Wys tans plasings met die etiket eer jou vader en jou moeder. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket eer jou vader en jou moeder. Wys alle plasings

Woensdag 22 Februarie 2017

Die Pyle in jou Koker


Image result for son carrying father

In sy “Dictionary of Illustrations” vertel Walter Baxendale 'n baie ou verhaal, van 'n stad wat lank deur die vyand beleër was en uiteindelik moes oorgee.

Die stad se lot was om met vuur vernietig te word. In die stad was twee broers, wat aan die aanvoerder van die vyandelike leër, 'n guns bewys het. As beloning gee hy aan hulle verlof om die stad te verlaat, voor die stad aan die brand gesteek word.

Elkeen kon soveel van hulle kosbaarhede saamneem as wat hulle elkeen self kon dra. Die twee broers het gebukkend onder hulle vrag, by die stadspoort opgedaag. Op die een se rug, was hulle ma en op die ander een se rug, was hulle pa.

Ps 127:3-4 lees: “Kyk, seuns is 'n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is 'n beloning. Soos pyle in die hand van 'n held, so is die seuns van die jeug.”
            Vir die seuns in ons verhaal was hulle pa en ma die kosbaarste wat hulle met hulle wou saamneem.

Maar hoe kosbaar was die twee seuns nie vir die pa en ma nie! Die verwantskap tussen kinders en hulle ouers is 'n kosbare besitting wat God vir ons as mense gegee het.

Dit is ook die basis waarop God die verlossingsplan geskoei het: "God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die Ewige Lewe sal hê." Joh 3:16

Jesus het gedurig met die grootste ontsag en liefde van Sy Vader gepraat: "...die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het." Joh 14:31

            Vir talle van ons duik moeilike omstandighede op: fisiese of finansiële behoeftes. Dan ervaar ons hoe ons kinders, ons seuns en ons dogters, ons dra. Toe hulle klein was het ons, as ouers, hulle gedra, nou dra hulle ons weer.

Sekerlik dra ons hulle ook nou nog – dalk wel ook op stoflike gebied – maar nou, meesal op geestelike gebied deur ons voorbidding en belangstelling.

Dinsdag 28 Julie 2015

Ouers – Wees getrou aan God


Image result for godly parents

“Die roede en die bestraffing gee wysheid ; maar ‘n seun wat aan homself
oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.” – Spreuke 28:15

“Tugtig jou seun, want daar is hoop…”  – Spreuke 19:18

“Hou die tug nie terug van die kind nie, as jy hom met die roede slaan sal
hy nie sterwe nie.

Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” –
Spreuke 23:13-14.
Daar is iets hemels, iets onskuldig, iets wonderlik omtrent klein kindertjies.  Hulle is gawes van God en geen geld kan hulle koop nie.

Maar elke klein kindjie het ook iets sondig in hom.  Elkeen van hulle het ‘n natuur wat, as dit nie ingeperk word nie, handuit ruk met ontsettende gevolge. Ps. 58:4.

Omdat God mense straf oor sonde, en selfs Christene daaroor tugtig, sal dit verwaand wees van ons as ouers as ons sommige opvoeders glo wat sê dat kinders nie getugtig mag word nie.  Die kinders moet glo net met liefde grootgemaak word.

Natuurlik moet daar ‘n oorvloed van liefde in ‘n gesin wees, maar die roede beskerm dit juis en bou die liefde uit.
Om ‘n kind vir elke bakatel te slaan, is net so verkeerd as om hom nie te tugtig wanneer dit nodig is nie.  Om hom te tugtig sonder rede of sonder om rede te verskaf, is ook verkeerd.

Die Bybel leer duidelik dat ‘n roede gebruik moet word. Mens slaan nie ‘n kind met jou plat hand of vuis nie.  Jou hande is gegee om mee te seën, te genees.  Die praktyk het geleer dat selfs ‘n hond respek vir ‘n mens verloor wat hom met die hand in plaas van ‘n neutrale voorwerp slaan.

Die wêreld, ook SA, se immorele en kriminele jeugbendes is die produk van ouers wat nagelaat het om hulle kinders te tugtig, te leer en te dissiplineer.
Dit is die plig van ouers om kinders vir die Hemel voor te berei, veral ook omdat hulle dit as ‘n belofte aan God afgelê het. Tugtiging is en bly aller noodsaaklik.  Ook op skool. ‘n Geregverdigde ses-van-die-bestes in die skoolhoof se kantoor het geen kind kwaad aangedoen nie.

