Woensdag 15 Februarie 2017

Hoe groot is die Hemel?




         
Anthony Collins

Een Sondagoggend loop een van Engeland se beroemdste vrydenkers, Anthony Collins, 'n eenvoudige man, wat op pad is kerk toe, raak. "Waarheen is jy op pad?" vra Collins. "Kerk toe, Meneer," antwoord die man. "Is jou God 'n groot God of 'n klein God?" vra Collins met die doel om hierdie gelowige man te verwar.
Die man antwoord: "Meneer, Hy is so groot dat die Hemel hom nie kan bevat nie. Maar Hy is ook so klein, dat Hy in my hart kan woon."
Anthony Collins is in 1729 oorlede. Hy het 'n beroemde boek, Discourse on Freethinking, geskryf. Hy het egter later, na sy gesprek met die kerkganger, verklaar: "This simple, but sublime answer of an uneducated man, had more effect upon my mind than all the volumes of argument I had read in favour of religion."
            God wat groot is, kan nie net in 'n man wat klein is se hart woon nie, maar Hy kon ook 'n geringe en eenvoudige man se getuienis, aan een van hierdie wêreld se groot manne, nuttig gebruik. Ek wens ons kon weet of Collins ooit by God uitgekom het.
            Collins was ‘n filosoof en beskermer van “die natuurlike godsdiens”. Hy was ‘n gegradueerde van Eton en King's Kolleges, Cambridge. Hy was ook ‘n gegradueerde in die regte aan The Middle Temple.
            Hoe groot is die Hemel? Dit moet allemintig groot wees as ons die sterre as ‘n soort maatband inspan. Wetenskaplikes het die uitspansel in melkweë opgedeel in ‘n poging om te probeer bepaal hoeveel sterre daar is.
            Klein melkweë het elk sowat 10 miljoen sterre. Die groot melkweë het sowat 10 triljoen sterre elk. Ons eie melkweg het sowat 200 biljoen sterre. En sterre of planete is in meeste gevalle groter as die planeet Aarde.
            As ons in ons eie melkweg van die een kant na die ander sou reis teen die spoed van lig, sou die reis 100 000 jaar duur, aldus NASA, die Ruimte-agentskap.
            En steeds weet die wetenskaplikes nie presies hoeveel sterre daar is nie want hulle ontdek steeds nuwe melkweë. Hoe groter en sterker die teleskope wat deur die mens vervaardig word, hoe groter word die heelal. Dis onpeilbaar.
            Hoe groot is die heelal dan? Al wat NASA kan antwoord is, “oneindig”.
            En hoe is groot God dan? Hy is onmeetbaar groot, maar let op, Hy is so groot: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.” Ps 147.4
            Christene glo, aan die hand van die Skrif, dat hulle, wanneer hulle die tydelike met die Ewige verwissel, Hemel toe gaan. Dit gaan wel gebeur, maar is daar plek vir almal, vra iemand.
            Aan die hand van die bogenoemde paar feite, sal al die gelowiges op aarde nooit die Hemel kan vul nie.
            Ons is veronderstel om saam met Jesus Christus in Hemelse plekke te sit, maar is dit waar ons is?
            “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered — en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van Sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.
            “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
“Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (hoekom?) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Efes. 2:4-10.
God het ‘n plan met elkeen van ons se lewens. Binne daardie plan word van elkeen van ons verwag om die Koninkryk te help bou.
Dit in kort is waarom jy en ek gebore is.
            Maar, elkeen wat gebore word, het ‘n vrye keuse: Om die pad na die Hemel te bewandel of op die breë weg na die afgrond te volg.
            Maak jou keuse!