Donderdag 02 Februarie 2017

Tel jou seëninge


Image result for girl at a grave


Ek is Okei...

In ’n ou tydskrif skryf ’n plattelandse man dat hy eenkeer drie klein dogtertjies in die begraafplaas tussen die grafte gekry het. Hulle het heerlik langs ’n vars graf gespeel. Op sy bekommerde vraag wat hulle daar doen, antwoord die oudste: “Oom, ons speel hier by ons mamma, sy is in hierdie graf.”
            Baie ontsteld oor die drie kinders wat hulle ma verloor het, vra hy belangstellend uit om te weet wat hom te doen staan. “Noudat julle mamma dood is, wie gaan na julle kyk en vir julle sorg?”
            “Oom, dit is God se probleem, Hy gaan dit uitsorteer, ons is oukei,” antwoord sy toe met sekerheid.
            Dis wat volkome vertroue is! As dit is wat dit beteken om soos ’n kind te glo, het baie Christene ’n entjie om te gaan. Sommige kan nie help om hul te kwel nie. Hulle vra daagliks vir God om hulle probleem Syne te maak, maar neem dit dadelik weer terug om daaroor te broei en te peins!
Hulle vertroetel dit graag, lê in die nag daaroor wakker en vra môre weer opreg dat God dit op Hom moet neem. Hulle het egter ’n onvermoë om te laat los en te vergeet!
            Dit beteken hulle twyfel en hieroor sê die HERE: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesleep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.” Jak 1:6-7
            “Het Ek jou nie beveel nie - wees nie bevrees of verskrik nie, want die Here jou God is met jou oral waar jy heengaan" Jos 1:9
            Lees ook Ps 91 en glo dit (hoekom?) want God sê dit!
            Tel jou seëninge, nie jou probleme nie...
            Mens moet nog leer om te sê: Dit is nou God se probleem, Hy gaan dit uitsorteer, ek is oukei!