Vrydag 03 Februarie 2017

Medewerker of Teenwerker?


Image result for in jesus se naam

Waarom het GOD ‘n stelsel daar geplaas wat Hom “afhanklik” maak van ons? Is dit nie ‘n verstommende misterie nie?
            GOD pleit by ons om te bid. Hy wil niks doen in die sfeer van menslike verlossing, sonder ons gebed en intersessie nie.
            Eenvoudig: “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.” 1 Kor 3:9 Die teenoorgestelde is ook waar: As jy nie ‘n Medewerker is nie, is jy ‘n Teenwerker! “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.” Matt 12:30
            Hy pleit nie net dat ons tussenbeide moet tree met gebed nie, Hy dring daarop aan.
            In Matt. 7:7 dring Hy daarop aan dat ons moet klop en nogmaals klop, en voeg dan by: Vir elkeen wat klop sal (beslis) oopgemaak word.
            En verder: As jy aanhou soek, sal jy beslis vind.
            Dit is duidelik dat GOD niks doen, en niks gebeur, as ons nie bid nie.
            GOD is die GOD van die oes, nogtans dring Hy in Matt. 9:38 daarop aan dat ons moet bid dat Hy arbeiders in die veld moet stuur.
            Die oes is syne en die arbeiders is tog syne. Hoekom sou Hy “hulpeloos” toekyk terwyl Hy wag dat ons bid dat Hy arbeiders in die oes moet instuur? Hoekom stuur hy arbeiders alleen uit in antwoord op ons gebed?
            Die fundamentele belangrikheid van hierdie instelling van gebed in GOD se Raadsplan, word verder beklemtoon daardeur dat GOD homself onomwonde verbind om te antwoord! Halleluja!
            GOD se belofte om te antwoord is byna soos ‘n blanko tjek wat reeds Sy handtekening dra. Dis ‘n verbysterende gedagte, maar ‘n werklikheid. Dis of GOD Sy septer aan ons oorhandig het en by ons pleit om dit te gebruik.
            Die volgende voorbeelde ruim alle twyfel uit die weg:

·       En wat julle ook al in My naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in My naam vra, sal Ek dit doen. –  Joh. 14: 13-14.
·       As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. – Joh. 15:7.
·       En in daardie dag (nà die Hemelvaart) sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra IN MY NAAM, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in My Naam gevra nie. Bid, en julle sal ontvang (hoekom?) sodat julle blydskap volkome kan wees! – Joh. 16:23-24.

