Vrydag 03 Julie 2015

Wat verlore is moet ten alle koste gevind word


Image result for liefde wen

·  
Vind ook jouself...



In Lukas 15 word drie verhale vertel: Die een oor die herder (Jesus) wat 100 skape gehad het. Toe een daarvan wegraak het hy die 99 gelos en daardie verlore skaap gaan soek.
            In die tweede storie verloor ‘n vrou (die Bruid) een van haar 10 pennings. Sy steek ‘n lamp (openbaring) op, en vee die huis om die verlore muntstuk te soek.
            In die derde verhaal is die bekende Verlore Seun wat ook verlore was, maar uiteindelik keer hy self huis toe.
            Ons het dus ‘n verlore skaap, ‘n verlore penning en ‘n verlore seun. Die drie verhale begin by 100, dan 10 en dan een plus een.
            In die eerste verhaal vind die HERE die skaap en kyk wat gebeur dan:
            “En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers. (Die skaap was afgedwaal, moeg, honger, dors, verwese en dit word teruggedra)
            “En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.
            “Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die Hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege en negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.” Luk 15:5-7
            Die tweede storie van die verlore penning gaan oor geld. Binne die gemeente moet daar wys met die geld gewerk word. Kyk wat gebeur hier:
            “Of watter vrou (Die Bruid, die Liggaam) wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?
            “En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het (binne die huis).
            “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die Engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.” Luk 15:8-10
            Die verhaal dui dus op geld en verwys ook na verlore sondaars.
            Geld kan baie probleme skep. Daar is niks mee verkeerd om R10 miljoen in die bank te hê nie, maar as die R10 miljoen jou het, wag groot probleme op jou.
            Die verlore skaap en die verlore penning word gevind en daar is groot blydskap in die Hemel. Die verlore skaap en penning is dus geheilig en daarom is die ander 90 skape en die ander pennings ook geheilig.
            In die geval van die laaste verhaal, fokus almal gewoonlik net altyd op een seun, maar die verhaal begin vertel van twee seuns… die een is so belangrik soos die ander.
            Die een seun het sy eie koers ingeslaan, sy fout byna te laat agtergekom en teruggekeer. Ook in dié verhaal word groot fees gevier met die terugkeer van die eens verlore seun.
            Maar let op hoe gaan die ander seun homself te buite oor die manier waarop sy verlore broer terug verwelkom word. Dis om van ween.
            En dit gebeur vandag nog wanneer ‘n eens verlore broer of suster terugkeer na die gemeente. Daar is ‘n groep vol blydskap oor sy terugkeer, maar daar is die ander wat glad nie gelukkig is met die manier waarop die verlorene terug verwelkom word nie.
            Daar word in die terug gevallene se foute vasgekyk, pleks van sy verlossing en oorwinning!
            Oor die verlore seun sê die Vader: “Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.” Luk 15:24. Daar was ook vrolike musiek en beurtsange.
            Terwyl dit alles gebeur het, was die ander seun in die veld. Met sy tuiskoms vra hy aan die diensknegte wat is gaande en hulle vertel hom sy broer het teruggekom.
            “En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom.
            “Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit 'n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie.
            “Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.
            “Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue.
            “Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.” Luk 15:28-32
            Die lede wat in die gemeente tuisgebly het, moet oplet wat met die verlore broer/suster gebeur het: Want God het hom of haar vergewe. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Ps 103:12
            Noord en suid is sowat 19 200 km van mekaar af, maar die afstand tussen oos en wes, is onmeetbaar. Die een wat terugkom is bloedgewas, sy sondes vergewe, van elke ongeregtigheid gereinig. 1 Joh 1:9
            Ons wat tuisgebly het durf nooit na die verlore broer of suster se verlede te verwys nie. Nooit nie!
            Die liefde is ‘n Koninklike Wet. “As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8.
Die skrif verwys telkemale daarna dat ons ander moet liefhê soos onsself.
Is dit moontlik om onsself lief te hê?
            Hierdie kan as ‘n meetinstrument beskou word: Hoe lief ek myself het, bepaal hoe lief ek ander het.
            Dit bepaal ook my geestelike stand in Christus.
Liv 19:18 “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.
            Liv 19:34 “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself...”
            Matt 19:19 “Eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
            Matt 22:39 “En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
           Wat ons ook hieruit leer is dat dit belangrik vir ons is om te weet in watter mate ons onsself lief het.
           Jy moet jouself liefhê. Ontlok hierdie woorde ‘n negatiewe reaksie by jou? Klink dit nie selfsugtig en egoïsties nie?
           Om jouself lief te hê beteken nie om selfgesentreerd te wees nie. Dit beteken om respek vir jouself te hê, om jouself te beskerm, vir jouself om te gee.
           Kyk weer na Liv 19:18: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” Moet dus nooit ‘n wrok teenoor iemand hê nie, maar “hê jou naaste lief soos jouself.”
            Die drie verhale gaan oor niks mag verlore gaan nie.
            Die broer wat tuis gebly het, was meer verlore as sy broer wat die voetpad van die wêreld ingeslaan het.
            Sorg dat jy jouself lief het, dan sal jy ander asook vir God liefhê... met jou hele hart... – Sjibbolet