Donderdag 20 Augustus 2015

Gelowiges se Voor- en Agterhoede...


Image result for bible



Gelowiges word deurentyd voorgestel as ’n leërmag, nogtans is ons Leidsman die Prins van Vrede.  Die doel van hierdie leërmag is om vrede te bewerk en die soldate is mans en vroue met ’n geaardheid en ‘n passie vir vrede.
            In hierdie oorlog van Liefde lê mense hulle lewens af vir Christus en word hulle “nuwe skepsels”.
            Die gees van ’n werklike oorlog is presies die teenoorgestelde. Daar is geen liefde nie, net haat en die totale vernietiging van menselewens. Sulke leërmagte het ’n voorhoede en ’n agterhoede.
            God se leërmag het ook ’n agterhoede en ’n voorhoede: “Want julle sal nie baie haastig weggaan en nie soos vlugtelinge vertrek nie; want die HERE trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede.” Jes. 52:12.
            Gelowiges leërmag moet geestelik militant en gedissiplineerd wees, gedurigdeur oorlog maak, welwetende dat die oorwinning is reeds in sy hand  want die HERE is sy voorhoede sowel as sy agterhoede. Dit is God se Wil dat siele gered word.
            Om oorlog te maak vir die Waarheid is Waarheid —  Waarheid sonder foute en sonder leemtes. Die foutlose reinheid van die Waarheid is altyd in oorlog gewikkel teen die duisternis se kettery en valsheid.
            Die spreekwoord is waar: Al gaan die leuen twee keer om die aarde, die Waarheid agterhaal hom wel.      
            Wanneer mens die Waarheid praat, hoef jy nooit te onthou wat jy gesê het nie. Wanneer jy lieg het jy probleem om die verdraaide feite te onthou.
            Die Christendom is die enigste Waarheid op aarde en dit word van hom verwag om die Waarheid uit te leef en die leuen te beveg, en, as die Christendom dit nie so doen nie, dan bevraagteken hy sy eie Waarheid!  
            Niemand kan die natuurwet, swaartekrag, verbreek nie. Net so is dit ook die wet van die natuur dat heiligheid en sonde teenoor mekaar staan. Die Waarheid en die leuen, net soos die Lig en die duisternis, het geen gemeenskap met mekaar nie.
Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
“En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?
“Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.” 2 Kor. 6:14-15.
Oor die wêreld heen het ’n nuwe wending ontstaan:  Christus moet weg want Hy gee aanstoot in die parlemente en byeenkomssale van die wêreld. Die duisternis maak beswaar teen die noem van sy Naam.
“Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.” 1 Joh. 2:22.

Die gees van die Antichris is reeds in ons midde. Die leuen word geglo en die Waarheid word verdraai.
Kyk wat sê die HERE vir Jeremia: “Ek het jou onder my volk as toetser gestel, as vesting, dat jy hulle weg kan ken en toets.
“Hulle is almal die oproerigste van die oproeriges wat omgaan met kwaadsprekery; koper en yster is hulle; hulle handel almal verderflik.
“Die blaasbalk blaas hard; wat uit die vuur gereed kom, is lood; tevergeefs hou hulle aan met smelt, maar die slegtes word nie afgeskei nie.
“Hulle word genoem: Verworpe silwer; want die HERE het hulle verwerp.
“Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:
“So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek.
“Vertrou nie op bedrieglike woorde nie – wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!
“Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar;
“vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie, dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu.
“Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie. Jer. 6:27-30; 7:1-8.
As bedrieglike woorde, die leuen, binne die Christendom voorkom, is daar ‘n baie groot fout: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.
“Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie. 1 Joh. 2:18-19.
Is jou lewe ’n leuen? Spreek jy leuens?
Die Christendom moet volgens die skrif die ware Kerk wees, ’n heilige Kerk wees, hulle moet bewapen wees, hulle moet besig wees om oorlog te maak teen die duisternis, siele te wen en die Koninkryk te bou. Dit kan mens net met die Waarheid doen!
Onthou jy Hallelujahlied 234: “Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet? Nie een dag aan Hom gewy nie, niks te offer aan Sy voet.
 “Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet? Nie een siel gelei na Jesus, niks te offer aan Sy voet.”
En dan die pleidooi in strofe 4: “O God’s kinders, wees tog wakker, haas u, werk, dit is nog dag! Smeek en stry vir kosb’re siele, eerlank is dit ewig nag!”
            Jou houding van “wat sal wees, sal wees” is ’n wilde verbeeldingsvlug. Jy en ek het ’n opdrag:  Bly in die Waarheid, verkondig die Waarheid. Maak oorlog teen die leuen.
“As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe – en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
“Maar as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.”
En die Christendom dan?
“En as 'n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek 'n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
“Maar as jy die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered. Eseg. 26:18-21.
As jy hierdie boodskap al tot hier gelees het en besef dat jy nie tussen Waarheid en leuen onderskei het nie, dan het die tyd nou vir jou aangebreek om jou hand aan die ploeg te slaan en nooit weer om te kyk nie.
Hoekom doen jy nie wat die Bybel van jou vereis nie? Is dit omdat jou lewe ‘n leuen is wat onder allerlei komplekse en valse regverdiging, huigelary en geveinsdheid verberg is?
Jy kan vrykom van die leuen en met jou broers en susters in die Lig begin wandel. Lê dapper die leuen af en omgord jou met die Waarheid.
Dan sal ook jy die beskutting van die HERE in jou voorhoede sowel as jou agterhoede hê.
Daar is nie meer tyd om met die leuen te flankeer nie, om in onmin met ander te lewe nie. Ons gaan almal huis toe, ons moet sorg dat ons reg is.
Sowat 32 miljoen mense in Suid-Afrika het op hulle sensusvorms ingevul dat hulle Christene is. Lyk dit vir jou of dit die Waarheid is?
Kyk na die lewe rondom jou – in jou werkplek, in jou skool, op die sportveld, in jou straat waar jy woon...  dink jy dit is die Waarheid dat hier 32 miljoen Suid-Afrikaners Christene is, Christene wat die Waarheid aanhang en die leuen teenstaan, wat soos dapper soldate die duisternis beveg?
Is jy een van daardie soort Christene, ’n Christen op papier, of ’n Gelowige in Woord en Daad! – Sjibbolet