ons kinders.  Ons is in ellende.
Daar is net een oplossing: verootmoediging en restitusie.  Dien weer die HERE soos dit hoort – nie ons eie wil nie, maar God se wil.  Ons het tog nou duidelik gesien waar ons eie wil ons laat beland het.  Hoe kan ons onsself nog langer Christene noem?
Daar was vyf wyse maagde en vyf dwase maagde, maar sommige van ons het nie eers lampe nie, wat nog te sê van olie hoegenaamd.

So seker as wat Christus gebore is, gaan Hy weer kom.  Kom ons wag vir Hom met reikhalsende verlange, maar as sierade en met trots! – Sjibbolet

Donderdag 02 April 2015

Moenie ons kinders vermoor nie!


Image result for lonely teenagers

Die koning van Egipte het destyds besluit dat derduisende babaseuntjies vermoor moes word. Net meer as duisend jaar later het ’n soortgelyke besluit van Herodus gelei tot die doodmaak van kinders by Bethlehem.
            Nou, 2 000 jaar later het die “konings” van al die Westerse Christenlande ook besluit dat  babas doodgemaak mag word deur middel van aborsie.
            Maar pas is in Amerika besluit dat kinders – hulle sogenaamde kinderregte ten spyt – ook geestelik vermoor mag word.
            Die Amerikaanse Hoërhof het besluit dat Federale wetgewing van 1998 wat daarop gemik was om pornografie op die Internet aan bande te lê, ongrondwetlik is.
            Die hof het besluit om pornografie vanaf die Internet te verban ‘n “skending van die regte van vryheid van spraak” sou wees.
            Intussen rol pornografiese sedebedorwende videos op die Internet voort in biljoene huishoudings wêreldwyd. Daar is letterlik meer as 800 miljoen webblaaie oor pornografie binne bereik van elke kind.
            Die Amerikaanse Kongres wou die wet van krag maak om minderjariges teen pornografie te beskerm. Mens vind dit lagwekkend en pateties dat die sogenaamde wet al in 1998 geformuleer is, en dat dit nou eers toegepas sou word.
            Die een oomblik – skynbaar wanneer dit die politici pas – word kinderregte hoog aangeskryf, die volgende oomblik loop die media oor van kinderverkragtings en kindermishandeling.
            Die Amerikaanse departement van Justisie het die wet aan die Hoërhof voorgelê sodat die hof kwansuis die wet kon beoordeel.
            Die betrokke wet maak daarvoor voorsiening dat mense wat die Internet gebruik, gedwing word om gebruik te maak van kredietkaarte of toegangskodes en persoonlike ID nommers.
            Oortreders kan tot ses maande tronkstraf en boetes van tot R300 000 per dag opgelê word.
            Die besluit  van Regter Anthony Kennedy beteken dat die Departement van Justisie niemand kan vervolg ingevolge die sogenaamde “Kinder-aanlyn Beskermingswet” nie.
            Kennedy het die saak terugverwys na die Federale Hof in Filadelfia. Daar moet kwansuis gekyk word of die blok en filter van sagteware nie “minder beperkend as die betrokke wet is nie.”
Ware Christene staan verbaas en is besorg oor die vloedgolf van permissiwiteit, pornografie en perverse immoraliteit wat oor SA en die Wester Wêreld land spoel.  Dis of die hekke van die hel oopgeswaai het en ‘n stroom dodelike gif uitgespuug het wat alles voor hom wegvee.
Nogtans is die Christen-stem stil, veral in ‘n land soos Suid-Afrika waar meer as 32 miljoen Suid-Afrikaners op hulle sensusvorms ingevul het dat hulle Christene sou wees.
Die meeste kerke neem geen standpunt nie, inteendeel, hulle akkommodeer hierdie onheile deur skielik die sedewette van die Bybel weg te redeneer met allerlei liberale denke.
Daar word elke Sondag sowat 8 000 preke in Christen kerke in SA gelewer en nog sowat 4 000 boodskappe by weeklikse bidure, maar mens hoor nie die Kerk nie.  Waar is die Kerk wat hierdie dinge moet aanpreek, wat leiding en rigting moet gee, wat standpunt moet inneem?
Sowat 3,7 miljoen Blankes alleen, het in die jongste sensus gesê dat hulle Christene is wat aan Christen-kerke behoort.  Waar is hierdie Christene?
Besef hulle nie hulle is Christene sodat hulle ‘n verskil aan ‘n land, volk en ‘n gemeenskap moet maak nie?
Besef hulle nie God hou hulle verantwoordelik vir die situasie nie?
Dit is nodig dat die profetiese stem gehoor word:  As die behoudendes nie die goddelose gaan waarsku en by God gaan intree oor hierdie alles-vernietigende toestand nie, sal God die goddeloses uitdelg, maar hulle bloed van  sal van die behoudendes geëis word. Eseg. 3: 18-21.
Die ruggraatlose, kleurlose, passiewe indiwidue staan algemeen bekend as die “Swygende Minderheid” en vorm die brug waaroor die stroom van verdorwendheid voortbeweeg om die lewens van die opkomende geslag te ondergrawe en tot ondergang te lei, om kinders soos vuilgoed oor die afgrond te stoot.
