Dinsdag 24 Januarie 2017

Hoekom Kerk toe gaan?


‘n Kerkganger skryf ‘n brief aan die plaaslike koerant en kla dat dit net nie langer sin maak om kerk toe te gaan nie. Hy skryf: “Ek gaan die afgelope 30 jaar kerk toe en ek het in hierdie tyd na sowat 3 000 boodskappe geluister waarvan ek net mooi niks kan onthou nie. Ek dink ek mors my tyd en die predikant  mors ook sy tyd.
            “Dit het groot polemiek in die koerant ontken.”
            Die redakteur het die lewendige belangstelling in die koerant geniet want die briefskrywery het ‘n hele ruk lank aangehou. Skielik eendag het iemand ‘n brief geskryf wat almal in hul spore laat stuit het.
            “Ek is 30 jaar getroud. My vrou het die afgelope 30 jaar vir my sowat  32 000 etes voorgesit, maar ek kan nie ‘n enkele spyskaart onthou nie. Al wat ek weet is dat die etes my gevoed het en van krag vir elke dag voorsien het. As my vrou nie die etes berei het nie, sou ek vandag seker nie meer gelewe het nie.
            “So ook, as ek nie elke Sondag geestelike voeding by die kerk gekry nie, was ek vandag geestelik dood”
            As dit skielik lyk of jou lewe tot stilstand kom, is dit dalk snoeityd.
            “Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos 'n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in 'n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.” Jer 17:7-8
   
Die nuwe seisoen vir die druiwe het al einde verlede Julie begin. Dit gaan ook oor ‘n nuwe seisoen in ons lewens. Hoekom word ‘n wingerd gesnoei? Hoekom word ons gesnoei? Sodat dit meer vrug kan dra. Joh 15:2.
            ‘n Nuwe seisoen breek eers na die snoeityd aan. Wingerde word in die winter gesnoei sodat dit van November tot Maart en selfs later die volgende jaar meer vrug kan dra.
            Toe alles gesnoei is, toe lyk dit maar treurig, so asof alles vir hektare eeneen vrek is.
            Om die nuwe seisoen tegemoet te kon gaan was baie winterreën nodig. En daai erge koue en sneeu en baie reën... storm op storm. Ken jy ooit die Kaapse storms?
            Eers in September begin die eerste groen blaartjies skaam-skaam wys.
            Die winter is nog nie klaar met sy werk nie. Hy en die komende somer is in drif en drang soos die een nie wil toelaat dat die ander voor hom inskuif en oorneem nie.
            Eers teen Desember hang die trosse. Hanepoot, die lekkerste en geurigste druiwe is eers teen einde Maart reg.
            Maar kyk al die drama wat afspeel hier van Julie af. En dan die nare Augustuswinde ook nog. Dis soms so erg dat mens wonder of daar ‘n oes gaan wees. En dan is daar al die siektes soos donsskimmel wat ‘n wingerd aanval en sy nuwe seisoen negatief kan beïnvloed.
           So, Nuwe Seisoen, beteken nie dis vandag geprofeteer en more eet jy Hanepoot nie.
            Die koms van baba is ook ‘n nuwe seisoen en dit vat soms langer as 9 mde. Sommige paartjies wag jare lank.
            Let weer op: As jy verlang dat jou Nuwe Seisoen vlot verloop: “Geseënd is die man (en die vroue) wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy of sy sal wees soos 'n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in 'n jaar van droogte is so ‘n boom nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.” Jer 17:7-8.
            In Israel het skrywer gesien hoe dat ‘n reuse olyfboom wat onder aan sy stam feitlik morsaf geslaan is deur weerlig en net ‘n vingerdikte kontak tussen die wortels en die boom oorgebly het, daardie boom jaar na jaar oorloop van olywe.
            Laat mens dink aan: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.” Jes 42:3
            Dis wonderlik om ‘n Nuwe Seisoen in ‘n mens se lewe te betree, maar daar is prosesse wat deurgegaan moet word en ‘n mens moet jou lewe in order kry daarvoor.
            Die Bybel moenie herskryf word nie, dit moet net herlees word.