"Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die Koninkryk van God is juis vir mense soos hulle." Luk 18:16
In Die Bode van September 2000, die kwartaalblad van die Transnet Christelike Unie, skryf Leon Jones hierdie aandoenlike ervaring oor homself:
"Dit word laat," sê ek vir my ses jaar oue seuntjie. "Jy moet solank gaan inkruip."
Vandat ek en my vrou drie maande tevore van mekaar vervreemd geraak het, en ek my eie plek gekry het, bring Greg elke tweede naweek by my in my woonstel deur.
"Gaan ons nie eers bid nie?" vra hy heel onskuldig.
Van kleins af het ons hom geleer en gehelp om voor slapenstyd sy gebedjie op te sê, en dit was vir hom belangrik. Maar vanaand was dit reeds laat ek het nog baie werk gehad om te doen.
Ek skakel my rekenaar aan en hoop hy sal sien ek is besig – miskien kan ons vanaand oorslaan!
"Wanneer kom Pa?" kerm hy egter. Ek dink by myself: laat ons dit agter die rug kry. Hy sal my tog nie ophou pla nie.
Ons is na sy kamer toe en ek gaan langs hom op die bed sit, maak die Bybel oop en rammel 'n paar strofes af.
Toe ek die Bybel toemaak, kniel hy langs die bed. "Wie gaan eerste bid, Pappie?"
"Bid jy maar eerste, my kind," sê ek en hoop dit gaan nie lank neem nie. Ek het nog baie werk gehad.
"Liewe Jesus," begin hy, sy hande onder sy ken gevou. "Dis Greg hierso."
Hy kyk op na my en glimlag ingenome met homself. Hy maak sy oë weer toe.
"Ek het vandag 'n lekker dag gehad. Ek het met die meisietjie hier langsaan gespeel. Haar naam is Susan."
Hy bly weer stil en kyk op na my. "Weet liewe Jesus dat Pappie en Mammie nie meer saambly nie?" vra hy ernstig.
"Hy weet," antwoord ek stug.
"Liewe Jesus, dis weer Greg hier," bid hy verder. "Ek gaan môre weer terug na Mammie toe; so ek wil net vra dat U moet mooi kyk na Pappie en Susan ook en..."
Hy hou op en kyk bekommerd na my. "Susan se Pappie bly ook alleen, en sy van is ook Jones. Sal liewe Jesus nie deurmekaar raak nie?"
"Nee, Greg," kreun ek.
Wanneer gaan hy tog klaarkry?
"Is Pa seker?" "Ek is baie seker, Greg," sê ek nou effens ongeduldig. "Hy weet wie's ek en Hy weet wie's Susan se pa."
"Is Pappie nou kwaad vir my?"
"Nee, ek is nie kwaad nie, Seun – maar mens bid nie soos jy nie. As jy bid, praat jy met die HERE. Jy kan nie 'n bietjie met Hom praat en dan weer 'n bietjie met my nie. Dis 'n ernstige saak om te bid."
"Soos die grootmense in die kerk?" "Soos in die kerk, ja!"
Hy sluit weer sy oë. "Onse Vader, wat in die Hemel is..." Hy loer onderlangs vir my. "Ek bid vir Pappie en vir Mammie...ee..." Hy bly weer stil.
"Is dit beter, Pa?" Skielik voel ek skuldig. Weg was sy spontaniteit en ek kon sien hy weet nie wat om verder te bid nie.
"Greg, vergeet wat pa gesê het – bid soos jy altyd gebid het – praat met die HERE soos voorheen." Hy glimlag verlig.
"Liewe Jesus, dis weer Greg; Ek wil so graag hê Pappie moet terugkom huistoe..."
Ek onthou skielik hoe gelukkig ek en my vrou voorheen was; die liefde wat ons gedeel het en hoe wonderlik dit is om 'n seun soos Greg te hê. Vir 'n oomblik probeer ek dink waar dinge dan so verkeerd geloop het. Was dit die stres van my werk? Was dit afvalligheid van die Here? Verwag ons te veel van mekaar? Of was dit iets anders.
Greg het gou aan die slaap geraak en ek het na my eie kamer toe gegaan, die deur agter my toegetrek en by my bed gekniel.
"Here Jesus, dis Leon hier. Daar is iets waaroor ek met U moet praat......"
Wanneer ons, met watter probleem ook al, by hierdie plek kan uitkom, gaan die lig vir ons op. Leon het in Die Bode, net tot hier geskryf. Ons glo dat hy en sy vrou weer verenig is.
Ons glo dit is wat gebeur het. Want die Here het belowe, as ons só nederig en afhanklik kom bid, steek Hy Sy hand uit en doen vir ons die onmoontlike. "
Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie...Hy het Sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën." Mar 10:14,16