Volwassenes wat as kinders getugtig, geleer en gedissiplineer was, sê vandag almal dat dit die beste ding was wat hulle as kinders oorgekom het.
Tugtiging en dissipline is ‘n noodsaaklike komponent by die vorming van ‘n kind se karakter. Spreuke 22:15 sê:  “As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.”

Daardie eie wil is die wortel van alle sonde en ellende.  Wat dit ook al in kinders aanvoor het nadelige nagevolge, selfs geestelik.  Wanneer daarteen opgetree word, bevorder dit hul toekomsgeluk en vroomheid.
Die Christen Godsdiens is niks anders nie as om die wil van God te doen.  Ouers het ‘n plig teenoor God en teenoor hulle kinders om God se wil te doen.  Volwassenes wat ook ‘n eie wil in plaas van God se wil openbaar, pluk net wrange vrugte daarvan.
Die korrekte opvoeding van kinders lê die fondament vir die pad na die Hemel.  Die enigste ander pad is die een oor die afgrond na die hel.
Spreuke 13:24 sê:  “Wie sy roede terughou, haat sy seun, maar hy wat sy seun liefhet, besoek hom met tugtiging.”
Vaders is die hoë priester van hul gesinne.  Vader Abraham is ons voorbeeld in Gen. 18:17-19. God het Abraham gekies omdat Abraham gewillig was on sy gesin die weë van God te leer.  Die gesinslewe is die pilare van ‘n Christenvolk.

Vaders moet hulle gesinne die Woord van God leer. Deut. 4:9,10.  Die Woord is die grondslag van die Goddelike gesprek en leefwyse. Deut. 6:6-9. Spreuke 4:1-4 is nog ‘n voorbeeld van ‘n vader wat sy seun leer.
Die man is hoof van sy vrou – 1Kor. 11:3,4.  Hulle moet hulle vroue liefhê – Efes. 5:25.  Hulle moet hulle vroue eer – 1Pet. 3:7.  Hulle moet hulle huise goed regeer – 1Tim. 3:4 en 12.
God het ‘n orde geskep wat soos volg lyk: God self, die Engele, die man, die vrou, die kinders, die diereryk, planteryk en mineraleryk.  Niemand durf hierdie orde omver gooi nie.

Moeders baar kinders en leer hulle – 1Tim.5:14.  Hulle bring hulle kinders na Jesus Christus – Mark 10:13-16.  Hulle moet hulle kinders leer oor geloof en ‘n sterk geloof openbaar – 11 Tim.1:5 en 3:15.
Ouers moet hulle kinders leer – Spreuke 22:6. Hulle moet die kinders korrigeer – Spreuke 13:24; 19:18; 22:15; 23:13.  Hulle moet aan die kinders voorsien – 11 Kor. 12:14.
Kinders weer, moet hulle ouers eer – Deut. 5:16 en Efes. 6:12.  Kinders moet gehoorsaam wees – Efes. 6:1.  Kinders moet God dien – Pred. 12:1. Die jongmanne moet nugter en verantwoordelik wees. Tit. 2:6-8.
‘n Mens sonder beginsels, is ‘n beginsellose mens. ‘n Volk sonder beginsels, is ‘n onbeskaafde volk.
As ‘n volk sy beginsel vergeet, oorboord begin gooi, dan verval hy in barbarisme.
As ‘n volk gesonde beginsels verwerp, word hy ‘n dweepsieke volk.
Die denkende Christen moes 30 jaar gelede – want toe was die skrif al aan die muur – sy gesonde beginsels op twee fronte verdedig het.  Hy het dit nie gedoen nie
Vandag het hy weer geleentheid om dit te doen:

Die eerste is  teen die verwaarlosing van alle beginsels wat ly tot  sosiale en persoonlike agteruitgang.

Die ander is die aanname van vals beginsels wat die wêreld in anargie dompel.
Die gevaar op die oomblik is dat ‘n groot deel van ons Christene  vergeet het dat ons Christen-beginsels ooit bestaan.
Ons moet dus onsself verdedig deur vernuwing van ons bewuste ware geestelike, morele, politieke en ekonomiese beginsels. Ons moet dit ook onverwyld in elke sektor van ons  volks-, gemeenskaps- en gesinslewe toepas.
Ons het die pligte van die vader as hoë priester van die huis verskuif na die predikant en die Sondagskool.  Die pligte van die ouers het ons verskuif na die sekulêre skool. Ons morele, volks- en ekonomiese beginsels het ons op die staat afgeskuif.
Ons het beheer oor ons self en ons eie huishoudings verloor. Ons staan skuldig voor God en ons kinders.  Ons is in ellende.
Daar is net een oplossing: verootmoediging en restitusie.  Dien weer die HERE soos dit hoort – nie ons eie wil nie, maar God se wil.  Ons het tog nou duidelik gesien waar ons eie wil ons laat beland het.  Hoe kan ons onsself nog langer Christene noem?
Daar was vyf wyse maagde en vyf dwase maagde, maar sommige van ons het nie eers lampe nie, wat nog te sê van olie hoegenaamd.

