Woensdag 30 September 2015

Behou jou geloof – Hou jou oë deurentyd op Jesus


Image result for jesus and his disciples images

“En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is 'n spook! En hulle het geskreeu van vrees. Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie.
“En Petrus antwoord Hom en sê: Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.
“En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan.
“Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!
“En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?
“Daarop klim hulle in die skuit, en die wind het gaan lê.” Matt 14:26-3

Sommige vertrou die HERE vir antwoorde en wonderwerke, maar hulle hou nie hulle oë deurentyd op Jesus nie.
Ander kla dat hulle geloof nie so sterk is nie. In die verhaal van Petrus wou Petrus op die water loop en Jesus het hom laat loop en hy sou al die pad na Jesus toe geloop het, had hy maar sy oë deurentyd op Jesus gehou.
Die onweer maak dat hy bang word en toe eers sink hy. Ons glo en vertrou, maar as die antwoord talm of as ander faktore ons beïnvloed, dan is ons oë nie langer op Jesus nie.
As ons twyfel, kan ons niks van die HERE ontvang nie. Jak 1:7
Dink aan sport. In alle sport moet die spelers hulle oë op die bal hou anders vang en skop hulle mis.
Verder word ons gesien as atlete in ‘n wedloop. Ons moet die wedloop met volharding hardloop, die oë gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Hou Hom voor oë. Dan sal jy nie geestelik moeg word en uitsak nie. Hebr 12:1-3
Geloof is  ’n wedloop waarin ons nie mag uitsak nie, maar terselfdertyd ’n wedloop wat slegs enduit volgehou kan word as ons oë op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof gerig sal bly.
Probeer ‘n wedloop hardloop en kyk kort-kort om, of na die skare… atlete wat omkyk-omkyk hardloop sal nooit eerste by die wenpaal aankom nie.
In die wedloop van geloof is dit presies dieselfde: om hierdie wedloop te wen, is dit nodig om aan te hou en uit te hou en voortdurend net na Jesus te kyk. Net dán sal jy die wedloop van geloof as wenner kan voltooi.
“Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen,” skryf Paulus aan die gemeente in 1 Kor 9:24
In ’n gewone wedloop is daar net één eerste prys, en daar is ook net een atleet wat die wedloop kan wen. Die implikasie van daardie wedloop is dat jy nie die silwer gewen het nie, jy het die goud verloor.
Maar in die wedloop van die geloof is dit anders. In hierdie wedloop kan elke atleet ’n wenner wees, kan elkeen wat die wedloop hardloop, die prys ontvang. Maak seker dat jy só sal hardloop dat die prys van die geloofswedloop – die Ewige Lewe – uiteindelik joune sal wees.
Moedig al die Gelowiges rondom jou ook aan om so te hardloop en lei deur voorbeeld. – Sjibbolet