Ons bid en ons sê ons glo, maar daar gebeur niks. Die hoofrede is omdat ons nie in afwagting bid nie.
Ons glo byvoorbeeld dat die Wederkoms gaan plaasvind, maar ons leef nie in afwagting dat dit enige oomblik kan gebeur nie.
“Want voorwaar, ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg (probleem) sê: hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo wat hy sê sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.
“Daarom sê Ek vir julle: alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang (glo dat julle dit reeds ontvang het), en julle sal dit verkry.” Mark. 11:23-24.
Kom ons maak ‘n draai by Tiberias langs die See van Galilea in Israel. Jesus Christus het na Tiberias gegaan en ‘n groot menigte het hom gevolg.
“Toe Jesus dan sy oë opslaan en sien dat ‘n groot menigte na Hom kom, sê Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?
“Maar Hy het dit gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self geweet wat Hy wou doen.
“Filippus antwoord Hom: Brood vir twee honderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle ‘n stukkie kan kry nie.
“Een van sy dissipels, Andréas, Simon Petrus se broer, sê vir Hom:
“Hier is ‘n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense?
“En Jesus sê: Laat die mense gaan sit. En daar was baie gras op dié plek. Die manne het toe gaan sit, omtrent vyf duisend in getal.
“En Jesus het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels en die dissipels aan dié wat daar sit; so ook van die vissies, soveel as hulle wou hê.
“En nadat hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie.
“Hulle maak toe bymekaar en het twaalf mandjies gevul met brokstukke van die vyf garsbrode wat oorgeskiet het by die wat geëet het.” Joh. 6:5-13 en Lk. 9:10-17.
Ons lees dat Jesus Christus die skare jammer kry. Hy kon hulle wegstuur, maar:
· Hy ontvang hulle
· Verkondig die Koninkryk van GOD aan hulle
· Gee vir hulle iets om te eet
· Maak die siekes gesond
Die dissipels het gesê Hy moet die skare wegstuur. Dit was te begrype dat hulle so iets sou sê want hulle het pas van ‘n lang sendingreis af teruggekeer. Hulle was moeg. Hulle het elk ‘n mandjie kos by hulle gehad en hulle wou rus. Hulle moes intussen al die kos opgeëet het, want daar was niks om vir die skare te gee nie.
Dan gebeur die onverwagte wanneer Jesus Christus aan hulle sê: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”
Filippus sê: Twee honderd pennings is te min om vir hulle brood te koop.
Natuurlik was 200 pennings te min want daar was 5 000 man en hulle vroue en kinders. Daar was maklik 20 000 mense.
Dan gebeur die onmoontlike, en hier sien ons die begin van massa-evangelisasie. Jesus is die geestelike gesag in hierdie geval. Die situasie verskuif van ‘n verstandelike vlak na ‘n geestelike vlak. Hy begin bevele gee.
Dit is nodig dat daar orde sal wees anders gaan 20 000 mense mekaar vertrap om kos te bekom.
Jesus gee bevel dat die mense in groepe van 50 en 100 moet sit.
Die visse en die brode kon nie soos vandag se visse en brode gewees het nie want dan sou die seuntjie dit nie kon dra nie. Mens moet eerder praat van vissies en broodjies.
Jesus het die broodjies en die vissies geneem, en nadat hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels.
Ongelooflik, sou jy sê, maar daar staan 12 dissipels met twee vissies en vyf broodjies tussen hulle verdeel. Hoeveel sou elkeen op daardie oomblik in sy hande had? Bra min.
Hulle kon met hierdie stukkies in hulle hande bly staan het en gesê het – soos baie van ons sou sê – hoe op dees aarde gee mens hierdie massa mense kos met dié flentertjies?
As dit ons was, sou ons maar bedremmeld daaruit gesien het. Ons sou half onnosel gevoel het. Onthou, bykans 20 000 mense sit vir hulle en kyk. Sommige van ons se geloof sou daar dalk ‘n finale knak gekry het. Ons sou gesê het: Nee wat, hierdie soort godsdiens is nie vir my nie, ek gaan liewer na ‘n ander kerk toe waar hulle nie so ‘n swaap van ‘n mens maak nie.
Sien dit in jou geestesoog: Daar sit die bykans 20 000 mense en hier staan ek en jy. Dis ‘n krisis.
Tussen die dissipels en die mense is ‘n hele paar treë. Hulle moet nou die paar treë soos hulpeloses stap na die voorste ry mense.
Die dissipels egter, getrou aan hulle gehoorsaamheid en onderdanigheid aan die HERE, stap daardie paar treë na die voorste ry mense en begin uitdeel.
Daardie oomblik het GOD se vermenigvuldende krag in werking gekom en almal is gevoed – en daar was nog 12 mandjies vol brokstukke oor.
Tussen glo en ontvang, dis waar ons turf gewoonlik sit. Wat baat dit om te glo, maar jy ontvang nie.
Al lyk dit wat jy ontvang na niks, al is dit niks wat jou oog kan sien nie, ontvang dit, maak dit jou eie.
Lees weer wat sê Jesus Christus: “Daarom sê Ek vir julle: alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang (reeds ontvang het), en julle sal dit verkry.” Mark. 11:23-24.
Ek en jy moet die Koninkryk van GOD bou. Ons is nie gered om Hemel toe te gaan nie, nee, ons is gered om GOD te dien.
Hoeveel het jy in jou hande om uit te deel? Byna niks? Begin dit net uitdeel en kyk hoe dit sal vermenigvuldig.
Sommige Christene raak angsbevange as iemand hulle oor die HERE vra.
Meeste sê gewoonlik: Jong, ek weet nie, maar jy moet my dominee vra.
Onthou, herders kry nie lammers nie. Skape kry lammers. Herders voed hulle skape met stukkies en brood en stukkies vis, en dis ek en jy wat daai stukkies moet gaan uitdeel.
Ons moet stap na die massas toe. Ons moet hulle gaan voed met dit wat ons het. GOD in sy Almag sal die vermenigvuldiging daarvan doen en ek en jy sal groot seën daaruit ontvang.
Nêrens in die Bybel staan bou kerke en nooi die ongereddes daarheen nie. Oral staan GAAN! Gaan na die verlore siele en gaan voed hulle. Jy en ek moet dit doen, al lyk ons ook hoe bekreukeld. Die krag lê nie in my en jou nie, die krag is in die Woord.
GOD se Woord, sy Nuwe Testament, is soos jou testament wat jy gaan nalaat. Niemand kan sê jy is dood en jou testament het geen krag nie. Jou testament het soveel krag dat dit die toets van die hoogste hof kan deurstaan.
Neem daardie min wat jy het en begin gee. Niemand gee sonder om ooit te ontvang nie.
“Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” Luk. 6:38.
Laat jou wekroep wees: Glo, Gee, Ontvang.
Stel altyd die Koninkryk van GOD eerste. “Soek eers die Koninkryk van GOD, en al hierdie dinge sal vir julle gegee word.” Matt. 6:25-34. — Sjibbolet