Donderdag 09 Februarie 2017

Staan op en Loop


Image result for kruis van Jesus

Die wêreld vlug voor ‘n vernietigende tornado wat dood en verwoesting saai weens die anti-Christiese magte wat aan die werk is, ondermeer deur middel van toenemende vervolging van Christene, bedrog, misdaad, terrorisme, moord, verkragtimng, mensehandel, maar veral magsbeheptheid.
            Die magstryd in die wêreld is soos ‘n dodelike virus wat mense, stamme en volke vernietig. Die meeste mense dryf ankerloos rond want hulle het toegelaat dat hulle deel van die malle maalstroom word.
            Magte buite hulle beheer dryf hulle en hulle is magteloos om iets daaraan te doen.
            Sommige bid vir ‘n magtige geestelike herlewing om die dinge wat oor die aarde kom te kan ontvlug. Watter soort herlewing word bedoel?
            Wat nodig is, is ‘n herlewing gebaseer op Bybelse lering en waarheid, waar mense sal besef hulle behoort in die eerste plek aan Christus en aanbid in die tweede plek toevallig by een of ander gemeente – dat dit nie om kerk gaan nie maar om eenheid in Christus. Joh 17:22
            Voor die troon van God sal nie kerke staan nie, maar Wedergeborenes uit alle nasies, stamme, volke en tale. Openb. 7:9. Herlewing is net moontlik wanneer ons verby kerk- en kultuurgrense mekaar as God se volk aanvaar – wanneer ons kan raaksien dat die Wet vervolmaak word in die Groot Gebod van Liefde. Jak 2:8
            Herlewing word moontlik wanneer ons besef dat die Evangelie van Jesus Christus ‘n nuwe bedeling ingelui het, ook vir die heiden (Matt. 8) waar Christus onder meer ook die stelling maak dat mense nie die Ewige Lewe kan beërwe omdat hulle van Abraham is nie, maar as gevolg van Geloof.
            Herlewing word moontlik wanneer ons volgens Matt. 12:18-45 besef dat as ons, soos die mense van Ninevé, gered kan word as ons aan die Jona-boodskappe van vandag gehoor gee.
            Herlewing word moontlik wanneer ons besef dat ons gebrek het aan krag uit die hoogte. Luk. 24:49
            Dit was Christus wat gebid het: Vader, dat hulle een mag wees soos wat Ek en U een is. Joh. 17:22
            Ons sal noodgedwonge die dinge wat die eenheid onder ons verbreek en in die ban moet doen.
            Pinkster het Jerusalem geskud. Die herlewing  100 jaar gelede het die mensdom geskud. Die herlewing in die sewentiger jare het die wêreld ook geskud maar in ‘n mindere mate.
            Die herlewing van die sewentiger jare is doodgedruk deurdat mense dieselfde fout as Eva begaan het deur van die Boom van Kennis te eet, in plaas van die Boom van die Lewe.
            Kerke wou die herlewing nie aanvaar nie en baie het lidmate verloor en verloor steeds lidmate. Vandag is die tendens gemeenskapskerke en huiskerke.  Dit maak ook sin want mens gooi nie nuwe wyn in ou leersakke nie. Lukas 5:37
            Terwyl Christene in toenemende maat bid om ‘n nuwe wêreldwye herlewing, is diegene wat van die Boom van Kennis eet, besig om in die pad van so ‘n broodnodige herlewing te staan. Hulle doen dit met nuwe ideologieë oor ‘n sogenaamde historiese Christus waarin tot Jesus se maagdelike geboorte betwyfel word.
            Al die tekens is daar dat die kerk (Kennis) en die Eklesia (Lewe) se weë besig is om te skei. Die misleiding is besig om sy kringloop te voltooi. Die Waarheid haal die leuen in.
            Gewone mense begin besef dat die apostels nooit teologiese kursusse gevolg het nie, nooit komiteevergaderings bygewoon het nie, nooit boeke oor kerkgroei gelees het nie, nee, hulle was bloot geïnspireer deur die Heilige Gees en het oorgeloop van liefde, ‘n liefde wat die onmoontlike moontlik gemaak het – verlossing en genesing.
            Moses het na God geluister. As hy ‘n komiteevergadering gehou het was die Israeliete seker vandag nog in die woestyn.
            Met Abraham gaan dit goed. Hy is vooruitstrewend en het oorvloediglik van alles. Dan kom God se opdrag: Pak op en trek deur die woestyn. Langs die pad sal Ek jou aantoon waarheen jy moet gaan.
            Abraham het alle rede in die wêreld gehad om Van die Boom van Kennis  aan te wend en te sê: Dis tog ligsinnig. Hier woon ek met derduisende stuks groot- en kleinvee, knegte, hulle vroue en kinders, my eie vroue en kinders, dit gaan goed met ons, God het ons inderdaad geseën, hoe sal God dan nou wil vra dat ek hierdie vrugbare grond moet verlaat en deur ‘n woestyn moet trek?
            Maar Abraham eet van die Boom van die Lewe. Hy pak op en trek. Hy weet nie waarheen hy trek nie, maar hy weet saam met Wie hy trek!
            Herlewing word moontlik wanneer ons besef dat die eerste stap na vreugde ‘n pleidooi om hulp is, ‘n erkenning van morele armoede, van innerlike gebrek.
