Donderdag 20 Augustus 2015

Die verborgenhede van die Koninkryk van die Hemele


Image result for kingdom of god


Aan Koningskinders,

Gelowiges moet werklikhede in die gesig staar. Die toestand van die wêreld word daagliks al hoe meer haglik. In Afrika is daar oorlog in 27 lande. Altesame 182 militia-guerrilla groepe, separatiste- en anargie groepe is betrokke.

In Asië is 16 lande in oorlog met 150 militia-guerrilla-, separatiste- en anargie groepe betrokke. In Europa is 75 soortgelyke groepe in nege lande betrokke.

In die Midde-Ooste is 218 soortgelyke groepe in agt lande betrokke. Boonop dreig daar ‘n oorlog rondom Iran wat na verwagting op ‘n volgende wêreldoorlog kan uitloop.

In die Amerikas is 25 soortgelyke groepe in vyf lande betrokke.

Hierdie oorloë word geken aan die mees brutale wat ons nog ooit van gehoor het. Hierdie is nie bangmaakstories nie, dit is harde konkrete feite.

Gelowiges sal veel nader aan die HERE  moet beweeg, veel meer moet bid. Ons vertrou die volgende geskrif  sal julle help om nader, steeds nader, aan God te beweeg. Onthou, ons is op pad na die Nuwe Jerusalem en die HERE het gesê wanneer al hierdie dinge gebeur, dan moet ons weet Sy Koms is naby. Die reis waarop ons sal gaan, sal die eerste wees wat ons sonder bagasie sal aanpak... net geestelik sal ons saak moet reg wees.

Die lewe in die Gees is die grootste geskenk wat ons as Gelowiges op hierdie aarde mag ontvang en beleef. Vir sommige mag hierdie geskrif nuut wees, maar dis wat die HERE van elkeen van ons verlang. Sonder jou af en werk biddend hier deur. Om God in Gees en in waarheid te aanbid is ‘n belewenis!

·     God verlang dat ons dit ken!

