Maandag 28 September 2015

Ons moet die Getal Volmaak


Image result for lots of numbers

Met Rusland (Gog), Iran (Persië) en Sjina (Konings van die Ooste) saamgetrek in Sirië na aan die Golan Hoogtes van Israel, wonder mens noodgedwonge of ons nou die vervulling van Eseg 38 en 39 bereik het. Ons weet nie, ons sal moet wag ek kyk hoe alles ontwikkel.
            As ons egter so naby die vervulling van Eseg 38 en 39 is, dan is die einde op ons, maar dis nie belangrik nie, Gelowiges weet lank reeds hulle gaan die aarde die een of ander tyd verlaat.
            Wat wel belangrik is, is dat die vol getal gered moet wees en dis waar ons dinamiese rol inkom.
            Luk 17 verse 7-10 lees: “En wie is daar van julle wat ‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld af, vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel?
“Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ék geëet het; en daarna kan jy eet en drink?
“Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie.
“So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”
Hierdie “plig” waarvan hy praat, omsluit die volgende: Dat ons die Vader se insettinge en verordeninge moet onderhou, en dat ons Sy Koninkryk bou deur siele vir Hom in te samel. Daar is ‘n getal wat volgemaak moet word en hoe gouer ons die getal volmaak, hoe vinniger vind die Wederkoms plaas.
Herders – leraars – kry nie lammers nie. Die Herders moet die skape so voed dat die skape kan lam, ja, sommer twee- en drielinge, binne seisoen en buite seisoen, tydig en ontydig.
Ons staan onder verpligting. Ons het geen keuse nie. Al kom ons moeg na ons dagtaak by die huis aan, moet ons onsself omgord en eers die Meester “bedien”. Eers dan kan ons gaan sit en eet en ontspan.
Ons is verder onder verpligting want, die Here sê in Eseg 3:18 “As Ek aan die godlose sê: Jy sal sekerlik sterwe en jy – kind van die Vader – waarsku nie die goddelose nie, en spreek nie om die goddelose vir sy godlose weg te waarsku nie, dan sal die godlose deur sy ongeregtigheid sterwe, maar… sy bloed sal van jou hand geëis word.”
Maar God is regverdig en Hy voeg by: “Maar… as jy die godlose waarsku, en hy hom nie van sy godlose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou siel gered.”
Dis hoe regverdig die Vader is!
Dit is of eenkant toe of anderkant toe. Die Bybel maak geen plek vir kompromieë nie. Vir huigelaars en geveinsdes is daar nie plek in hierdie arena nie.
Tot nog toe het ons altyd die net aan die een kant, die van die preekstoel, uitgegooi en hierdie hele lange nag van hoevele jare niks gevang nie.
Daar was na die predikant opgesien as die een wat die gemeente moet bou. Daar was verwag dat hy manalleen die strate en pleine moes bewandel en siele moes inbring.
As ons as gereddes, as vissermanne, nou uitvaar na die diep kant – selfs die wye wêreld in – en die net aan die anderkant van die skuit uitgooi, gaan ons nette en nogmaals nette vol vis uittrek, want dan vervul ons die Vader se opdrag, Sy strategie, en nie ons plannetjies nie.
Jy het nie ‘n graad of diploma in teologie nodig om jou plig te kan nakom nie. Jy hoef nie ‘n ouderling of ‘n diakones te wees nie. Die Vader het gesê: “Voed My skape.” Hy het nie gesê: “Voed my kameelperde” nie. Hy sê ook: “Selfs ‘n Kind sal die Blye Boodskap verstaan”.
Die Heilsboodskap en die verlossing se werkinge lê in eenvoud, in Gees en in die Waarheid.
Jy dienskneg, wanneer jy moeg van die werk af kom... dan kan jy nie gaan sit om bedien te word nie, jy is geroep om eers die Meester te dien. Daarna kan jy eet.
Komaan, bid sonder ophou, dra die Evangelie uit, tydig en ontydig, op enige denkbare manier. Ons moet die getal volmaak. – Sjibbolet