            Dit was ook die kenmerk van die herlewing 100 jaar gelede toe mense hardop na God geroep het, gepleit het om hulp, hulle sonde en morele armoede en innerlike gebrek bely het. Mense het geestelike naak voor God gestaan en Hy het Sy liefde en krag mildelik oor almal uitgestort.
            God se vreugde word gebore in jou erkenning van morele armoede en nie op grond van jou roem en prestasie nie. Laat staan jou verwaandheid, verklaar jou onmag. Is jy nie al moeg vir die stryd teen magteloosheid nie, die selfregverdiging en verdigsels nie?
            Nie net skei kerk- en kultuurgrense ons nie, maar ons fisiese heinings om ons dorps- en stadserwe speel net so ‘n groot rol. Ons weet nie eers wie langs ons woon nie, ook nie wie agter of oorkant die straat van ons woon nie.
            Ons sluit onsself af in kokonne. ‘n Broer vertel dat die mense in sy straat hom nie groet nie omdat hy nie aan hulle kerk behoort nie.
            Ons sit in tronke van hoogmoed vol skeppings van ‘n eie self.
            Die verwoestende tornado wat oor die aarde heen opsteek, is dieselfde as die storm die nag op die See van Galilea. Was jy al in ‘n skuit deur hoë golwe, reën en ‘n stormwind rondgeslinger en dit boonop in die nag, boonop sonder dat jy ‘n idee van rigting het? Ek was.
            Geen mens het ons ‘n kans op oorlewing gegee nie. Niemand kon ons help nie. Net God kon ons red.
            As jy jou vandag in die stormsee van die lewe bevind, weet dit dat God  gereed staan om jou te red.
            As ek dit nie geglo het nie, sou ek dit nie geskryf het nie, want ek het persoonlike ervaring van beide: Die werklike stormsee in die donker nag, vol vrees oor die verraderlikheid van die see, asook die storm op die lewensee.
            Herlewing word moontlik wanneer jy onder meer al Paulus en Petrus se sendbriewe lees. Dit is aan my en jou ook gerig. Dit is die olie waarmee ons, ons lampe moet volmaak! Het die werklikheidsbesef nog nooit tot jou deurgedring dat jou lamp noodwendig vol olie moet wees nie?
            Luister na ons mense by die bymekaarkomplekke: Hulle is gehawend, hulle drome is verpletter, hulle is beswaard oor die toekoms en of daar ‘n toekoms is. Hulle sanik oor al die gebreekte beloftes. Fortuine wat hulle sou maak in die dobbelhole en in die piramide-skemas, het niks van gekom nie.  Hulle het net geld verloor.
            Hulle is griefdraers en moddergooiers wat wrewelpartytjies hou. Die een druk die ander dieper die moeras van moedeloosheid binne. Hulle is verslaaf aan bitterheid, woede, emosies en wanpersepsies. Onbewustelik het dit hulle dryfkrag geword. Dit is hulle oorlewingstonikum.
Niemand het enige sekerheid oor niks nie. Twyfel het een van hulle afgode geword.
Hulle kla oor hulle egskeidings, hulle spog oor hulle houvroue. Oor hulle kinders se agteruitgang wil hulle liewer nie praat nie. Steeds verlang hulle na nuwe leiers, na roem, na besittings, na passie, na avontuur, na romanses – alles net poele brakwater.
Hulle dink dat hierdie waters hulle dors kan les omdat jy hulle nie vertel van die Lewende Waters van die Godgegewe Evangelie nie!
Eseg. 3:18-19 lees: “As Ek aan die Goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe – en jy (Christen gelowige) waarsku hom nie en spreek nie om die Goddelose vir sy Goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die Goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar, sy bloed sal Ek van jou hand eis!
            “Maar as jy die Goddelose waarsku, en hy hom nie van sy Goddelose
weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy, jy het jou
siel gered!”
            Getuig, getuig, getuig, waarsku die Goddelose en red jou eie siel! Wees
soos Paulus wat  in Rom 1:16 sê: “Want ek skaam my nie oor die Evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen
wat glo.” Daardie redding beteken vrymaking, veiligheid en genesing.
            Paulus sê: “…vir elkeen wat glo.” Wat beteken dit in die praktyk?
Eenvoudig die volgende: Petrus kom by die man by die poort en sê aan die
verlamde  “… staan op en loop.” As die man nie probeer opstaan het nie
sou hy nooit geloop het nie.
            Kan jy opstaan en loop? Watter bande bind jou dan dat jy bly sit? As jy bly sit gaan jy vir seker vergaan. As jy opstaan, stap jy ‘n nuwe lewe binne en God gaan jou en jou getuienis gebruik!
            As jy opstaan gaan die kreupeles loop, die dowes hoor, die blindes sien, gaan mense innerlike genesing ontvang, gaan siele gered word, gaan die Koninkryk gebou word.
            Waarom staan jy nie op nie?
            Komaan, sê soos Dawid – toe hy nog ‘n (eenvoudige) skaapwagter was:
Ek kan nie, maar God kan. Hy gee my nuwe krag. Met my God spring ek oor ‘n muur – ja, oor die mure van twyfel, van frustrasie, van kerke, van kulture, van ellende!
            God wag op jou reaksie!