Maandag 07 September 2015

Herlewingwonders


Image result for people praying together

Wie onthou die Charismatiese Herlewing van 1970 tot 1980?
            Dit het in Amerika begin, toe na Europa versnel en effe later na Suid-Afrika.
            Baie Suid-Afrikaners wat vandag leef is in daardie tyd Wedergebore en het grootse wonderwerke belewe.
            In Italië is sowat 2 000 mense in ‘n diens in die St Petruskerk in die Heilige gedoop. Honderde nonne is daarna by ‘n ander geleentheid in Rome ook in die Heilige Gees gedoop. Kasetbande oor hierdie gebeurtenisse het reg oor die wêreld versprei, ook na SA.
            In Suid-Afrika het bidaksies soos ‘n veldbrand versprei. Mense het vyfuur in die oggende by elke moontlike plek byeen gekom om te bid. Sondaars het na God geroep en God het geantwoord.
            Kinders se gebede vir siekes is beantwoord. Wonderwerke het oornag toegeneem. Mense het sommer op sypaadjies in die openbaar hande op mekaar gelê en gebid.
            Tot 4 000 mense is in dienste in die Heilige Gees gedoop. Alles kan nie herhaal word nie, dis hopeloos te veel.
            Ons vestig graag die aandag op een besondere gebeurtenis in daardie tyd:
            Die dag toe God die skalpel in ‘n teater in die vorige HF Verwoerd Hospitaal opgeneem het.
            Wyle Prof JC van der Spuy het met ‘n pasiënt se oopgesnyde hart in sy hande gestaan. Behalwe snykunde om die hart te herstel, het Prof. Van der Spuy met ‘n skok besef dat ‘n klepvervanging ook nodig is.
            Die skok van die oomblik was dat daar geen klep beskikbaar was nie. Toetse vooraf het ook nie aangetoon dat ‘n klepvervanging nodig was nie.
            Hy kon die hart nie weer toemaak en terugplaas sonder om die betrokke klep te vervang nie.
            Prof. Van der Spuy het die gebeure in destyds met my gedeel op voorwaarde dat ek dit nie bekend sal maak voordat hy weg is nie. Hy is later 87-jarige ouderdom Huis toe.
            As diep gelowige mens had hy geen ander uitweg as om hom tot God te wend nie.
            Daar voor al die teater personeel het hy ernstig begin bid vir leiding. Toe hy hom weer kom kry was sy hande besig om weefsel uit die pasiënt se bobeen te sny en het hy staan en kyk hoe sy hande 'n klep uit die weefsel vervaardig.
            Die operasie was ‘n skitterende sukses en die klep het 100 persent gewerk.
            Sowat twee jaar later het presies dieselfde situasie met ‘n ander pasiënt opgeduik.
            Weer het hy gebid en gesê: Here, dis nie of ek dit al gedoen het nie. Gryp U tog weer in.
            En dieselfde prosedure het homself herhaal.
            Sy kollegas wat alles gadegeslaan het, het in beide gevalle nie besef wat gebeur het nie.
            “Mens moet besef dit was ‘n veel groter mediese wonder as ‘n hartoorplanting. ‘n Hartoorplanting is basies die diskonnektering van ‘n ou hart en die opkoppeling van ‘n nuwe hart. Wat hier gebeur het is ‘n mediese wonderwerk uit die hand van God.
            “Maar ek het gesien hoe die wêreld prof. Chris Barnard vereer het. Dit wil ek nie beleef nie want God moet al die eer kry vir wat daardie dag in daardie teater gebeur het. Belowe my, dat jy eers hieroor sal skryf die dag wanneer ek weg is,” het prof. Van der Spuy versoek.
            Hy het die betrokke dag ook aan my vertel dat sy navorsing getoon het dat die na-operatiewe herstel van ‘n gelowige baie vinniger geskied as die van ‘n ongelowige.
            Om hierdie rede het hy altyd by die eerste ontmoeting van ‘n nuwe pasiënt bepaal of die pasiënt Wedergebore is. As dit nie so was nie, het hy op sy besondere vaderlike en liefdevolle manier berading toegepas.
            Een keer toe hy sy siekesaal besoek het, het hy by ‘n pasiënt gekom wat die volgende dag ‘n hartoperasie moes ondergaan. Die pasiënt het plat op sy rug gelê, besig om ‘n sedebedorwenede tydskrif te lees.
            Prof. Van der Spuy het die boek sag uit die man se hande weggeneem en aan hom gesê: More-oggend haal ek jou hart uit. Jou lewe is in God se hande. Hoe kan jy op die vooraand van so ‘n groot operasie dit waag om hierdie smerige boek tussen jou en die Hemel  in te druk?”
            Hierop het prof. Van der Spuy ‘n Nuwe Testament aan die pasiënt oorhandig en aan hom gesê: “Vriend, dit is wat jy nou nodig het.”
            Vir hom was die redding van ‘n siel die grootste wonderwerk in ‘n mens se lewe.
            Oor genesing het hy gesê: “Of dit geskied deur die gebruik van ‘n skalpel, of deur medikasie of deur gebed of deur fisioterapie, dit is en bly Jesus Christus wat genees, want die mediese wetenskap kon nie bereik het wat hy vandag doen, as dit nie deur God se wysheid aan die wetenskap geskenk is nie.”
            ‘n Veel groter Herlewing is op pad. Die eerste druppels val reeds. Bid daarvoor en bring die siele in. – Sjibbolet