Herlewing is nodig – Oswald J. Smith
Waarom predikers misluk!
Oswald J. Smith was ‘n prediker rondom 1900. Wat hy hier – ‘n 100jaar gelede – beskryf het, is presies wat ons vandag in Suid-Afrika
en reg oor die wêreld heen beleef.
Smith_OJ
Oswald J Smith (1889-1986)
Die Kerk strewe dikwels nie na positief geestelike resultate nie en kry dit ook nie. Mense preek en dink nooit daaraan dat iets buitengewoons moet gebeur nie.
O’ hoe ver het ons weggedryf! Hoe magteloos het ons nie geword nie!
In 1904 in Wallis is beraam dat 7 000 gemeentes gedurende die jaar nie een siel vir Jesus Christus gewen het nie.
Altesame 7 000 Evangelie bedienaars het ‘n jaar lank sowat 700 000 keer die Evangelie verkondig sonder om een verlore siel te bereik.
Nou, my broers, daar moet êrens ‘n baie ernstige skroef los wees. Daar moet of iets verkeerd wees met die 7 000 predikers, of daar is fout met 700 000 preke of met albei!
Toe ek die Twaalf Reëls van die vroeë Metodiste Kerk lees, is ek getref deur die feit dat dit gemik is op die wen van siele en dat hulle dit as hul vernaamste taak beskou.
Ek haal aan: “Gee uself dus geheel en al oor aan u werk. U taak is om nie soveel keer moontlik te preek nie, maar om soveel moontlik siele te wen as wat u kan, om soveel sondaars as wat u maar kan, tot berou te bring, en om met al u mag hulle in heiligmaking op te bou, waarsonder hulle die HERE nie sal sien nie” – Uit: Die Twaalf Reëls deur John Wesley.
Toe het ek my bediening met die beloftes van God vergelyk. In Jer. 23:29 lees ek: “Is my antwoord nie so, soos ‘n vuur, spreek die HERE, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?”
En in Efes. 6:17: “…die swaard van die Gees – dit is die Woord van God.”
Maar hoe meer ek daaroor nagedink het, hoe meer het ek onder die oortuiging gekom dat in my bediening, die Woord van God nie ‘n vuur, ‘n hamer en ‘n swaard was nie. Dit het nie gebrand, gebreek en deurgedring nie. Daar was geen teregstelling nie.
· Heb. 4:12 verklaar: “Die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as ’n tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart!
John Wesley het dit so ingesien. John Smith was ‘n gedurige waarnemer
daarvan. David Brainerd was ‘n getuie van die realiteite daarvan, maar nie ek nie.
“So sal my Woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.” Jes. 55:11
Ek het geweet dat hierdie wonderlike belofte nie in my prediking in vervulling getree het nie. Ek het geen getuienis gehad soos Paulus, Bramwell en Finney, in wie se geval die Woord nooit leeg teruggekeer het nie.
Ek was ook geregtig op hierdie belofte. Dit was dus vir my ‘n uitdaging.
Nie net my prediking nie, maar ook my gebedslewe het onder die soeklig gekom. Dit moes ook uitgedaag en getoets word aan die uitslag.
Ek is gedwing om te erken dat die hoopvolle versekering wat straal uit Jer. 33:3 “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord, en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie,” dat dit in my ondervinding nie ‘n werklikheid was nie.
Die “groot en ondeurgrondelike dinge” was die byna daaglikse ondervinding van Evan Roberts, Jonathan Goforth en ander, maar nie myne nie. Daar was geen definitiewe en daaglikse antwoorde op my gebede nie.
Die volgende was dus nie ‘n werklikheid in my lewe nie: “Wat julle ook al in my Naam vra, dit sal Ek doen,” en “As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Joh. 14:13,14
Hierdie beloftes was nie vir my ‘n lewende werklikheid nie omdat ek so baie dinge gevra het wat nie volgens die beloftes was nie. So het ek besef dat daar met my gebedslewe iets radikaals verkeerd was.
Toe ek die outobiografie van Charles Finney lees, ontdek ek dat hy dieselfde mislukking in sy lewe ondervind het.
By die afsluit van sy boodskap het John Wesley altyd vir God aangeroep om “Sy Woord te bevestig” en God het dit gedoen.
Sondaars het onmiddellik om genade begin roep omdat hulle onder diepe en ontsettende oortuiging van sonde gekom het, waarna hulle onmiddellik vryheid verkry het en met onuitspreeklike vreugde vervul is.
Finney skryf hieroor soos volg in sy dagboek:
“Ons het verstaan dat baie aanstoot geneem het weens die uitroepe van diegene oor wie die krag van God gekom het. Onder hulle was ‘n geneesheer wat baie bang was dat daar bedrog daarin kon wees. Vandag het iemand wat hy baie jare al ken, hard uitgeroep en in trane. Die geneesheer kon skaars sy oë en ore glo.
“Hy het digby haar gestaan en elke simptoom waargeneem totdat groot sweetdruppels langs haar wange afgerol het en haar ledemate begin skud het, toe het hy geweet daar is nie bedrog of enige natuurlike ongesteldheid nie.
“Maar toe haar siel en liggaam in ‘n oogwenk genees is, het hy die hand van God daarin erken!”
