Woensdag 02 September 2015

Die leë skoendose…


Image result for Skoenwinkel


In Illinois, Amerika het rowers 'n skoenwinkel beroof. Al die skoene is uit die skoendose verwyder en die leë skoendose netjies op die rakke terug gepak. Die volgende oggend is onraad eers vermoed toe die eerste klant skoene wou koop. Dan die skok: Die winkel is sonder voorraad.

Ons weet almal hoe bedrieglik voorkoms kan wees. 'n Mens se voorkoms as Christen en die hart se inhoud van Christenskap, kan ook verskil. So het Jesus die Jode veroordeel. Hulle roem op hulle godsdiens, maar hulle dade stem nie daarmee ooreen nie: "Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julle self sê: 'Ons het Abraham as voorvader' nie." Lukas 3:8.

Dis ‘n goeie teken as jy besef dat jou lewe as Christen en jou getuienis nie ooreenkom nie. Jy het ‘n soekende en eerlike hart wat smag na geestelike groei.

Selfs Paulus het getuig van gebreke in sy lewe, maar hy het ook getuig van sy verlange om in sy geestelike lewe te vorder: "Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die Hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus." Fil 3:12-14.

“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;  en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15 – Sjibbolet