So seker as wat Christus gebore is, gaan Hy weer kom.  Kom ons wag vir Hom met reikhalsende verlange, maar as sierade en met trots! – Sjibbolet

Vrydag 10 April 2015

Liefde is 'n opdrag van God!


Image result for giving a hug images
 Gehoorsaam jy... Die Koninklike Wet?
Die liefde is ‘n Koninklike Wet. “As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
Die skrif verwys telkemale daarna dat ons ander moet liefhê soos onsself.
Is dit moontlik om onsself lief te hê?
            Hierdie kan as ‘n meetinstrument beskou word: Hoe lief ek myself het, bepaal hoe lief ek ander het.
            Dit bepaal ook my geestelike stand in Christus.
Liv 19:18 “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.
            Liv 19:34 “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself...”
            Matt 19:19 “Eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
            Matt 22:39 “En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
            Wat ons ook hieruit leer is dat dit belangrik vir ons is om te weet in watter mate ons onsself lief het.
            Jy moet jouself liefhê. Ontlok hierdie woorde ‘n negatiewe reaksie by jou? Klink dit nie selfsugtig en egoïsties nie?
            Om jouself lief te hê beteken nie om selfgesentreerd te wees nie. Dit beteken om respek vir jouself te hê, om jouself te beskerm, vir jouself om te gee.
            Kyk weer na Liv 19:18: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” Moet dus nooit ‘n wrok teenoor iemand hê nie, maar “hê jou
naaste lief soos jouself.” Of het jy ‘n wrok teen jouself, teen iemand anders?
            En moet nou nie in ‘n geredekawel vasval van “Wie is my naaste” nie. Jy weet tog dis jou huisgenote en diegene in jou daaglikse omgang.
            As jy dus nie vir jouself lief is nie, dan sal jy wraakgierig of haatdraend teenoor ander wees. Dit mag nie so wees nie, dan is daar fout met hoe lief jy jouself het. Is jy wraakgierig en haatdraend met jouself? Sommige mense is. Dit is al bewys dat as mens iemand haat, jy, en nie die ander persoon nie, die eintlike lydende party is.
            Daar was die vrou wat gebel het en gevra het ons moet haar besoek want sy verlang gebed omdat sy baie siek is. Op pad na die adres het die Heilige Gees reeds  deur die gawe van onderskeiding, dit duidelik gemaak dat haat die oorsaak van die vrou se ernstige siekte is.
            Met ons aankoms daar het ons dit so aan haar meegedeel. Sy het bevestig dat sy iemand verskriklik haat, maar het sy bygevoeg: “Darem nie meer so erg nie.”
Ons het aan haar gesê dat die haat nog steeds so verterend is, maar dat die bloedkanker intussen sulke ernstige afmetings begin aanneem het, dat haar gedagtes nou meer bevange is met haarself en die dreigende dood, as met die haat.
            Ons het haar ook meegedeel dat die haat die oorsaak van haar ernstige siekte is. Sy wou nog skerm, toe ons sê: “Nou goed, as daar nou ‘n geklop aan die voordeur is en jy maak oop en daar staan die mense wat jy so haat, sal jy bv sê: ‘Goeie naand, lank laas van julle gehoor. Kom in, maak julle tuis. Wat drink julle, tee of koffie?’
            En sy het geantwoord: “Nee, darem nie so nie.”
            Die vrou het nie haarself liefgehad nie. Sy het toegelaat dat die verterende haat haar liggaam vernietig.
            Alhoewel sy versoek het dat ons vir haar moet bid vir genesing, was 1 Tim 5:22 van toepassing: “Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.”
            As ons summier vir haar die hande opgelê het, het ons gemeenskap met haar sondes gehad, dan was ons onrein.
            Na berading het ons vir haar gebid en gevra dat God haar asseblief moet genees, maar op voorwaarde dat sy die haat los en vrede met die ander mense maak.
            Ons het haar drie jaar later in ‘n supermark raakgeloop. Sy het oorgeloop van vreugde en blydskap, sy was volkome genees.
            Mens weerspieël ook jou liefde vir jouself wanneer jy jou vader en moeder eer. Matt 19:19
            Moet mens die ongereddes ook liefhê? Natuurlik! Mark 12:30 “Jy moet die Here jou God liefhê (Hoe?) uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. Lees dit weer want dis nogal ‘n gewigte saak.