Ons handelswyse van vandag, bepaal die toekomstige toestande.  As daar nie nou dadelik opgetree word nie, gaan die Christene van SA en die Weste hulself  vernietig. Dit sal die SA en die Westerse lande se ondergang beteken.
Daadwerklike optrede kan  hopelik nog doeltreffend kan wees.  Dit is nodig dat mense teen hulself beskerm word.
Sogenaamde menseregte, in plaas van die insettinge van die Almagtige God, sê daar bestaan geen absolute norme vir sedelike gedrag nie, elke persoon het die reg om te besluit wat sy of haar gedragspatroon moet wees ten einde geluk volkome te verseker met die mins moontlike voorbedagte nadeel vir die ewenaaste – en dit, asof ‘n kind vir homself kan besluit.
            Die eindresultaat van so ‘n benadering of dan belydenis, is presies voorspelbaar.  Algemene aanvaarde gedragspatrone, gebaseer op Christen-etiese beginsels deur die eeue gehandhaaf, stort nou ineen en die sedelike spierkrag en karaktervastheid van die Suid-Afrikaners en die Weste is besig om te verkrummel.
            Die ontstellende feite van aborsies, verkragtings, geslagsiektes, dwelmverslawing, ens., bevestig die waarheid hiervan.
            Die kernwaarheid is nie dat Suid-Afrikaners as sulks so versleg het nie, maar die handelswyse wat voorheen as verkeerd beskou is, ongeag deur hoe baie of hoe min te bedryf is, word nou as algemeen normaal aanvaar!
            Ouers wat nog graag hulle kinders in ‘n gemeenskap wil laat grootword waar hulle nie aan sulke ondermynende invloede blootgestel is nie, is aan die kwyn soos wat selfs die ouers hulle nou aan welluste oorgee.
            Dank God daar is darem nog jongmense wie se helder en openhartige blik getuig van ‘n skoon sedelike lewe.  Dit is hierdie jongmense wat se denkwyse gemobiliseer moet word om nie alleen ‘n magtige bolwerk te vorm teen die permissiewe aanslag en vernietiging nie, maar om ook as doeltreffende teenwig te dien.
Daardie jeug sal deur die herinnering aan die Waarheid en die Lig, weer die suiwere gesindhede moet opwek. Die jeug is op homself aangewese wat sy toekoms betref.
Die behoud van die gesonde, sterk Christen-morele kode is nie die taak van enkele kampvegters nie.  Dit kan ook nie deur wetgewing verskans word of deur ‘n bykomende 200 000 polisiemanne aan bande gelê word nie, maar moet liewer bestendig word deur ‘n samelewing wat bewus gemaak word van die toestand van rampspoed en tot optrede geaktiveer word.
            As die bestryding van besoedeling die taak van elke regdenkende burger is, is die stryd teen die veel gevaarliker sedelike besoedeling des te meer jou (die leser hiervan) se verantwoordelikheid.
            Onheilspellende kragte is tans in SA aktief om die volbringing van ons Godgegewe bestemming teen te werk.  Die liberale geroep het veroorsaak dat ons nou in pas is met die res van die wêreld wat ook morele beperkings op literatuur, films, teater en vermaak oorboord gegooi het.
            Ons is almal skuldig want ons het toegegee en ons eie Godsdiens-oortuigings en tradisies, wat van ons ‘n nasie van erns en voorspoed gemaak het, oorboord gegooi.
            Dit is tyd dat die vroue van SA in opstand kom oor die wyse waarop die vroulike liggaam in die media, klubs, die TV en die Internet uitgebuit word deur gewetenlose geldmafia’s.
            Skooldogters moet hulle by die protes van die vroue skaar.  Studente aan ons universiteite en technikons moet ook by hierdie protes inval.
            Mans sal as die beskermer van die vrou en as hoof van die huisgesin, hulle regmatige plek moet inneem om hul gesinne in Gees en in Waarheid te lei, die liefde en die dissipline terugplaas in hul huise.
            Ouers sal moet terugkeer na die huisaltaar.
            Alle Christene sal landswyd oral gebedswake moet begin of by bestaande gebedswake moet inskakel.
            Ons almal sal moet verootmoedig, na God en Sy weë moet terugkeer, of die verbysterende en aaklige gevolge moet dra.
            Soos ‘n Jona van ouds bring ons die profesie van lewe en dood.  As Ninevé hom nie bekeer het nie, het ook hy in vlamme opgegaan soos Sodom en Gomorra.
            Maak jou keuse nou, begin werk, want die nag kom nader!
            Oor al hierdie aangeleenthede is daar Christene in Amerika wat hulle nou gaan afskei in ‘n eie staat want hulle besware teen al hierdie euwels word deur die Bush-regering geignoreer!
            Inderdaad het ons het die oorlog teen die norme verloor.
            In 1975 waarsku die U.S. Congressional Record dat hy ‘n publikasie genaamd “The Naked Communist” bekom het wat strategiese beplanning bevat oor hoe om die Weste – Suid-Afrika inkluis – te verlam.
            Die waarskuwing is destyds wyd in Suid-Afrika gepubliseer.  Wanneer mens vandag na die waarskuwing kyk, dan is dit duidelik dat ons die oorlog teen die norme verloor het:

