Donderdag 20 Augustus 2015

Is God besig om in jou lewe in te gryp?

Is God besig om in jou lewe in te gryp?

Soms gebeur dit met ons ook soos in Lukas 5:1-11 dat ons nette leeg is en na baie probeerslae steeds leeg bly.
          By die lees van Luk. 5:1-11 blyk dit aanvanklik dat dit die eerste keer was dat die dissipels geroep is. Wanneer mens nader daarna kyk, vind mens dit het betrekking op elkeen van ons.    
          God, in sy Almag, gryp nie net in die geskiedenis in nie, maar ook in die lewens van elke indiwidu (hoekom?) “Want ons is Sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Efes. 2:10
          Hoe gryp God in?
          Die nag voordat Jesus arriveer, probeer Simeon sy bes, maar vang geen vis nie.  Is dit nou toevallig, of is dit die begin van God se ingryping in Simeon se lewe?
          Die menslike verstand is gekondisioneer om alles as sleg af te maak wat nie dadelik ‘n voordeel oplewer nie.
          Dit kom vir ons vreemd voor dat God vir Simeon van sy lewensbrood ontneem. Oor Elia is geskryf: “Elía was 'n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie.” Jak. 5:17
          Is dit wat ons normaalweg van Christene in droogte geteisterde gebiede sal verwag?
          As ‘n siek man gesond word, of ‘n arm man ryk word, beskou baie dit as ‘n wonderwerk.
          Maar as ‘n gesonde man siek word, of ‘n ryk man word arm, is dit dan nie ook ‘n wonderwerk nie – in dié sin, dat God dit juis om ‘n rede toegelaat het nie?
          Wat is eerste prioriteit: Dat God se liefde moet streef na ons ononderbroke welgesteldheid en geluk in hierdie lewe, of is dit top prioriteit dat Sy liefde ons moet laat kwalifiseer en toerus vir die Ewigheid?
          Die tandarts en die chirurg maak ons dalk seer of “vermink” ons selfs wanner hulle ‘n ledemaat moet verwyder, ens., maar dit word gedoen om ons lewe te red en ons van verdere pyn en ongemak te bevry.
          Nou wat nou, moet ons God nou blameer omdat hy die sorge van die lewe toelaat?
          Die Almagtige God het vir ons ‘n Ewige erfporsie voorberei, aldus Joh.10:28 “En Ek gee hulle die Ewige Lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in Ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
“My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.”
Met hierdie as Sy groot doel, sal Hy sekerlik pyn en lyding en teleurstelling toelaat!
Die wêreld is dus doelbewus onderwerp aan frustrasie, nie uit homself nie, maar weens die wil van God wat die aarde en sy skepsels geskape het.
“Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het (hoekom?) in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.” Rom 8:20-21
Ps. 107 openbaar die mate waartoe God die rampspoed en die ongeluk sal toelaat sodat Hy ons hunkering na die perfekte geheel kan aanwakker wanneer Hy in soewereiniteit sal regeer.
          Waarom sal ek dit oorweeg om die kroon af te staan – ek, die groot god van my eie lewe?  En wat veroorsaak dat ek twyfel oor my eie kriteria om tussen reg en verkeerd te bepaal?
          Hoe sal ek ooit ontdek dat God se wil perfek en regverdig is? “Die Rots — volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; 'n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.” Deur 32:4
          Hoe sal ek weet dat Sy oordele meer begeer moet word as fyn goud en soeter is as heuning? “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.
“Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë.
“Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid — tesame is hulle regverdig.
“Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop.” Ps 19:8-11
          As dit nie was vir jou teleurstelling en ontnugtering nie, waar sou jy vandag gewees het?
          Toe Jesus daardie oggend by Gennesaret staan, was ook die tydsberekening perfek —  die nette was leeg, die omgekrapte siele was teleurgesteld en honger — nogtans gereed vir die Brood van die Lewe, al sou hulle dit nie self besef het nie!
          Die skare was gereed om Hom aan te hoor. God se Woord is vir almal en Sy uitnodiging tot redding is vir almal, en boonop is Sy bloed meer as genoeg vir almal.
          Maar, soos in die geval van die melaatses van Lukas 7 is nie elke mens se belange groter as sy onmiddellike nood nie, groter as die begeerte om ‘n beter lewe te lei volgens sy eie kriteria nie.
          Wanneer Jesus Christus kom, sal dit wees vir hulle wat ‘n ander soort lewe wil lei — ‘n lewe wat deur God regeer word.
          Luk. 5:4 “Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak…” Vir hulle wat gewillig is, is daar God se uitnodiging om te toets en God se weë te beproef.
          Die tyd het aangebreek om geloof deur aksie te toets. Gehoorsaamheid is die bewys van geloof.
          Luk. 5:5 “…maar op u Woord sal ek die nette laat sak…” Het jy al ooit daaraan gedink dat dit ‘n baie goeie rede is om iets te doen – omdat God so gesê het?