Dit was ook die ervaring van die vroeë Kerk, want daar staan geskrywe: Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen broeders? Hand. 2:37
“Hulle het toe ‘n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die HERE, wat aan die woord van Sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind.” Hand. 14:3
Hulle het gebid dat “tekens en wonders mag plaasvind.” Hand. 4:30. En Paulus het verklaar dat die Evangelie “’n krag van God tot redding” is.” Rom. 1:16
Nogtans was dit alles aan my onbekend.
Gedurende die Ierse herlewing van 1859 is “tekens en wonders” oral waargeneem. Onder die vroeë Metodiste het dit daagliks voorgekom.
Maar in my eie geval was die Evangelie nie “die krag van God tot redding” nie. God het “Sy Woord nie bevestig nie,” Sy “seël nie daarop gesit nie,” of “daar getuienis van gegee” wanneer ek dit verkondig het nie.
Nogtans het ek geweet dat ek die reg gehad het om dit te verwag omdat Jesus die belofte gegee het. “Die werke wat Ek doen, sal julle ook doen en julle sal meer werke doen as dit,” het Jesus in Joh. 14:12 verklaar.
Toe het ek eendag die Handelinge van die Apostels gelees om uit te vind of God se diensknegte in die eerste Kerk resultate gekry het oral waar hulle gegaan het. En ek het gevind dat hulle na vrug mik, daarvoor gearbei, en dit verwag het, en hulle is nooit teleurgestel nie.
So preek Petrus op Pinksterdag en 3 000 siele neem die uitnodiging aan om Jesus te volg. Met Paulus was dit dieselfde, sodat hy oral gemeentes gestig het.
Hoe ver het ek nie te kort geskiet nie! Hoe verduidelik ek dat ek misluk het! Ek het te kort geskiet juis in die saak waarvoor God my geroep het. Ook was dit nie vir my moontlik om saam met Paulus te kon sê “watter groot dinge God deur my diens gedoen het” nie.
God verklaar: “Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te dra.” Joh. 15:16
Te lank was ek tevrede om net te saai en die Evangelie te verkondig, met die verskoning dat ek die resultate aan God oorlaat, denkende dat ek my plig gedoen het.
Wanneer mense gered word en baie seën ontvang sal hulle daarvan begin vertel, en as hulle dit nie doen nie, is daar rede om te twyfel aan die uitslag.
Dr Watts skryf: “Gaan na die dienste met die doel om siele te bereik en te oortuig tot bekering en redding. Gaan om die oë van die blindes te open, om dowe ore te ontsluit, om die kreupeles te laat wandel, om die dwase wys te maak, om diegene wat dood is in die sonde, op te wek tot ‘n Hemelse en Goddelike Lewe, en om skuldige rebelle te laat terugkeer na die Liefde en gehoorsaamheid van hul Skepper deur Jesus Christus, die Groot Versoener, sodat hulle vergifnis van hulle sondes kan ontvang en gered kan word. Gaan om die geur van Christus en sy Evangelie deur die hele vergadering te versprei en om siele te lok om deel te hê aan Sy Genade en heerlikheid.”
Ek het gevoel ek moet jong Christene lering gee oor die diepere lewe in Christus en het altyd toesprake hieroor voorberei, totdat God in Sy genade my oë oopgemaak het en my gewys het hoe ver ek die spoor byster was.
· Daar is niks wat die Christelike ondervinding so sal verdiep, wat gelowiges so vinnig sal opbou in die geloof nie, as juis wanneer sondaars tot bekering kom!
Diepgaande Heilige Gees-vergaderings, waar die krag van God sondaars kragdadig oortuig en red, sal meer vir Christene doen as jare se prediking daarsonder.
John Smith het gesê: “Die man wat ernstig en Skriftuurlik na die bekering van sondaars strewe, sal die een wees wat die sekerste en doeltreffendste die gelowiges opbou.”
Dr Watts het gesê: “Baie van hierdie mense het meer leerstellige kennis aangaande Goddelike waarhede geleer sedert ek hulle die eerste maal besoek het, as wat aan hul verstand gebring kon word deur die toegewydste gebruik van goeie leermiddels vir jare aaneen, sonder so ‘n Goddelike invloed.”
Dit maak geen saak hoe geestelik ‘n kerk mag voorgee om te wees nie, as siele nie gered word nie, is daar iets radikaals verkeerd, en die beweerde geestelikheid is eenvoudig ‘n valse ondervinding, ‘n misleiding van die duiwel. Mense wat bymekaar kom eenvoudig om ‘n aangename tyd met mekaar te hê, is ver van God af.
Daar sal ‘n hunkering na en ‘n Liefde vir siele moet wees. Ons het na plekke gegaan wat die naam dra dat hulle diep geestelik is, maar ons het dikwels gevind dat dit net in hulle gedagtes was, maar hul harte nie geroer het nie. Heel dikwels was daar sonde wat nie bely was nie.
“Hulle het ‘n gedaante van Godsaligheid, maar die krag daarvan het hulle verloën.” Is dit nie pateties nie!
Laat ons, ons geestelike toestand ondersoek en vra: Wat bring dit voort? Niks anders as ‘n ware geestelike herlewing en ontwaking onder die wedergeborenes, sal ooit die hart van God bevredig nie.
Ons is op die drumpel van die grootste Herlewing wat die wêreld nog ooit aanskou het. Bid en getuig enduit. – Sjibbolet