Saterdag 03 Oktober 2015

Veilig in Jesus hoede


Image result for Jesus protects you

By Spitak in Armenië was daar op 7 Desember 1988 ‘n aardskudding van 6.8 op die Richterskaal wat 25 000 lewens geëis het.
            Altesame 113 lande het aller vorme van hulp aangebied. ‘n Russiese vliegtuig met 78 reddingswerkers aan boord het nooit arriveer nie. Die vliegtuig tesame met ‘n Joego-Slawiese transportvliegtuig het in twee verskillende ongelukke neergestort, met geen oorlewendes nie.
Die boek, A Father's Love, vertel die storie van die vernietigende aardskudding, maar die eintlike verhaal gaan oor 'n pa, wat van sy seuntjie se geboorte af, hom beloof het: "Dit maak nie saak wat gebeur nie. Ek sal altyd daar wees as jy my nodig kry."
Pas na die verskriklike aardskudding jaag die pa na sy seun se skool toe. Die gebou het platgeval. Nêrens 'n teken van lewe nie. Gedagtig aan sy belofte aan sy seuntjie, weifel die pa nie 'n oomblik nie. Hy begin dadelik in die puin grawe.
Terwyl ander toekyk en hardop, hulpeloos huil oor hulle kinders wat ook in die puin toegeval lê, hou die pa aan met grawe. Ander ouers het moed opgegee, maar hierdie pa hou aan grawe. Een na die ander klippe verwyder hy.
Een na die ander steen word weggeneem. Hy moet weet of sy seun lewe of dood is. Ure tik verby – ses, twaalf, agtien ure – steeds grawe die pa. Agt-en-dertig uur na die aardbewing, vertel die boek, hoor hy 'n sagte stem. "Armand!" roep hy.
'n Kinderstem antwoord: "Pa! Dis ek. Ek het vir die ander kinders gesê Pa sal my nie alleen los nie. Pa sal my kom uithaal en vir hulle ook." Kort daarna help die pa sy seun tesame met 12 verskrikte, honger, dorstige kinders uit die bouval uit.
Hulle behoud was 'n holte wat veroorsaak is, deurdat twee mure teen mekaar geval het.
Die dorpsmense, en veral die ouers van die kinders wat behoue uit die puin gehaal is, het Armand se pa vereer vir sy dapper daad. Sy verduideliking was: "Ek het my seun beloof: wat ook al met hom gebeur, ek sal daar wees om hom te help."
“Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het." Hebr 10:23
Kyk wat beloof die HERE vir my en vir jou:

“Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, HERE, U alleen laat my veilig woon.” Ps 4:9

“U beskerm my soos die appel van U oog. U steek my weg in die skaduwee van U vleuels vir die goddeloses.” Ps 17:8

“Deur U magtige teenwoordigheid beskerm U my teen die sameswering van mense.” Ps 31:21

“Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom die wat Hom dien en red hulle.” Ps 34:8

“Hy sal sy Engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra...” Ps 91:11 Lees sommer die hele Psalm 91 oor bewaring en beskerming.

“Vir slegte tyding is die regverdige nie bevrees. Hy is gerus. Hy vertrou die HEREe.” Ps 112:7

Die HERE sal  jou beskerm teen alle gevaar,  jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook al gaan, nou en vir altyd.” Ps 121:7

“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” Jes 41:10

“Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.” Jes 54:17

“Ek is met jou om jou te verlos en om jou te red, spreek die HERE.” Jer 15:20

“En Ek sal jou red uit die hand van die goddelose mense en jou verlos uit die vuis van die tiranne.” Jer 15:21

God ry deur die Hemel om jou te kom help, in Sy majesteit ry Hy op die wolke. Die ewige God is n skuilplek. Sy arms is altyd onder jou.” Deut 33:26-27.

Dit is wonderlik om te besef wat die HERE vir ons doen, maar ons is verplig om hierdie goeie nuus ook met die verlorenes te deel. Bid en getuig sonder ophou. – Sjibbolet