Skrywer moes 44 jaar op ‘n antwoord wag, maar nou kan hy sê: “Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys het en Sy trou nie van my weerhou het nie.” - Ps 68:20
Daar is geen voorwaardes wat GOD bind of verhoed om die gebed van ‘n getroue kind van Hom te beantwoord nie. GOD self hoef aan geen voorwaardes te voldoen nie.
Die voorwaarde: As julle in My bly en My woorde in julle, is alles moontlik en binne bereik van elke wedergeborene wat dit erns met GOD bedoel. Hierdie is ‘n bitter belangrike voorwaarde.  Net een vraag: Bly ons in Hom wanner ons Hom met ons tiendes besteel? ‘n Tiende van alles wat ons inkry, behoort nooit aan ons nie. As jy op hierdie gebied bedrieg, bid jy teen ‘n muur vas.
Presies dieselfde geld vir vergewing. Matt 18:21 Ook, as ons nie die Koninklike Wet nakom nie. Jak 2:8. As sulke dinge aanwesig is, kan dit ‘n hele gemeente terughou en baie probleme tot gevolg hê.
Ons is Medewerkers. As ons ontrou is, is ons Teenwerkers. Daarmee sal ons straks ‘n ruk lank wegkom, maar ons grawe ons eie gat vir seker.
Onthou ook, die mens wat niks doen nie, doen nie niks nie, hy/sy is in ander se pad.
Jy wat so baie oor jou predikant te sê het, hoeveel siele het jy al die Koninkryk binnegelei. Van hoeveel van hulle het jy al dissipels gemaak?
As GOD dus nie kan fouteer nie, dan is die totale verantwoordelikheid  vir gebedloosheid of oneffektiewe gebed, ons sin.
Van GOD se kant af is dit dus ‘n eervolle optrede. Van GOD se kant af is dit ‘n waterdigte aangeleentheid. Sy deel is reeds gedoen. Sy belofte is om altyd te antwoord ingevolge Sy Wil. Daar is dus ook geen fyn skrif nie.
Die getroue kind van GOD sal nooit iets vra buite die Vader se Wil nie.
GOD wou in ‘n stadium iemand hê om in die bres te staan vir die volk. Dit is dus Sy Wil dat ons tot Hom bid om Herlewing en restourasie van die volk.
As ons sekere middele daarvoor benodig, dan sal Hy dit ook gee. Dieselfde geld in die geval van siele inwin vir Sy Koninkryk.
Ook geld dit ons blydskap want dit is Sy Wil dat ons blydskap volkome sal wees! Joh 15:11en Joh 16:24
GOD se aanbod aan ons is ‘n bona fide aanbod, ‘n aanbod ter goeder trou. Dit is ‘n uitnodiging aan die Wedergeborenes om in volle vennootskap saam met Hom te lewe. Nie dat ons namens Hom besluite sou neem nie, maar meer in die sin van medewerker. Rom. 16:3;9;21.
Hier kom ons nie verby nie: “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.” 1 Kor 3:9
Die verantwoordelikheid en die uitvoer van GOD se raadsbesluite, plaas Hy op die skouers van Sy Kerk, my en jou se skouers.
Die belofte word aan die Kerk in die algemeen herhaal in Matt. 18:18:  “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die Hemel gebonde wees, en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die Hemel ontbonde wees.
So byvoorbeeld as ‘n huwelik op die aarde in die naam van Jesus Christus verbind word, dan is dit in die Hemel gebonde.
So bind ons ook die onheil in die naam van Jesus en dit sal in die Hemel ook gebonde wees. So maak ons iemand los van die onheil op aarde en in die Hemel sal so iemand ook vrygemaak wees.
In Matt. 12 praat Jesus Christus oor die uitdryf van duiwels en sê: “Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei (gebind) het nie? En dan sal hy sy huis beroof.” Matt. 12:29. Mark. 3:27.
As die drankduiwels die sterk man in iemand se lewe is, dan kan ons nie vir daardie man begin bid alvorens ons nie die duiwels gebind en uit die man uitgedryf het nie. Eers dan begin ons vir die man bid en beroof ons hom van al die verkeerdheid in sy lewe.
“Kyk, ek gee aan julle mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” – Lukas 10:19.
“Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.” Joh. 20:21.
“Bely mekaar julle misdade (wat julle teenoor mekaar gepleeg het) en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” Jak. 5:16
Bely mekaar julle misdade beteken nie dat ons, ons sondes teenoor mekaar moet bely nie. Dit bely ons teenoor die HERE. Maar wanneer ons teen mekaar gesondig het, dit moet ons teenoor mekaar bely – soos byvoorbeeld kwaadsprekery, liefdeloosheid.
Ons kan nie antwoorde op ons gebede verwag wanneer ons liefdeloos tenoor mekaar is nie.
“Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.
“Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid; “seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; “wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
“Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.
“As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop.” Rom. 12:9-20.
Wat betref Joh. 20: 21-23 is dit duidelik dat ons as GOD se Medewerkers op aarde aangestel is. Soos wat die Vader Hom gestuur het, stuur Hy ons ook.
Hy sou ook nie die opdrag gegee het as Hy ons ook nie die krag voorsien het om die taak uit te voer nie.
Die vraag is: Waarom het GOD verkies om binne die raamwerk van gebed te opereer? Waarom het hy die volle verantwoordelikheid vir die uitvoer en administrasie van Sy Goddelike regering op aarde, op die skouers van die wedergeborenes geplaas?
Waarom sal Hy hom nie inmeng in aardse aangeleenthede nie, behalwe om op te tree in medewerking met Sy Kerk, Sy medewerkers?
GOD het uit en uit van Sy magte aan Sy Kerk gedelegeer. Hoe anders kon dit moontlik word om die Evangelie na elke uithoek van die wêreld te neem?
Ons het GOD is Medewerkers. Wanneer ons met Hom praat stuur hy nie gesant om ons te woord te staan nie, ons kan direk tot Hom spreek.
Deel van die Opdrag is: “En leer hulle”. Hoe sou dit moontlik wees om die nuwe siele wat inkom in die Koninkryk te leer, as dit nie die plig van die Wedergeborenes is nie?
“Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?” Jak. 2:14.
