Wys tans plasings met die etiket skeltaal. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket skeltaal. Wys alle plasings

Maandag 05 Augustus 2019

Emosionele Mishandeling


Is jy ook ‘n slagoffer van ‘n Skêrmens?


Van die konsert  van die lewe kry niemand ‘n program nie… en van die huishoudelike politiek nog minder.

            Oor die wandel saam met Koning Jesus, het ons ‘n handboek en Engele as bystand.

            Geen voël kan egter met geknipte vlerke vlieg nie.  Hou moed: “Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”
Jes 40:31. Wees net geduldig...

            Ons kan opvaar met vleuels soos die arende. ‘n Sonde is egter besig om die volk te vernietig: Die mishandeling, van veral vroue en kinders.

Die mishandeling geskied in die vorm van voortdurende beledigings, skeltaal, vernedering, verkleinering, valse beskuldigings. iemand kry die skuld vir alles wat verkeerd is.

            Hierdie mondelinge mishandeling vind later selfs In ander se teenwoordigheid plaas. Die slagoffers voel hulle kan later niks meer reg doen nie. Met alles word fout gevind.

            Vroue sit bv daagliks in spanning en vrees hul mans se tuiskoms met: “Wat het ek vandag weer verkeerd gedoen?”

            Hierdie verbale mishandeling vernietig die lewe van die slagoffer. Baie hou uit en verduur. Hierdie optrede verbreek ook die huweliksbande.  ‘n Gepaste benaming vir die skuldiges, is Skêrmense. Hulle knip ander se vlerke so erg dat hulle later nie meer  kan vlieg nie.

            Van ware liefde is daar later geen sprake meer nie. Die kinders begin daar onder ly en nie lank nie of alles val uitmekaar…

Die onskuldiges vlug na egskeiding of selfmoord, drank en dwelmmiddels… Sommige vlug terug na hul ouerhuise. Dit alles is ‘n uitweg, maar nie ‘n oplossing nie. In berading roep hulle uit: HERE, ek het niks meer om voor te lewe nie. Soos in ‘n landwye droogte word hulle soos lewende dooies.

            Veral vroue word gevangenes in hul eie huise. Trane loop in strome. Mense is stukkend. Ons moet ons oor vroue in hierdie tronke ontferm.

            Die Skêrmens het een of ander behae daarin om ander so te pynig. Hy of sy knip die ander se vlerke.
            Daar is baie skêrmense, mense wat gedurig ander se vlerke knip wat maak dat hulle nie vry kan vlieg nie. Geknipte vlerke is traumaties. Dit beperk  die slagoffer se vermoëns.

Die slagoffers verdien dit nie. Gebedsgroepe moet soos ware intersessors by die Hemel ingryp vir hierdie slagoffers.  Die lewe is te kort, ons durf dit nie duld nie.

Loof die HERE tot in die Hoogste Hemele  sodat hierdie slagoffers weer volvlerk kan vlieg tot eer en verheerliking van die HERE en sy Koninkryk….dat hulle soos arende kan vlieg.   

"Aan Hom wat deur Sy krag... magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink..." Efes 3:21

Van hierdie slagoffers sit in die kerkbanke, maar ons ander is nie geestelik ingestel sodat die Heiige Gees die pyn en lyding aan ons kan uitwys nie. Wanneer alles uitmekaar spat dan bely ons: “Ons het dit nie sien kom nie.”

            Pleit by die HERE dat hierdie kettings verbreek word sodat  Sy volk vry kan uitgaan om Hom te aanbid en te dien. Doen dit in trane as dit nodig is en dra hierdie alles vernietigende las wat soos ‘n pandemie oor die land en die wêreld heen versprei. – Wekroep