Salmon Vermaak, die motiveringspreker, vertel van ‘n vriend van hom wat jare gelede besluit het dat hulle ‘n groot bank in die Kaapse middestad wou beroof. Hulle was goed georganiseerd en hulle het ‘n hele beplanning gehad. Hulle het dit met groot erns aangepak.
Hulle het maande daaraan gewerk en onder meer sou hulle met ‘n seiljag ontsnap. Hulle sou die bank beroof en dan jaag tot by die hawe en met ‘n seilskip wat vir hulle in die hawe wag, wegseil, iewers gaan laag lê vir ‘n paar jaar en dan sou hulle met dié geld terugkom.
Alles was in plek en alles tot in die fynste besonderhede beplan. So ‘n week voor die beplande datum besluit hulle, hulle gaan ‘n toetsrit met die boot onderneem. Een van hulle het tot ‘n “skippers” lisensie gekry en hulle vaar toe uit op die oop see in die rigting van Walvisbaai.
Daar kom toe ‘n storm op en hulle besluit hulle gaan terugdraai Kaap toe. Kort voor lank vaar hul reguit in ‘n storm in en die ou sê dat dit in ‘n stadium so erg was dat hy vir Tafelberg van bo af sien. Hy sê dan is hulle die volgende oomblik weer in die dieptes in tussen die reusegolwe. Dit was erg gewees en behalwe dat hulle vrag oorboord moes gooi het hulle van ‘n klomp ander goed ook in die proses ontslae geraak. Dit was só erg dat toe hulle uiteindelik half dood en ontwater by die land aankom, toe kanselleer hulle die hele rooftog.
Hy vertel van ‘n ander maat van hom wat al twee keer alleen om die wêreld gevaar het met so ‘n klein seiljaggie. Hy vertel dat iewers suid van Nieu Seeland vaar beland hy binne ‘n tifoon. Vir agt en veertig uur is hy agter die stuur en hy probeer net aan die lewe bly. Hy kan nie die stuur los om enige iets te doen nie. Hy veg net dag en nag vir agt en veertig uur aanmekaar, net om te oorleef.
In ‘n stadium in die oggendure raak die wind skielik tjoepstil. Hy sê dit was amper asof jy ‘n skakelaar afsit.
Die een oomblik was dit nog hy en hierdie storm en die volgende oomblik is dit stil en ʼn helder lug. Hy dink toe hy het dit gemaak, maar wat hy nie besef het nie, was dat hy in die oog in gevaar het.
Die groot moeilikheid het nog voor hom gelê. Hy is toe ontspanne en hy prys die Here vir hierdie storm wat hy oorleef het. Hy is nog daar besig om net sy voete te kry, maar die volgende oomblik toe hy hom kry toe is hy binne in die ander kant in en daar begin die oorlewingstryd van vooraf.
Vir baie van ons is die lewe so. Jy is so moeg vir die storms en al hierdie goed wat rondom jou gebeur en niemand van ons is gevrywaar daarvan nie. Dit gaan so ‘n ruk lank goed en dan begin die weer opstreek en kort voor lank, dan is jy in die bootjie.
Baie van ons is op ‘n reis na nêrens. Baie van ons is op pad iewers heen, maar weet nie hoe om daar te kom nie. Ons dobber maar net hier op die oseaan en ons kyk net die weervoorspelling en ons sien hier kom ‘n storm en dan staal ons onsself.
Dan woon ons nog ‘n kursus by en ons woon nog ‘n kerkdiens by en ons probeer nog iets en nog iets. Die beste van alles is, daar is ‘n antwoord... veilig in Jesus’ hoede.
Kyk hoe lyk die wêreld waarin ons grootgeword het. Mense sterf in 65 oorloë wat reg oor die wêreld heen woed, honderde duisende vlug deur woestyne en oor ruwe see na Europa of iewers na veiligheid. Tussen hulle is kinders en babas en selfs swanger vroue. Die mense gaan deur ‘n lewende hel.
Gisteraand is daar reg deur die wêreld in elke sinagoge en in Christenkerke en –byeenkomste, shofars geblaas. Die rede: “This year as we listen, the Shofar will not comfort. Its shout from realms beyond will demand our attention, for as in days of old, it is a call to arms, an alarm alerting to imminent danger. In synagogues around the world the Shofar will solemnly declare: Arise, for there are shakings in the earth. Shall the Shofar be blown in a city and the people not tremble?” (Amos 3:6)
Sommige van ons hoop op die Wegraping, maar ons het ‘n plig om uit hierdie lewenssee soveel moontlike verlorenes te red.
Ons moet bid soos nog nooit tevore nie, bid vir die redding van siele, vir hulle wat so ly en getuig en help net waar ons kan. Ons Redder kom. – Sjibbolet