Donderdag 03 November 2016

‘n Eenvoudige traktaatjie


Image result for Man getting on a bus and paying with a ticket



In A Victory Tract vertel 'n man in die eerste persoon sy storie onder die titel: Jou kaartjie asseblief!

Ek het 'n bus uit die stad huis toe gehaal. Nie lank nie of die kondukteur kom my kaartjie vra. Ek gee dit vir hom en ook 'n traktaatjie. Hy lag. "Jy gee my elke keer een van daardie godsdienstige leesgoed. Jy moet dink ek is 'n slegte man. Maar ek is net so goed soos enige ander persoon."
Ek het my Bybel opgehou en gevra: "Sien jy hierdie boek. Dit sê vir my: ‘Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? (Jer. 17:9).' Dit beteken jou hart en my hart." "O, wel," sê hy, "daar is vir my nog baie tyd om oor hierdie dinge te dink. Ek is nog jonk."
"Ja, ek sien so," antwoord ek hom, "maar jy kan na enige begraafplaas toe gaan en jy gaan grafte van verskillende groottes daar kry. 'n Dogtertjie het eendag vir haar ma gevra hoe oud moet mens word voor jy doodgaan. Die verstandige ma het vir haar 'n lang stuk lyn gegee en gesê sy moet na die begraafplaas toe gaan en dan meet sy elke graf. Elke keer maak sy 'n knopie in die lyn om die lengte aan te dui. Na 'n ruk het sy met haar lyn teruggekom. Die lyn was vol knope. "Kyk, ma, die grafte is alle lengtes." "Dit is so, my kind, dit is wanneer mense doodgaan: enige tyd en enige ouderdom." Die kondukteur het weer gelag en gesê: "Vir my is daar nog baie tyd."
Toe ek by my bestemming afklim sê ek vir hom: "Onthou die tyd is kort. Jy hoef nie na 'n Christuslose graf en hel toe te gaan nie. Christus het ook vir jou gesterf." Die jongman was nog maar ses of agt weke op daardie busroete, maar ek het dikwels met hom 'n gesprekkie aangeknoop en elke keer vir hom 'n traktaatjie gegee.
Die volgende dag na ons gesprek ry ek met dieselfde bus, maar daar is 'n ander kondukteur. Hy vertel my die man met wie ek die vorige dag gepraat het, wou na werk vinnig by sy klub kom. Hy het uit die bus gespring om die ander bus te haal. Hy het misgetrap en onder 'n voertuig beland. Hy is hospitaal toe geneem, maar hy is 'n kort rukkie later die ewigheid in.
Die nuus het my hewig ontstel, want dit beteken die man is toe regtig, soos ek hom gewaarsku het, na 'n Christuslose graf toe en hy is dan reeds in die verdoemenis. Net 'n rukkie later kom een van sy vriende by my aan en vertel my dat die man voor hy gesterf het Christus as Saligmaker aangeneem het, en gevra het hy moet dit vir my kom sê.
Na al die traktaatjies wat hy gelees het, het hy genoeg kennis gehad om te weet hoe om die Here aan te neem as sy Verlosser. Ek het na sy huis toe gegaan en ek is toegelaat om na sy lyk, wat toe reeds in 'n kis was, te gaan kyk. Toe ek op sy stil gesig afkyk het ‘n intense gedagte my vervul, wat ek ook hier neerskryf. Wat 'n dringende, vreeslike waarskuwing is dit nie, vir enige iemand wat dink hy het nog baie tyd nie.
“'n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel.” Heb.8:27. In sy liefde en genade het God aan hierdie jongman ‘n kans gegee om sy oordeel te ontvlug. God het hom ook 'n laaste boodskap gegee. Wat ek nou skryf mag God se laaste boodskap aan jou wees. "Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding." 2 Kor.6:2
Bereik dit jou op veilige grond? Jy weet jy is gered! Of doen jy nog net jou bes om vir die Here te lewe? Vertrou jy daarin vir jou saligheid? Luister na die Here se woord: "Wie op sy eie hart vertrou, hy is 'n dwaas..." Spr.28:26. : "'n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is." Spr.29:1
Die man wat die traktaatjie vir die buskondukteur gegee het en met hom gepraat het, kan ook bly wees: Hy het sy werk vir die Here getrou gedoen. Daar is talryke getuienisse van mense wat weens ‘n eenvoudige traktaatjie gered is.
Ons is in die Laaste Uur. Bring die siele in. Jy kan tog nie alleen Hemel toe gaan nie. Gee om vir andder en neem hulle saam.