          Ons sê maklik, maar in Joh. 14:14 sê die HERE tog self: “As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
          Nogtans vergeet ons die voorwaarde in strofe 15: “As julle My liefhet, bewaar My gebooie!”
          Daar is egter ‘n belangrike detail in die visserman se storie. Jesus sê vir Petrus om in die daglig te vang, terwyl dit hulle gewoonte was om in die nag te vang, wanneer die nette nie vir die vis sigbaar sou wees nie.  Jesus verwag dus van Petrus om die ongewone, die nie-tradisionele te doen.
          Christus verwag dat ons ook ongewone dinge moet doen soos vervat in Matt. 5:39-44  —  ongewone dinge soos om jou vyand lief te hê, as iemand jou onderkleed wil neem, gee hom ook die bokleed, ens.      
          Nog “verregaande” ongewone dinge is vervat in Rom. 12:20-21 “As jou vyand honger het, gee hom iets om te eet, as hy dors het, iets om te drink…  Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
          Geloof vereis dat jy teen menslike instinkte en konvensionele wysheid inbeweeg. In Jes. 55:8-9 sê God onder meer dat Sy gedagtes (in elk geval) nie ons gedagtes is nie, en Sy weë (in elk geval) nie ons weë is nie.
          Sy weë is en bly effektief om vir ons vrede, geluk, genesing, blydskap, voldaanheid en liefde te bewerk — iets wat ons weë nie kan bewerk nie.
          Luk. 5:6 vertel dat toe hulle na die dieptes toe uitvaar en die nette juis daar laat sak, het hulle so ‘n menigte van vis uitgetrek dat die net wou skeur. Hulle moes die vissers in die ander skuit roep om te kom help en hulle het albei skuite vol vis gemaak.
          In Joh. 8:31-32 sê Jesus aan die Jode, “as julle in my Woord bly, is julle waarlik My dissipels. En julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak!”
          Met ander woorde, as ons nie in sy Woord bly nie, is ons nie Sy dissipels nie. Dit is juis dan wanneer ons onsself blootstel aan allerlei ellendes, omdat ons nie langer beskermd is nie, en ons nie langer beskermd nie omdat ons die geregtigheid van God nie ken nie en ons eie geregtigheid probeer oprig. Rom. 10:3.
          Matt. 23:28 “So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.”
          Rom. 1:28 “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:
“hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;
“nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers;
“onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,
“mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.”
Kyk ook so daarna: Daar is niks mee verkeerd om ‘n miljoen rand in die bank te hê nie, maar as die miljoen rand jou het, dan het jy ‘n probleem.
          Die versekering van God se Waarheid is nie vir die onverskillige waarnemer of die intellektueel nie. Daardie versekering is die beloning vir geloof. Omdat ons glo, doen ons, en omdat ons doen, kan ons ook sien.
          Ons skik of pas ons lewe aan by Sy wil en dan beleef ons Sy waarheid.
          Die gehoorsaamheid van geloof maak ons nette tot oorlopens toe vol van God se goedheid, want die Gees gee lewe (Joh. 6:63) en ons ontvang in oorvloed (Joh. 10:10).
In Ps. 107 verander die woestyn         in poele water en fonteine. In Matt. 11:28 gee hy rus aan die wat vermoeide en belas is.
En nou is die versoeking daar om wanneer ons in Sy wil is en dit met ons goed gaan, dat ons dink ons het nou ons doel in die (Christelike) lewe bereik. Het Petrus gereageer deur meer bote aan te koop of ‘n inlegfabriek te bou?
          God se oorvloed is nie beskikbaar vir hulle wat oorvloed najaag nie. Maar vir hulle wat vir God najaag, want dan gee God elke nuwe dag vir ons genade!
          Wanneer ons God in sy heerlikheid en oorvloed smaak en ons oorloop van uitbundige blydskap, dan is dit net mooi oomblikke wat tydelik is, nogtans is dit die voorspel tot die Ewige blydskap wat op ons wag.
          Maar daar is meer wat ons nou nodig het want God se goedhartigheid lei ons na Rom. 2:4 want die rykdom van Sy goedertierenheid, Sy verdraagsaamheid en lankmoedigheid, is om ons tot bekering te lei!
          Ons skaam ons vir die baie besluite wat ons in ons lewens geneem het wat buite die wil van God was.  Daar was kere wat ons selfs teen ons eie gewete opgetree het. Ons het soms doelbewus dinge gedoen wat ons geweet het is verkeerd. Petrus het ook sulke foute gemaak.
          Die Heilige Gees gaan ‘n skuldige wêreld vervolg (Joh. 16). Die verharde gewetes sal met ‘n skokkende realiteit kennis maak.
          Rom. 14:10 sê ons gaan ‘n ieder en ‘n elk voor die regterstoel van God staan en John. 1:9 sê as ons, ons sonde bely is Hy getrou en regverdig om ons, ons sondes te vergewe en (boonop) van alle ongeregtigheid te reinig!
“En nadat hulle hul skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg!”
Dit, liewe medegelowige, is wat verlang word, dat ons alles sal verlaat en die ongewone dinge in die naam van Jesus Christus sal begin doen!
Ons het ‘n land en sy mense om te red. – Sjibbolet