            En strofe 31: “En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.”
            “Hieraan gelyk” beteken “dieselfde”. As ek God moet liefhê met my hele hart, my hele siel, my hele verstand, my hele krag, dan moet ek my naaste ook so liefhê. Die liefde vir God staan gelyk aan die liefde vir myself en my liefde vir ander. Hoekom? Omdat God vir jou en die ander persoon ewe lief is.
            In die lig hiervan, vra weer: Hoe lief het ek myself?
            Ongereddes is op pad na die ewige verdoemenis. As iemand nie vir jou en vir my liefgehad het nie, dan was ons ook nog op die verkeerde pad.
            “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die (Koninklike) wet vervul.” Rom 13:8
            “Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Rom 13:9
            As jy jouself liefhet, respek het vir jouself, vir jouself omgee voor God en die mens, dan sal jy nie egbreek, doodslaan en dergelike dinge doen nie nie.
            En weer ‘n keer: “Want die hele (Koninklike) wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Gal 5:14
            Het jy jouself lief? Hoeveel het jy jouself lief, ‘n bietjie of met jou hele hart? Kyk na die waarskuwing: “Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.” Gal. 5:15
            Liefde is en bly die Groot Gebod. Wandel in die ware liefde en daar sal nooit probleme wees nie. Die liefde, is ‘n Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
            As ons nie onsself lief het nie, kan ons nie ons naaste liefhê nie, nie mekaar liefhê nie, dan doen ons nie goed nie.
            Mense wat iewers in die lewe seergekry het, sien soms net die  veroordelende taal in die Bybel raak. Hulle besluit dan verkeerdelik dat dit God se wil is dat hulle sonder eerbied en liefde in die lewe behandel is.
            Die euwel van ons tyd is persepsies en wanpersepsies, pleks van feite. Met die korrekte lering verstaan hulle heelwat later in die lewe dat God vir hulle lief is, dat hulle hulself moet liefhê. Dan begryp hulle eers dat die nare ondervindinge van die verlede nie van God af gekom het nie.
            Daar is Christene wat onder die waan verkeer dat alhoewel ons ander mense moet liefhê, dit verkeerd is om jouself lief te hê. Hulle besef nie die een liefde gaan hand aan hand met die ander liefde, wat dieselfde liefde is nie.
            Die Bybel leer dat ons nederig moet wees, maar om onsself te verkleineer is verkeerd.
            Die wanbalans het in menige ouerhuis ontstaan. As ‘n kind grootword in ‘n omgewing van kritiek, van verbale mishandeling, van haat, van skande, dan sal so ‘n kind net so in sy volwasse lewe optree. Die rede daarvoor is dat die kind in vrees lewe, vrees dat hy of sy weer en weer kan seerkry. Hulle lewensstyl is een van voortdurende selfbeskerming.
            Jy voel bedreig deur diegene wat jou juis opreg liefhet en opreg vir jou omgee, selfs onder jou huisgenote, vir jou is dit te goed om waar te wees. Jy vertrou nie die vrede nie.
            Tog vind jy dit vreemd dat elke keer wanneer jy sulke opregte mense ‘n koue skouer gegee het, hulle selfs afgejak het, lelike dinge vir hulle gesê het, dan loop jy dae aaneen en worstel, want diep hier binne jou weet jy, jy het nie reg opgetree nie, maar o wee, om verskoning te maak, te sê jy is jammer, is ‘n byna onoorkombare struikelblok.
Sommige mense beleef ‘n misverstand oor wat berou is. Berou is nie perfeksie nie, maar ‘n verandering van rigting. Die verlore seun het gedink hy doen reg. Sy berou het beteken dat hy van rigting moes verander. Dit het beteken ‘n verandering van gedagte, ‘n verandering van hart en ‘n verandering van rigting.
Wanneer ‘n mens omdraai, dan is daar geen verwyte nie, geen oordele nie, net trane en blydskap.
“En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel [liefde van vanuit die Vader se hart gestraal vir sy seun] en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die Hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete.  En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. (Hoekom?) Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.” Hulle het ‘n partytjie, ‘n fees gehou.”
