Vrydag 11 November 2016

Herlewing begin by jou en my…



“Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” Rom 12:11. Die klem val op: “Wees vurig van gees!”
            Komaan, kry jou geloof in aksie! "Die vurige gebed van die regverdige het groot krag!" Jak 5:16



            Die opdrag is duidelik: Ons moet aan die brand wees vir die HERE. Ons leef in ‘n tydvak van louheid, die mees gevaarlike toestabnd vir ‘n Gelowige om hom- of haarself in te bevind. Louheid ontstaan wanneer Gelowiges toelaat dat die tydelike dinge van hierdie wêreld hul lewens oorheers en selfs die Bybel stof vergader.
            Wil jy graag ‘n lewensveranderde belewenis met die Heilige Gees beleef?
            Kom terug in die Woord sodat die HERE met jou kan praat. Vra die HERE om jou oë te open sodat jy Sy verborgenhede kan sien en beleef. “En hulle sê vir mekaar: “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” Luk 24:32. Word ‘n Emmausganger… stap saam met Jesus deur die Woord.
            Die Woord steek ‘n nuwe vuur in jou hart aan. Elke woord in die Bybel is lewendig. Die Bybel het deur eeue heen behoue gebly. Vergeet die negatiewe en die satan se praatjies. Hy het nooit gewaag om sy eie Bybel ten boek te stel nie want hy is en bly ‘n leuenaar.
            Mens dink skielik aan die vrou wat gekniel het om haar lewe opnuut aan die HERE toe te wei, toe sy bid: “Djere, djy ken voor my want Djere, Djy’t my siel gered, maar ai Djere, die Satan hy het nie my adres gaverloor nie.”
            Stook die vuur van gebed in jou lewe. As jy nie weet wat om te bid nie, bid dan die volgende… jy kan dit ook singend bid, op jou knieë:

WAT 'N VRIEND HET EK IN JESUS,
HY WAT IN MY PLEK WIL STAAN;
WAT 'N VOORREG OM GEDURIG
TOT GODS TROON DEUR HOM TE GAAN!
HOE VERBEUR EK TOG DIE VREDE,
AG, HOE DIKWELS LY EK SMART,
NET OMDAT EK NIE MY NODE
UITSTORT IN GODS VADERHART!

AS VERSOEKING EN BEPROEWING,
OF AS KWELLING MY BEDREIG,
LAAT EK NOOIT MISMOEDIG WORD NIE,
LAAT MY BEDES OPWAARTS STYG.
NêRENS IS 'N VRIEND GETROUER,
AS HY WAT MY NODE WEET;
JESUS VOEL MET AL MY SWAKHEID,
EN WIL DEEL IN AL MY LEED.

IS EK SWAK, GEDRUK DEUR LASTE,
ONDER KOMMER NEERGEBUK,
DIERB'RE HEILAND, MY GANSE TOEVLUG,
O BEVRY MY WEER VAN DRUK!
AS MY VRIENDE MY VERSAAK HET,
SOEK EK IN GEBED DIE HEER,
AAN SY BOESEM IS EK VEILIG,
HY VERTROOS MY KEER OP KEER.

Jesus is ons Vriend. “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.
“Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.” Joh 15:14-15
‘n Vuur hou net aan met brand as jy voortdurend hout op sit. Jou stiltetyd saam met die HERE is van kardinale belang. Jesus, jou beste Vriend, wag vir jou. Let op: “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep?” - Deut 4:7
            Mens kan nie oorleef sonder gereelde gemeenskap met die HERE nie. Jy mag selfs nagmaal in jou stiltetyd gebruik. Gebed is soos jou broodnodige asemhaling wat jou geestelik lewend hou.
            Wat ook al die rede is vir jou louheid, maak dit vandag nog reg.
            Jy mag sing in jou stiltetyd, jy mag jou hande klap van blydskap, jy mag selfs in die agtergrond pragtige geestelike liedere speel en selfs saam sing. Jy mag ook huil en selfs lag. Jou stiltetyd is ‘n brandende vuur. Loof die HERE, sag of hard.
            “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En (uiters belangrik) word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed (hoekom?), sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Rom 12:1-2