Dinsdag 06 Oktober 2015

Misdadiger word Evangelis


Image result for man reading the bible

Ernie Hollands het derduisende kunshengel vlieë gemaak terwyl hy in die Milhavengevangenis in Kinston, Ontario, 'n lang vonnis uitgedien het.
            Hy het as klein seuntjie leer steel. Sy ouers was baie arm. Hy was nege jaar oud toe hy vuurwapens begin steel het. In sy huis is vir die eerste keer spek en eiers geëet na hy dit in 'n supermark gesteel het. Hy het gesteel om in die gesin se behoeftes te voorsien.
Op 12-jarige ouderdom is hy in 'n verbeteringskool geplaas en op 18-jarige ouderdom het hy in die tronk beland. Van 'n kind se winkeldiefstal af het sy misdade vererger tot bankrowe en 'n poging tot moord.
Hy is tot gewoontemisdadiger verklaar. Vir 25 jaar was hy in tronke van enige soort in Kanada en Amerika. Hy het gemeng met manne wat gevloek en gewanhoop het.
Hy het 'n paar keer ontsnap, maar hy is telkens weer gevang en teruggeneem.
Toe beland hy in Milhaven en niemand ontsnap uit Milhaven nie!
Om die lang, leë, hopelose ure te vul, het Ernie hengelvlieë begin maak. Dit het in 'n aardige bedryf ontwikkel. Hy het sy produk geadverteer deur voorbeelde aan sportwinkels te stuur. Die afset was goed.
So beland van sy hengelvlieë in Bailey's Sport Centre in Pembroke, Ontario. Grant Bailey, die eienaar, het ontvangs per brief erken. Hy het sy brief afgesluit met 'n kort getuienis hoe hy kort te vore Christus as Verlosser leer ken het. Hy het ook vir Ernie 'n Bybel gestuur. Vir die eerste keer het Ernie gehoor van 'n God wat die sondaar liefhet. `n Klein saadjie.
            Om die tronkowerhede te beïndruk en om verveligheid te verdryf, het Ernie die Bybel begin lees. Hy het daagliks 'n hele aantal hoofstukke gelees en so die Bybel vinnig deurgelees. Daarna het hy dit herhaaldelik deurgelees.
Ernie het begin agterkom hy is besig om innerlik te verander. Hy het nie meer gehaat nie; hy het nie meer geveg nie. En toe een nag in sy sel het die Here Jesus hom ontmoet. Dit was of die Heiland vir hom sê: "Ernie Hollands, jou lei is skoon gevee."
Diep in die nag het hy in sy sel op sy smal bedjie gesit en huil. Vrede het in sy hart gekom en 'n diep bewussyn van die Here se liefde het hom vervul. Hy het geweet die geharde gewoontemisdadiger het 'n nuwe mens geword.
Hy is vir goeie gedrag vroeër ontslaan. Die dag toe hy ontslaan is, het Grant Bailey buite gewag. Die Baileys het hom in hul huis geneem en vir hom in hul winkel werk gegee. Die krag van die geskrewe Woord en die krag van persoonlike belangstelling het sy lewe oorgeneem.
            Ernie Hollands het dadelik begin om die skade van 25 jaar agter die tralies in te haal. Hy het hom beywer om jongmense, en veral jong oortreders, te help. Sondae het hy in tronke die Evangelie van Christus se redding, wat hom vrygemaak het, aan ander gevangenes verkondig.
Hoe dankbaar moes Grant Bailey nie gewees het nie, dat hy die klein ekstra tree gegee het, om vir Ernie Hollands te skryf en vir hom 'n Bybel te stuur! Ons moet elke geleentheid gryp om die boodskap van God se liefde en Christus se redding, met woorde van die mond, 'n goeie daad, 'n blaadjie, deur te gee na ander toe.
Die Heilige Gees gebruik dit om in harte die genadewerk van redding te laat gebeur. "...verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig... bemoedig..." 2 Tim 4:2
Gaan kyk by http://www.hebron.ca/ waar Ernie en sy vrou vandag is. Dis ‘n belewenis. –  Sjibbolet