Maar alles is nie verlore nie. Daar is steeds tyd om in wasdom te groei en te genees.
Andrew Wommack verduidelik dit so: “Sommige mag dink, wel, toe ek die eerste keer aan God geglo het, toe het ek geglo dat ek geheel en al vergewe was en gereinig is en alles was goed, maar sedertdien het ek gesondig, ek het God weer gefaal.
“As jy gefaal het, het jy gefaal in jou verstandelike en emosionele deel, maar jou gees het nie gesondig nie.
“Jou gees is geseël soos wat ‘n vrou konfyt in ‘n fles plaas, kerswas oorgooi om dit lugdig te maak om alle onsuiwerhede uit te hou en draai dit dan styf toe. God het jou verseël en sonde kan nie jou gees binnedring nie.
“Jy het ‘n nuwe identiteit.
“Vir jou om ‘n verhouding met God te hê, moet jy met Hom verkeer en Hom aanbid, juis gebaseer op wie jy is in jou gees en nie jou vlees nie. Dit is in werklikheid die groot transformasie in die Christelike lewe, dat ‘n persoon se identiteit moet verander.
“Ons moet aan God verwant wees, nie gebaseer net op wat ons in die fisiese  doen nie, ook nie met wat in ons gedagtes aangaan nie, maar juis met wie jy in jou gees is op grond van wat Hy vir jou gedoen het. Dit is ‘n voltooide werk, en iets wat nooit verander nie, nooit fluktueer nie.
“Jy is geskape in geregtigheid en ware heiligmaking. Dit is die geestelike deel van jou. Jy moet gemeenskap met God hê in gees en in waarheid. Jy moet vasstaan in hierdie identiteit van wie jy in Christus is.”
            Kyk na die teenoorgestelde: As ‘n kind grootword in ‘n omgewing van
lof en bemoediging, dan sal so ‘n kind leer om te waardeer en selfvertroue opbou.
            As ‘n kind grootword in ‘n omgewing van verstandhouding, uitdruklike voorwaardes en waardes, wedersydse begrip, dan sal ‘n kind leer om geduldig te wees.
            As ‘n kind in ‘n regverdige omgewing grootword, dan sal hy ook regverdig wees. En as ‘n kind in ‘n veilige liefdevolle omgewing grootword dan sal hy glo en vertrou.
           So lei ‘n lewe van goedkeuring tot die ontwikkeling van selfwaardering. Aanvaarding en vriendskap lei tot liefde vir ander.
As mens nie so grootgeword het nie, dan kan jy soms ‘n buffel wees, ongenaakbaar, wreed, maar jy is en bly die een wat daaronder ly. Jy het jou eie grootste vyand geword. Jy is nie lief vir jouself nie en nou kan jy nie lief wees vir ander nie.
            As ons onsself liefhet en ons skep ‘n omgewing van lof, bemoediging, wedersydse begrip, veiligheid, goedkeuring, ondersteuning, aanvaarding, vriendskap en liefde, dan bereik ons wasdom as man en as vrou. Dan word so ‘n man en vrou mense van waardering, van oortuiging, van vertroue, van billikheid, dat sal hulle van goeie inbors wees en  liefdevol teenoor diegene om hulle.
            Om ander lief te kan hê, moet ons onsself liefhê.
•          Onthou: Die liefde, is ‘n Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
            As jy nie die Koninklike wet volbring nie, dan doen jy nie goed nie. As mens nie die Koninklike wet kan volbring nie, dan moet mens met selfondersoek begin. Jy durf nie so voortlewe nie.
            Wanner mens begin om jouself te respekteer, wanneer mens vir jouself grense van behoorlikheid stel (soos dat jy nie vuil grappe sal vertel of die Bybel of die Hemel sal bespot, of jouself dronk drink nie, of iets neem wat nie aan jou behoort nie), wanneer jy die skoon dinge in die lewe ontdek, daardie dinge waarvan jy hou, dan word jou lewe klaar veel verdraagsamer, dan kan jy ander begin liefkry.
            God het ‘n plan om my en jou te laat floreer, maar dan moet ons, ons gebrek aan ware liefde erken, dit bely en vergifnis verkry. Die waarheid maak ons vry. As ‘n vreemdeling met jou ‘n gesprek gevoer het em van jou af weggaan, moet dit vir hom of haar voel asof hulle in die teenwoordigheid van Jesus self was.
            Mens wonder oor die baie egskeidings, gebroke huise. Is dit dan nie mense wat een mooi dag hul liefde aan mekaar verklaar het nie, wat belowe het om saam te staan tot die dood hulle skei nie, wat trou aan mekaar belowe het nie?