Die verborgenhede van die Koninkryk van die Hemele

Dit gebeur met tye dat wanneer ons tot die HERE in ons Hemelse taal bid, dat verborgenhede aan ons openbaar word... aangeleenthede wat nie aan ons van nature bekend is nie. “Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.” 1 Kor 14:2
            “Want as ek in 'n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.” 1 Kor 14:14
            Let op: “Daarom moet hy wat in 'n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê.” 1 Kor 14:13.
Dit was altyd die neiging om te dink dat ‘n uitleg uitsluitlik in die gemeente moet plaasvind.
            Is jou huis dat nie ook ‘n gemeente nie? Jy kan bid dat jy dit selfs in jou binnekamer uitlê.
            “Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.” 1 Kor 14:15
            Het jy al in die gees psalmgesing? Het jy al 4 000 mense in Hemelse tale hoor bid of 2 000 vroue in Hemelse tale hoor sing? Dit is verrukkend, besielend, Hemels!
            Let weer op: “Maar daar kom 'n uur (wanneer), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid (hoekom?); want die Vader soek ook mense wat Hom (juis) só aanbid.
“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24
            Het jy al in die Gees aanbid?
            Kan ons in die geesteswêreld insien, soos om Engele te kan sien? Ja ons kan. Dit het in die Bybelse tyd gebeur en gebeur steeds.
            Let op die volgende gebeurtenis:
            “En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar ‘n leër met perde en strydwaens rondom die stad.
            “En sy dienaar sê vir hom: Ag my heer, hoe sal ons maak?
            “Maar hy antwoord hom: Vrees nie; want dié wat by ons is, is meer as die wat by hulle is!
            “En Elisa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë dat hy kan sien. En die Here het die oë van die dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa.” 11 Kon 6:15-17
            Die dienaar sien net die oormag van die vyand. Elisa sien ook die oormag, maar hy sien ook God se leërmag.
            Toe die dienaar se geestelike oë open, toe sien hy ook die legioene Engele.
            Lees die hele Kon 6 en sien hoe Elisa die vyand verslaan.
            Ons kan selfs in die Gees sien. Bid dat die HERE ons geestelike oë sal oopmaak. Ons kan Engele sien, ons kan gesigte sien. “En in die laaste dae (dis waar ons nou is), spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.
“En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.” Han 2:17-18
“Die Vader soek mense wat Hom in Gees en in waarheid sal aanbid.” Nie skrywer nie, nie ‘n kerk nie, maar God soek sulke mense.
            God verkeer met ons in Gees en in Waarheid. Daar’s nie meer ‘n brandende braambos nodig nie, net gees en die Gees is hier.
            God praat met ons in en oor verborgenhede.
            Weer ‘n keer, dis nie skrywer of ‘n kerk wat praat nie, maar God self wanneer Hy sê: “Omdat dit aan julle (let op) gegee is om die verborgenhede van die Koninkryk van die Hemele te ken...” Matt 13:11
            Dis aan ons as erfgename “gegee” om die verborgenhede van die Koninkryk van God te ken.
            En die herhaling in Lukas: “En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die Koninkryk van God te ken.” Luk 8:10
            En verder: “Laat niemand dan op mense roem nie, want alles (let op) behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge –  (let op) alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.
“So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars (van wat?) van die verborgenhede van God.” 1 Kor 3:21-23; 4:1
            Joshua 5:13 is ‘n weerspieëling van wat tydens die Yom Kippoer Oorlog in Israel gebeur het. God het daardie oorlog met Engele gevoer en die Jode het in onderhoude dit aan skrywer bevestig.
            “En terwyl Joshua by Jerigo was, slaan hy sy oë en kyk, en daar staan ‘n man teenoor hom met ‘n ontblote swaard in sy hand; en Joshua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort u by ons, of  by ons vyande?”
            Hierdie man met die ontblote swaard was nie vir Joshua identifiseerbaar nie. Daarom vra Joshua hom: Behoort u by ons, of by ons vyande?
            “En die man sê:  Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom. (Ek het pas gearriveer).”
            Die man het geantwoord hy is die Hoof van die Leër van die HERE!
            Die gedagte verruk ‘n mens se sinne. Dis byna te groot vir die mens om te begryp.
            Ons sukkel met ons perspektiewe omdat ons nie in en deur die Gees van God wandel nie. Ons moet in Gees en Waarheid aanbid.
            “Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
            “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24
            Maak staat op die Heilige Gees in jou gebedslewe. “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge, wanneer ons in ons geestelike of Hemelse taal bid.
            “En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die Heiliges intree.” Rom  8:26-27
            Besef jy dat die sluise van die Hemel kan oopgaan om soos ‘n vloedgolf die bonatuurlike op die aarde uit te stort?
            God het my en jou gemaak. “Die Here het my voor my geboorte al geroep; toe ek nog in my moeder se liggaam was, het Hy my op die naam geroep.”Jes 49:1
            “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaar geweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien, toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” Ps 139:12-16
            “U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.” Ps 70:6
            Die Koninkryk van God lyk nie soos ek en jy nie, maar die verbysterende is dat ek en jy kan verander om soos God se Koninkryk te lyk.
            Is dit moontlik? Vir seker! Let op hoe is ons deur Jesus self geleer, hoe ons moet bid:
            “Onse Vader wat in die Hemele is, laat u Naam geheilig word; laat U Koninkryk kom; laat U wil geskied, (let op) soos in die Hemel net so ook op die aarde.” Matt 6:9-10      
            Let op: Laat U Koninkryk kom... laat U wil geskied... soos in die Hemel... so ook op die aarde... hier waar ek en jy nou is.
            Ons sing: “Doen slegs U wil Heer - U wil met my, U, Pottebakker, met my, die klei. Vorm my en maak my, net soos U wil...”
            “Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die HERE. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel.” Jer 18:6
            Ons strewe moet wees om soos Jesus te wees. Ons doen dit deur te doen wat hy ons beveel het: Verkondig die Evangelie, doop die Wedergeborenes, genees die siekes, ens., ens. Ons begin in Gees en in Waarheid bid en leef.
            Ons moet die Hemel se werklikhede na die aarde bring. Wonderwerke moet ‘n integrale deel van ons lewenswyse wees.
            Jesus se laaste boodskap aan ons kort voor sy vertrek na die Hemel: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg (let wel, die tekens volg ons, ons volg nie die tekens nie): “In my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.
“Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die Hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.” Mark 16:17-19
            Ons hele wese moet vervul wees met die Hemelse werklikhede. Druppels moet strome word en strome moet riviere word. Dis God se begeerte. Dis hoekoms die Wederkoms vertraag word... sodat nog gered kan word. 2 Pet 3:9)
            Beleef die Engele en hulle boodskappe en hulle hulp aan jou. Die Bybel is vol bonatuurlike gebeurtenisse. Dis ons wat alle bonatuurlike aktiwiteite op aarde in werking moet laat kom. Ons moet in verwagting en afwagting leef en in hoop, hoop soos in feite, toekomsfeite.
            Let op na die opdrag: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens (wie van ons het hierdie punt al in ons geestelike lewe bereik?).
            “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, (hoekom?) sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Rom 12:1-2
            Begeer die beste gawes, daardie gawes wat nodig is in jou betrokke bediening, en beweeg en hou nie op om te beweeg nie, in die Gees te beweeg nie.
            Hoe bereik ‘n mens hierdie geestelike vlak? Deur vas en gebed. Wanneer jy jou afsonder om te gaan bid en te wag op die HERE, dan vas jy... dus, daardie betrokke dag.
            Hoekoms vas ‘n mens? Daar vind voortdurende opbouende en afbrekende prosesse in ons liggaam plaas... die metabolisme. Wanneer mens vas, vind daar meer afbrekende as opbouende prosesse plaas en basies sterf mens en wanneer jy sterf, kom jou gees na die oppervlak... vandaar die noue kontak tussen jou gees en die Heilige Gees.
            Jy mag water drink wanneer jy vas. ‘n Mens wat sonder kos gaan, smag na sy vas, eerste na water. Toe Jesus uit sy 40 dae vas uitkom, toe vra hy eerste om kos. Hy moes dus in daardie 40 dae genoeg water ingekry het want Hy was nie dors nie.
            Geniet die Lewende Waters. – Sjibbolet