Vrydag 24 Februarie 2017

‘Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!’


 Image result for weggooi kind


“En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!” Eseg 16:6

Jy is ’n pasgebore baba. ’n Weggooikind.
Jy is ’n meisietjie wat – pas gebore – weggegooi is om dood te bloei.
Toe tel die HERE jou op en gee jou LEWE.
Hy maak jou groot vir ’n huwelik met Hom!
In die ou tyd was dit as ’n ramp beskou as daar ’n meisietjie gebore word.
So erg dat sy nie eers as ’n kind gereken word nie.
So ’n meisietjie word as voorbeeld gebruik in hierdie profesie. Haar ouers wil haar die lewe ontneem – doodmaak.
Hulle was haar nie eers na haar geboorte met water skoon nie, want water is vir hulle waarskynlik kosbaarder as sy en haar lewe.
Sy word ook nie met sout ingevryf soos wat die gebruik in daardie dae was nie.
Haar naelstring word ook nie eers afgebind en versorg nie.
Hierdie babatjie word sommer in die veld weggegooi.
Sy lê daar hulpeloos en bloei.
Sy is vuil.
Sy is besig om te sterf in haar verlate en onversorgde toestand.
Dink net aan die angs wat daardie babatjie deurmaak in sulke oomblikke.
·       Dan kom daar Iemand aan wat oor die kind heeltemal anders voel as die ouers. Hy sê vir haar: ... toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!
Wonderlike woorde: LEEF! Jy wat so vuil hier in jou bloed lê: LEEF!
Dit beteken Hy neem hierdie meisietjie wettig aan as syne.
Hy word nou die Vader wat haar in sy arms laat lê.
Daarom sê Hy twee maal vir haar: LEEF!
Daarmee wil Hy die verskil tussen haar ouers en Homself uitbeeld. Maar Hy wil ook daarmee die sekerheid beklemtoon dat sy nou beslis sal lewe.
In die eerste plek praat die HERE hier met Israel.
Hulle moet onthou dat hulle uit die Amoriete en Hetiete stam.
Maar omdat hulle die afgode nie gedien het nie, maar die HERE gedien het, het die heidene hulle weggegooi.
Maar die volk het ook teen God gesondig.
Menslik is hulle swak, want sonder God kan niemand leef nie.
Hulle is soos ’n baba wie se naelstring nie afgebind is nie.
Hulle bloei hulleself dood, want hulle besit geen krag hoegenaamd nie.
Hulle sondes besmeer hulle soos wat hierdie weggooibaba met bloed en grond en gras besmeer is – amper te vuil om na te kyk en aan te vat.
Dis hoe ons voor God lyk.
Met hierdie gedeelte praat die HERE nie net met die Israeliete nie – Hy praat ook met ons.
Ons sal op die oordeelsdag so voor Hom wees.
Vuil. Swak. Byna klaar dood in die vuil en die sonde.
Maar dan sê God die bevel twee maal: LEEF!
Leef julle wat só lyk in julle misdade!
En dan wonder ons in ons sterwensoomblik: Hoe, HERE?
Dan antwoord God ons: deur die HERE Jesus Christus.
Hierdie bloed en sondes en geboortesmet wat aan ons vaskleef en droog word, en wat by ons naelstring uitvloei, dit het Jesus Christus van ons afgewas.
Dis asof die HERE sê: By jou is dit deel van jou lewe om vuil te wees, want jy weet nie van beter nie.
Jy kan ook nie beter nie, want jy is ’n weggooikind.
As ons in ons geloofslewe besinning doen, moet ons herdenk hoe Jesus se liggaam gebloei het toe Hy moes sterf vir ons.
Hy wat heeltemal Goddelik rein was en is, moes sy lewe aflê vir ons wat besig is om te sterf in ons eie goddeloosheid.
Maar ons moet nie daaroor moedeloos wees nie. Ons moet hoor hoe God vir ons sê: Ek het vir jou gesê in jou bloed: LEEF!
Hierdie woord LEEF het ’n baie groot en wye betekenis:
Dis ’n bevel wat uit God se Ewige Raadsbesluit kom.
Hierdie bevel om te leef is inderdaad in ’n sekere sin ’n bevestiging van die belofte wat die HERE met Eva gemaak het.
Net na die sondeval het die HERE die doodstraf oor ons uitgespreek – die sondeval se gevolge word in hierdie weggooibabatjie uitgebeeld.
Maar as deel van daardie gesprek het die HERE vir Eva die belofte gegee dat ’n gedeelte van die mensdom deur Hom gered sal word.
Hy sal twee dinge doen – het die HERE beloof:
Die een ding was dat die HERE gesê het dat Hy skeiding gaan maak tussen die vrou se saad en die slang se saad.
Daarmee het die HERE bedoel dat ’n deel van die mensdom die duiwel sou volg.
Die HERE sou daardie deel van die mensdom wegskei van die ander deel van die mensdom – dié wat die HERE aanhang.
Die tweede ding wat die HERE gesê het, was dat Hy Iemand uit die vrou se nasate gebore sou laat word wat die slang se kop sou vermorsel – dus die dood sou oorwin en versoening doen.
Hierdie bevel om te leef word nou aan daardie deel van die mensdom gerig!
Natuurlik kan ons nie self die lewe gryp en uit die dood lewend word nie! Die HERE bedien ons uit genade daarmee deur die HERE Jesus Christus!
Leef dan nie net nou nie! Leef tot in Ewigheid, want God het hierdie dogtertjie grootgemaak en toe sy in die tyd van liefde gekom het, het Hy met haar getrou.
Hy het haar met olie gesalf en die pragtigste klere vir haar aangetrek.
Hy het ’n verbond met haar gesluit en sy het God s’n geword.
Dan gaan ons gedagtes dadelik na wat die apostel Johannes in Openbaring skryf:

Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.

Toe sê hy vir my: Skryf, salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God. Openb 19:7-9

U is die Bruid.
U is die kerk.
As God dan in u bloed vir u sê: Leef! dan bedoel Hy Lewe tot in Ewigheid in sy Koninkryk waar Hy alles is in almal. Kom ons aanbid Hom wat Hom laat verbreek en vergiet het sodat ons rein gewas kon word voor God.
Kom hoor elke keer in die Woordbediening hoe vas God se beloftes staan.
Ons hoor telkens sy woord: Leef!
En dan weet ons dat ons leef – maar nie deur ons eie bloed nie – deur Sý bloed!
Staan dan op, hiervandaan, en gaan Leef in die Naam van God tot in Ewigheid.
Leef ’n stryd van oorwinning teen die sonde.
Leef ’n lewe van daaglikse bekering.
Want geen mens kan sy lewe ontvang sonder om dit dan met dankbaarheid aan God terug te gee nie!

·       Hierdie boodskap van Dr Thinus du Plessis het my die volgende in herinnering laat roep:

Quo Vadis?
ek soek na myself...
wie is ek,
wat is my identiteit,
wie is my pa
en wie is my ma?
wat is hulle name,
wat is my naam?
ek is uit ‘n
hospitaal aangeneem;
maar,
waarom is ek
as pasgebore meisie
in die nag van Junie 1964
tussen struike
langs ‘n gruispad versteek?
(Moses...
was ten minste versorg);
wie doen so iets?
ek was poedelnaak
en bebloed
pasgebore
in ‘n bitterlike koue nag...
so blou van die koue,
die wie my vind
dog ek is ‘n bruin kind;
het jy al na jouself gesoek?
ek soek na myself
ek weet nie wie ek is nie...
ek vergewe my ouers
want ek is nou gekleed
maar hulle is steeds naak
voor God en die mens;
hoekom soek hulle my nie?
ek is so alleen
alleen
alleen...
Here,
wie is ek...?

·       Laat ons die HERE vertrou om in hierdie dae tot aanvang van ‘n magtige Herlewing oor Suid-Afrika uit te roep: LEEF! LEEF!