Vrydag 17 Februarie 2017

Die Twee Seuns...


 Image result for renaissance painting portrait of a young man 

‘n Skatryk man en sy seun het duur en seldsame skilderye versamel, die werke van Van Gogh, Picasso, Raphael, Rembrandt, ens. Hulle het gereeld saam gesit en die skilderye bewonder.
            Toe die Viëtnam oorlog uitbreek, is sy seun oorlog toe. Hy was ‘n dapper soldaat en het gesterf toe hy ‘n makker wou red, Sy pa was diep in rou toe hy die nuus ontvang het.
            ‘n Maand later, kort voor Kersfees, was daar ‘n geklop aan die deur. Dit was ‘n jongman met ‘n groot pakkie onder sy arm.
            Hy het gesê: “Meneer, u ken my nie, maar ek is die soldaat vir jou seun sy lewe gewaag het. Hy is doodgeskiet terwyl hy my na veiligheid gedra het. Hy was op slag dood. Hy het baie lewens daardie dag gered. Hy het my gereeld van u vertel en hoe lief u vir kunswerke is.”
            Die jongman het toe die pakkie aan die man oorhandig en gesê: “Meneer ek is nie ‘n bekende skilder nie, maar ek dink jou seun sou dit graag vir jou wou gee.” Binne was ‘n pragtige skildery van sy seun... By die aanskoue daarvan het die man se trane begin loop. Hy het die jongman bedank en wou hom betaal, maar die jongman het gesê: “O nee, ek skenk dit want ek sal nooit kan vergoed vir wat u seun vir my gedoen het nie. Dis ‘n geskenk.”
            Die man het die skildery van sy seun bokant die kaggel gehang en dit altyd eerste vir almal gewys wat na sy versameling wou kyk.
            Die rykman is ‘n paar maande later oorlede. Dit sou ‘n baie groot veiling wees. Voornemende kopers het van oral daar aangekom, opgewonde oor die geleentheid om van die duur skilderye te kon bekom. Die afslaer het begin om die skildery van die seun op te veil. Niemand wou ‘n bod maak nie. Iemand het hardop gesê: “Ons stel nie daarin belang nie, begin met die duur en seldsame skilderye.
            Die afslaer wou niks weet nie. “Wie gee my $100 vir die skildery van die seun?” Niemand nie.
            Nog iemand laat hardop van hom hoor: “Ons is hier vir die Van Gog’s, die Rembrandt’s, begin nou met die werklike veiling.”
            Die afslaer het aangehou: “Die seun, wie stel belang in die seun?”
            Die man wat jare lank die rykman  se tuine versorg het, bied toe $10 aan. Hy was arm en kon nie meer aanbied nie.
            En die afslaer het gereageer: “Ek het $10, wie bied my $20 aan?” Niemand nie, want hulle het nie in die seun belanggestel nie. Hulle had net oë vir die duur skilderye.
            Die afslaer het die bod van $10 op die tuinier toegeslaan.
            ‘n Man in die tweede ry van voor reageer toe: “Laat ons nou begin met die meesterstukke!”
            Die afslaer het opgepak en aangekondig dat dit die einde van die veiling was. “Maar wat van die seldsame skilderye,” het hulle uitgeroep.
            “Ek is jammer,” het die afslaer geantwoord, “daar is ‘n klousule aan die veiling verbonde wat ek nie vooraf met julle kon deel nie. Die oorledene het gestipuleer dat wie ook al sy seun koop, al sy rykdomme, skilderye en die huis, daarmee saam sou kry. Die man wat dus die seun gekry het, kry nou alles.”
            Bykans 2 000 jaar gelede het God sy Seun aan die kruis laat sterf. Byna soos die afslaer sê God vandag: “Die Seun, My Seun, wie neem die Seun?”
            Omdat... wie die Seun neem, kry alles.
            Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.” Joh 14:6-7
            “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die Koninkryk van God nie sien nie.” Joh 3:3
            “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9
            Dit maak ons dan erfgename van Jesus se Testament en ons erf alles. Daar is meer as genoeg vir elkeen wat die Seun aanneem.
            "Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is… die beker geneem en gesê: 'Hierdie beker is die Nuwe Verbond (Testament) wat deur My bloed beseël is." 1 Kor 11:23 – 26
            Gelowiges is regmatige erfgename van die Seun Jesus se Testament. “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” Rom 8:16-17
            Ek en jy laat ook eendag ‘n testament na en die erfgename sal beslis erf en dit erf wat aan hulle bemaak is. So ontvang ons ook dit wat Jesus aan ons bemaak het.
            Mens kan egter eendag ‘n plaas erf. Maar as jy nie die erfporsie gaan opeis nie, sal die plaas nooit joune word nie. Kies die Seun Jesus en jy erf ‘n ganse Koninkryk.
            So het ons ook talryke seëninge by Jesus geërf, maar ons kan dit nooit besit as ons dit nie gaan opeis nie, ons eie maak nie.
            Kyk, so lyk deel van ons erfporsie:
1.     Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën het met alle geestelike seëninge in die Hemele in Christus,” Efes. 1:4 Ons triomf berus op Lofprysinge want ons is reeds geseën.
2.     Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32. Weer berus ons triomf op Lofprysinge want Hy skenk ons alles genadiglik.
3.     Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godsaligheid lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.

            In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloed-gewaste ontvanger. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.
            Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. So, moenie bid vir reën nie want nogmaals berus ons triomf op Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.
            Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in Sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op Lofprysinge want ons is reeds genees.
            Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, Lofprysinge is ons triomf vir die gawe van die Heilige Gees. Ontvang net die Heilige Gees in jou lewe.
            “Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.
            Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.
            As jy tot nog toe onnodig gebrek gelei het weens jou onkunde van die Woord, dink aan al die ongereddes wat geen jota of titel hiervan verstaan nie. Hulle erf niks. Kry hulle jammer en dra die Goeie Boodskap uit en bring die gerwe in.
            Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA.
            Moenie alleen Hemel toe gaan nie, neem asseblief iemand saam.