Dinsdag 28 Julie 2015

Ouers – Wees getrou aan God


Image result for godly parents

“Die roede en die bestraffing gee wysheid ; maar ‘n seun wat aan homself
oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.” – Spreuke 28:15

“Tugtig jou seun, want daar is hoop…”  – Spreuke 19:18

“Hou die tug nie terug van die kind nie, as jy hom met die roede slaan sal
hy nie sterwe nie.

Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” –
Spreuke 23:13-14.
Daar is iets hemels, iets onskuldig, iets wonderlik omtrent klein kindertjies.  Hulle is gawes van God en geen geld kan hulle koop nie.

Maar elke klein kindjie het ook iets sondig in hom.  Elkeen van hulle het ‘n natuur wat, as dit nie ingeperk word nie, handuit ruk met ontsettende gevolge. Ps. 58:4.

Omdat God mense straf oor sonde, en selfs Christene daaroor tugtig, sal dit verwaand wees van ons as ouers as ons sommige opvoeders glo wat sê dat kinders nie getugtig mag word nie.  Die kinders moet glo net met liefde grootgemaak word.

Natuurlik moet daar ‘n oorvloed van liefde in ‘n gesin wees, maar die roede beskerm dit juis en bou die liefde uit.
Om ‘n kind vir elke bakatel te slaan, is net so verkeerd as om hom nie te tugtig wanneer dit nodig is nie.  Om hom te tugtig sonder rede of sonder om rede te verskaf, is ook verkeerd.

Die Bybel leer duidelik dat ‘n roede gebruik moet word. Mens slaan nie ‘n kind met jou plat hand of vuis nie.  Jou hande is gegee om mee te seën, te genees.  Die praktyk het geleer dat selfs ‘n hond respek vir ‘n mens verloor wat hom met die hand in plaas van ‘n neutrale voorwerp slaan.

Die wêreld, ook SA, se immorele en kriminele jeugbendes is die produk van ouers wat nagelaat het om hulle kinders te tugtig, te leer en te dissiplineer.
Dit is die plig van ouers om kinders vir die Hemel voor te berei, veral ook omdat hulle dit as ‘n belofte aan God afgelê het. Tugtiging is en bly aller noodsaaklik.  Ook op skool. ‘n Geregverdigde ses-van-die-bestes in die skoolhoof se kantoor het geen kind kwaad aangedoen nie.

Volwassenes wat as kinders getugtig, geleer en gedissiplineer was, sê vandag almal dat dit die beste ding was wat hulle as kinders oorgekom het.
Tugtiging en dissipline is ‘n noodsaaklike komponent by die vorming van ‘n kind se karakter. Spreuke 22:15 sê:  “As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.”

Daardie eie wil is die wortel van alle sonde en ellende.  Wat dit ook al in kinders aanvoor het nadelige nagevolge, selfs geestelik.  Wanneer daarteen opgetree word, bevorder dit hul toekomsgeluk en vroomheid.
Die Christen Godsdiens is niks anders nie as om die wil van God te doen.  Ouers het ‘n plig teenoor God en teenoor hulle kinders om God se wil te doen.  Volwassenes wat ook ‘n eie wil in plaas van God se wil openbaar, pluk net wrange vrugte daarvan.
Die korrekte opvoeding van kinders lê die fondament vir die pad na die Hemel.  Die enigste ander pad is die een oor die afgrond na die hel.
Spreuke 13:24 sê:  “Wie sy roede terughou, haat sy seun, maar hy wat sy seun liefhet, besoek hom met tugtiging.”
Vaders is die hoë priester van hul gesinne.  Vader Abraham is ons voorbeeld in Gen. 18:17-19. God het Abraham gekies omdat Abraham gewillig was on sy gesin die weë van God te leer.  Die gesinslewe is die pilare van ‘n Christenvolk.

Vaders moet hulle gesinne die Woord van God leer. Deut. 4:9,10.  Die Woord is die grondslag van die Goddelike gesprek en leefwyse. Deut. 6:6-9. Spreuke 4:1-4 is nog ‘n voorbeeld van ‘n vader wat sy seun leer.
Die man is hoof van sy vrou – 1Kor. 11:3,4.  Hulle moet hulle vroue liefhê – Efes. 5:25.  Hulle moet hulle vroue eer – 1Pet. 3:7.  Hulle moet hulle huise goed regeer – 1Tim. 3:4 en 12.
God het ‘n orde geskep wat soos volg lyk: God self, die Engele, die man, die vrou, die kinders, die diereryk, planteryk en mineraleryk.  Niemand durf hierdie orde omver gooi nie.

Moeders baar kinders en leer hulle – 1Tim.5:14.  Hulle bring hulle kinders na Jesus Christus – Mark 10:13-16.  Hulle moet hulle kinders leer oor geloof en ‘n sterk geloof openbaar – 11 Tim.1:5 en 3:15.
Ouers moet hulle kinders leer – Spreuke 22:6. Hulle moet die kinders korrigeer – Spreuke 13:24; 19:18; 22:15; 23:13.  Hulle moet aan die kinders voorsien – 11 Kor. 12:14.
Kinders weer, moet hulle ouers eer – Deut. 5:16 en Efes. 6:12.  Kinders moet gehoorsaam wees – Efes. 6:1.  Kinders moet God dien – Pred. 12:1. Die jongmanne moet nugter en verantwoordelik wees. Tit. 2:6-8.
‘n Mens sonder beginsels, is ‘n beginsellose mens. ‘n Volk sonder beginsels, is ‘n onbeskaafde volk.
As ‘n volk sy beginsel vergeet, oorboord begin gooi, dan verval hy in barbarisme.
As ‘n volk gesonde beginsels verwerp, word hy ‘n dweepsieke volk.
Die denkende Christen moes 30 jaar gelede – want toe was die skrif al aan die muur – sy gesonde beginsels op twee fronte verdedig het.  Hy het dit nie gedoen nie
Vandag het hy weer geleentheid om dit te doen:

Die eerste is  teen die verwaarlosing van alle beginsels wat ly tot  sosiale en persoonlike agteruitgang.

Die ander is die aanname van vals beginsels wat die wêreld in anargie dompel.
Die gevaar op die oomblik is dat ‘n groot deel van ons Christene  vergeet het dat ons Christen-beginsels ooit bestaan.
Ons moet dus onsself verdedig deur vernuwing van ons bewuste ware geestelike, morele, politieke en ekonomiese beginsels. Ons moet dit ook onverwyld in elke sektor van ons  volks-, gemeenskaps- en gesinslewe toepas.
Ons het die pligte van die vader as hoë priester van die huis verskuif na die predikant en die Sondagskool.  Die pligte van die ouers het ons verskuif na die sekulêre skool. Ons morele, volks- en ekonomiese beginsels het ons op die staat afgeskuif.
Ons het beheer oor ons self en ons eie huishoudings verloor. Ons staan skuldig voor God en ons kinders.  Ons is in ellende.
Daar is net een oplossing: verootmoediging en restitusie.  Dien weer die HERE soos dit hoort – nie ons eie wil nie, maar God se wil.  Ons het tog nou duidelik gesien waar ons eie wil ons laat beland het.  Hoe kan ons onsself nog langer Christene noem?
Daar was vyf wyse maagde en vyf dwase maagde, maar sommige van ons het nie eers lampe nie, wat nog te sê van olie hoegenaamd.

So seker as wat Christus gebore is, gaan Hy weer kom.  Kom ons wag vir Hom met reikhalsende verlange, maar as sierade en met trots! – Sjibbolet