Ek en jy is nie gered om Hemel toe te gaan nie, ons is gered om die Koninkryk te bou. Ons moet dag en nag bid, dag en nag betrokke wees.
Wandel met God. “...wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.” Gen. 17:1.
“As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie – wat baat dit?
“Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. Jak. 2:15-17.
GOD had iets oneindig groot in gedagte toe Hy die stelsel van gebed ingestel het. GOD se Ewigheidsdoel met die heelal en Sy volk was om ‘n Ewigheidsmaat vir Christus op aarde te skep.
Hierdie feit is deel van die openbaarmaking van die misterie in die Boek Efesiërs wat die klimaks in Hoofstuk 5 bereik.
Hierdie hoofstuk verklaar die Goddelike openbarende parallel tussen GOD se menslike en Goddelike huweliksprogramme.
Strofe 32 klaar die misterie op wanneer Paulus onomwonde verklaar dat die huweliksmaats in die huweliksprogram, Christus en die Bruid (ons die Wedergeborenes) is.
Hoekom? Want die Bruid (die Kerk van Christus) in sy hoedanigheid as Bruid van Christus, as huweliksmaat, sal die hoogste amp in die heelal beklee, naas die Godheid self.
As Bruid van die Ewige Seun, sal sy saam met Hom universele soewereiniteit deel!
“Weet julle nie dat die Heiliges die wêreld sal oordeel nie. Weet julle nie dat ons Engele sal oordeel nie?” 1 Kor. 6: 2a-3a.
“As ons verdra, sal ons saam met Hom regeer.” 2 Tim. 2:12.
“En aan hom wat oorwin en My werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee.” Openb. 2:26.
“Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op My troon, soos Ek ook oorwin het en saam met My Vader op Sy troon gaan sit het.” Openb. 3:21.
“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir GOD met U bloed gekoop, uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse GOD gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” – Openb. 5: 9-10.
Omdat die wedergeborenes Christus se Geliefde en Bruid is, moet sy onderrig word, geleer word, en voorberei word vir haar Koninklike rol.
Deur Sy gesag aan die Bruid te delegeer om Sy administrasie en besluite op aarde uit te oefen moet die Bruid  leef  soos een wat gereed is om in die huwelik te tree.
Die Bruid moet toenemend in die binnekamer in gebed verkeer rakend GOD se Raadsbesluite en die uitoefening daarvan. Ons kan dit ook in-diens-opleiding noem.
Sy moet die kuns van geestelike oorlog aanleer en begryp, oor hoe om die onheilsmagte te verslaan in voorbereiding vir haar huwelik met die Lam van GOD en haar Troon-bestyging.
Om haar in staat te stel om die tegniek van oorwinning aan te leer, het GOD die stelsel van gebed ingestel.
Let op hoe word haar opdrag beklemtoon: “Wat jy ook al bind op die aarde sal in die Hemel gebonde wees,” “wat jy ook al ontbind op die aarde sal in die Hemel ontbonde wees.”
En, “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra,  dit sal hulle ten deel val  van My Vader wat in die Hemel is.” Matt: 18:19.
Hierdie delegering en verantwoordelikheid betreffende gesag en administrasie wat aardse aangeleenthede aanbetref, beslaan die hoogste eer, en verhoog die Bruid tot die hoogste rangorde onder alle lewende wesens.
Geen Engel of AartsEngel sal ooit hierdie hoë rangorde beklee nie, want nie Engele nie, maar alleen Wedergeborenes is in die beeld van GOD geskape en kwalifiseer om die Bruid te wees en die Bruidegom se troon te deel.
Hierdie raadsplan van GOD is nie as ‘n losse gedagte agterna ingestel nie, maar kom nog voor die grondlegging van die aarde af, aldus Efes. 1: 4.  “Hy het die Wedergeborenes uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.”
Dit was GOD se oorspronklike doel met die skepping van die heelal. En Sy gebedsprogram is die metode om die Bruid voor te berei vir haar toekomstige rol as Koningin.
Dit is waarom GOD nooit oor die kop van Sy Kerk gaan nie. Hy sal nie dinge uit ons hande neem nie. Ons het ‘n kardinale rol om te vervul.
Deur  Haar rol hier op aarde te vervul, kan Sy haar volle status bereik as mede-regeerder van die heelal. GOD kan Haar nie verlos voordat Sy nie haar verantwoordelikheid aanvaar en ‘n sukses van haar taak maak nie.
2 Pet. 3:9 lees: “Die HERE vertraag nie die belofte (van Sy Wederkoms) soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Hoe lank ons dus nog op hierdie aarde gaan wees voordat ons oor die konings en priesters van hierdie wêreld gaan regeer, hang alles van ons eie prestasie af. Ons moet die Getal vol maak, die Ecvangelie na elke mens op hierdie Planet neem.
Feit is, Hy kom nie voordat Sy Bruid nie sonder vlek of rimpel is nie. Efes. 5: 27.
GOD sal dus niks doen, anders as in antwoord op gebed nie. Die wedergeborenes moet in gebed en intersessie intree vir GOD se volk, vir herlewing, vir restourasie.
Die grootste wat enige wedergeborene vir GOD en vir die mens kan doen, is om te bid!
Natuurlik kan ons meer doen as net bid nadat ons gebid het, maar ons kan niks doen alvorens ons nie gebid het nie.
Deur gebed slaan ons die uitklophou. Deur dienswilligheid versamel ons die resultate. Hoe meer gebed daar is, hoe ‘n beter plek sal die wêreld wees waarin ons woon, en hoe magtige sal ons teen die onheil staande kan bly.
Geen Christen durf een dag in sy lewe nie met God te wandel nie!
Ons het en maak tyd vir alles, behalwe om te bid. Maar hopelik, nou dat ons almal besef wie ons werklik is en watter belangrike rol ons op aarde moet vervul en watter groter rol ons in die Hiernamaals gaan vervul,  hopelik sal ons nou tyd maak om met GOD te versoen en ons voor te berei vir die komende Huwelik.
Van nou af aan, laat die volgende strofe ons slagspreuk of ons wagwoord wees: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van GOD!” – 1 Kor. 10: 31.
Begin elke dag met Ps. 23, veral 23:6 en bely dit hardop: “Net goedheid en guns volg my in hierdie dag!”