            Een van die twee, of beide, had nie hulself lief nie en daarom kon hulle nie mekaar liefhê nie. Beradings bring die probleem gou na vore. Die vraag moet selfs gevra word of hulle God liefgehad het met hul hele hart, hele verstand, hele siel en al hulle krag, toe hulle getrou het.
            Lees aandagtig hoe lees Efes. 5:28-29 “So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief. (hoekom moet ‘n man sy eie liggaam liefhê?) want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die HERE die gemeente.” Let op die vergelyking.
            ‘n Man moet sy eie vrou liefhê (Hoe moet hy haar liefhê?) soos wat hy sy eie liggaam liefhet. En, as hy sy eie liggaam liefhet, dan sal hy altyd sorg dat sy liggaam skoon is, dat hy sy liggaam voed en koester sodat hy altyd vir sy vrou lieflik en aanvaarbaar sal wees. Hy sal dit doen net soos wat die HERE sy gemeente liefhet en voed en koester.
            Strofe 31 lees dat die man sy ouers sal verlaat en sy vrou sal aankleef en liefhê omdat hulle “een vlees” is.  ‘n Man moet dus sy vrou liefhê soos wat hy sy eie liggaam liefhet. Hy moet haar sien as sy vlees, want hulle is een vlees.
            Ons moet die Koninklike wet gehoorsaam. Ons moet ander liefhê soos wat ons onsself liefhet. Vraag is: Hoe lief het ons onsself?
In ‘n mate is jy lief vir jouself. Jy trek altyd netjies aan. Jou hare is altyd netjies gekam, jy is glad geskeer, jou naels kort en skoon, jou skoene blink, jou werkplek is netjies, jou motor blink, jy is stiptelik, getrou. Die fondament is daar, bou net voort daarop!
            Paulus sê ons moet bo die omstandighede leef en nie daaronder nie. Jy moet aan die voorpunt wees, nie aan die stertkant nie. Wees lief vir jouself, beskerm jouself... en, doen dieselfde vir andere. Wat jy vir jouself gun, gun dit ook vir ander.
            Onthou jy die gelykenis van die talente. As jy jou talente gebruik gee Hy vir jou meer. So lief soos wat jy jouself het, wees ook net so lief vir ander!
            Om jouself lief te hê beteken nie om ‘n trotsaard vol wêreldse liefde en selfverheerliking en arrogant te wees nie. Wees dankbaar vir die mens wat God jou geskape het.
            Die bagasie wat bindinge in jou gees opbou weens self-verwerping, self-haat, onwilligheid om jouself te vergewe, is soos selfmoord. Wat beteken dit?
            Self-verwerping, om nie jouself te aanvaar soos wat God jou gemaak het nie en jouself daaroor te kasty, vreet soos ‘n vernietigende kanker aan jou lewe.
Dis presies dieselfde as wanneer jy jouself haat, wanneer jy ‘n smartvraat is, jouself blameer vir baie dinge, foute uit jou verlede teen jouself te hou, onvergewensgesind wees, met bitterheid rondloop oor wat ander aan jou gedoen het. So vernietig jy jouself geestelik, fisies en emosioneel.
            Jy sien jouself as waardeloos en wil bewys dat dit nie so is nie, daarom druk jy jouself in onredelike prestasies in sodat jy goed kan voel. Jy wil jouself gereeld bewys terwyl jy eintlik niemand beïndruk nie.
            Baie mense is nie tevrede met hul eie gesigte en liggame nie. Hulle beskou hulself as dom, lelik, onnosel, lomp, nikswerd... en dit terwyl hulle in die beeld van God geskape is. As jy fout met jouself vind, vind jy fout met God se handewerk. Gen 1:26
Ons moet dankbaar wees. Ons moet sê soos Dawid “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.” Ps 139:14. Ek en jy is ook “vreeslik wonderbaar!”
            Dawid het nie gespog nie, maar hy het sy dankbaarheid teenoor God betuig.
            Ons moet onsself vergewe! (Hoekom?) Want God het ons vergewe. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Ps 103:12
            Noord en suid is sowat 19 200 km van mekaar af, maar die afstand tussen oos en wes, is onmeetbaar.
            Is jy nou in die moeilikheid by die HERE? Stellig nie.  “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.” Dit is die sleutel: “Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.” Rom. 4:7-8
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:12-13 – Sjibbolet