Woensdag 22 Februarie 2017

Die Pyle in jou Koker


Image result for son carrying father

In sy “Dictionary of Illustrations” vertel Walter Baxendale 'n baie ou verhaal, van 'n stad wat lank deur die vyand beleër was en uiteindelik moes oorgee.

Die stad se lot was om met vuur vernietig te word. In die stad was twee broers, wat aan die aanvoerder van die vyandelike leër, 'n guns bewys het. As beloning gee hy aan hulle verlof om die stad te verlaat, voor die stad aan die brand gesteek word.

Elkeen kon soveel van hulle kosbaarhede saamneem as wat hulle elkeen self kon dra. Die twee broers het gebukkend onder hulle vrag, by die stadspoort opgedaag. Op die een se rug, was hulle ma en op die ander een se rug, was hulle pa.

Ps 127:3-4 lees: “Kyk, seuns is 'n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is 'n beloning. Soos pyle in die hand van 'n held, so is die seuns van die jeug.”
            Vir die seuns in ons verhaal was hulle pa en ma die kosbaarste wat hulle met hulle wou saamneem.

Maar hoe kosbaar was die twee seuns nie vir die pa en ma nie! Die verwantskap tussen kinders en hulle ouers is 'n kosbare besitting wat God vir ons as mense gegee het.

Dit is ook die basis waarop God die verlossingsplan geskoei het: "God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die Ewige Lewe sal hê." Joh 3:16

Jesus het gedurig met die grootste ontsag en liefde van Sy Vader gepraat: "...die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het." Joh 14:31

            Vir talle van ons duik moeilike omstandighede op: fisiese of finansiële behoeftes. Dan ervaar ons hoe ons kinders, ons seuns en ons dogters, ons dra. Toe hulle klein was het ons, as ouers, hulle gedra, nou dra hulle ons weer.

Sekerlik dra ons hulle ook nou nog – dalk wel ook op stoflike gebied – maar nou, meesal op geestelike gebied deur ons voorbidding en belangstelling.