Maandag 12 Oktober 2015

‘Die einde van alle dinge is naby’


 Image result for olie lampie in Bybel tyd


“En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.
“Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek.
“Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer.
“Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.
“As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen (hoekom?), sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle Ewigheid. Amen.” 1 Petrus 4:7-11
            Petrus, Johannes, maar ook Jesus, het vertel wat aan die einde van die tyd gaan gebeur en toe gesê: Die Einde van alle dinge is Naby!
            Enigiemand se lewe kan egter ook intussen weggeneem word. Dink maar aan die meer as duisend mense wat in die Titanic-ramp gesterf het.
           En die meer as duisend wat die nag gesterf het toe die Empresss of Ierland en die SS-Storstad gebots het. Daar was 171 lede van die Heilsleër aan boord op pad na ‘n groot kerkkonferensie. Die Empress het in net 14 minute gesink en meer as duisend mense was daarmee heen.
            Dink aan al die vliegrampe reg oor die wêreld waarin tot 400 mense per keer binne oomblikke gesterf het.
            Jou einde kan enige oomblik kom, maar sou jy bly leef tot die einde toe, kom alles in elk geval tot ‘n einde.
            Is jy Wedergebore? As jy ooit die land wil verlaat op reis na enige ander land, moet jou paspoort in orde wees... so ook as jy aan die Einde graag Hemel toe wil gaan... dan moet jou naam reeds in die Boek van die Lewe opgeteken wees.
            Dit bring on by die liefde. “God is liefde” 1 Joh 4:16 Daar is drie liefdes in die Bybel: Eros (seksuele liefde), Fileo (menslike       liefde) en Agapé (Goddelike liefde). In die gesprek tussen Jesus en Petrus het Petrus drie keer na menslike liefde verwys, terwyl Jesus na Goddelike liefde verwys het.              
            Ons moet mekaar met Goddelike liefde lief hê. Ja, “Elkeen wat sy Woord bewaar, in hom het die liefde (Agapé) van God waarlik volmaak geword,” 1 Joh 2:5
            Liefde is ‘n lewende aksie wat ons prakties moet uitleef.
            “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie.
            “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.” 2 Pet 3:17-18
            Verder, die getal moet volgemaak word. “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?” 2 Pet 3:11
            Jesus, Petrus en Johannes het al drie vertel hoe dit gaan wees kort voor die wederkoms en toe bygevoeg dat wanneer hierdie dinge gebeur, dan is die Einde van alle dinge naby.
            Hou jou gereed, maar bid vir en bring ook die siele in.

Kyk weer na die Meetinstrument in hierdie tyd (hou jou lamp so vol olie):
“Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek.
“Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer.
“Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.
“As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen (hoekom?), sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle Ewigheid. Amen.” 1 Petrus 4:7-11 – Sjibbolet