•          Vernietig alle sedelike norme deur die bevordering van pornografie en sedeloosheid in boeke, tydskrifte, rolprente, radio, TV en die vrye pers;
•          Doen weg met alle wette wat onsedelikheid veroordeel deur dit die benaming “sensuur” te gee en dit ‘n skending van die vryheid van die pers en die indiwidu te noem;
•          Verkry beheer oor die sleutelposisies in die radio, TV en rolprente;
•          Verkleineer die huisgesin as instelling.  Moedig vrye liefde aan en vergemaklik egskeidings;
•          Beklemtoon die noodsaaklikheid om kinders weg van negatiewe invloed van hul ouers op te voed.  Skrywe vooroordeel, geestelike belemmering, verstandelike vertraging by kinders aan die onderdrukkende invloed van hul ouers toe;
•          Beskou homoseksualiteit, ontaarding en vrye liefde as normaal, natuurlik en gesond;
•          Verkleineer kulturele standaarde deur alle vorme van kuns uitdrukkings te verlaag.  Vervang goeie kultuurskatte in parke en openbare geboue met mismaakte, lompe en betekenislose vorms;
•          Infiltreer die kerke en vervang geopenbaarde godsdiens met sosiale godsdiens.  Trek Die Bybel in twyfel en dring aan op intellektuele volwassenheid wat nie ‘n ”godsdienstige stut” nodig het nie;
•          Skakel gebed en enige ander godsdienstige beoefening by skole uit;
•          Dra sommige van die polisie se regte van arrestasie oor aan sosiale instansies.  Beskou alle gedragsprobleme as sielkundige afwykings wat slegs deur psigiaters verstaan en behandel kan word;
•          Skep die indruk dat geweldpleging en oproer wettige aspekte van die land se tradisie is en dat studente en simpatieke instansies in opstand moet kom om ekonomiese, politieke en sosiale probleme met geweld op te los; en
•          Werp alle koloniale regerings omver voordat die bevolking vir selfregering gereed is.

Lees hierdie strategie maar ‘n paar keer deur en jy sal die Suid-Afrikaanse situasie goed kan begryp.  Lank voordat 1994 se verkiesing aangebreek het, was daar byvoorbeeld reeds groot druk deur insypelaars vanuit sommige media- en kunskringe dat die Wet op Publikasies en Openbare Vermaaklikheid omver gewerp moet word.
Die waarskuwing van 1975 het net mooi niks gehelp nie.  Mag God gee dat die waarskuwing wat ons nou rig, wel vrugte afwerp! – Sjibbolet

Geskryf  deur‘n tienderjarige meisie:

Whose Delinquency?

We read in the papers,
We hear on the air,
Of killings and stealings and crime everywhere;
We sight, and we say as we notice the trend:
This young generation – where will it end!

But can we be sure that it’s their fault alone,
That may-be, a part of it isn’t our own?

Too much money to spend,
Too much idle time,
Too many movies of passion and crime,
Too many books not fit to be read,
Too much of evil
In what they hear said;
Too many children encouraged to roam
By too many parents who won’t stay at home.

Kids don’t make the movies,
They don’t write the books,
They don’t paint a gay picture of lusting and crooks,
They don’t make the liquor,
They don’t run the bars,
They don’t make the laws,
And they don’t buy the cars,
They don’t make the drugs that addle the brain,
It’s all done by the older folks – greed for pain;
And in how many cases
We find that it’s true
The label “Delinquent” fits older folks too!