Donderdag 10 November 2016

Dalk kan ons gekweste land ontkom.


Image result for 5 lions eating a buffalo


Daar is tans ’n natuurvideo in omloop waarin vyf leeus ’n buffel plattrek. Die buffel is al erg beseer toe die leeus onderling begin baklei en die buffel in die proses kans kry om op die been te kom en te ontsnap.

Dié video het my laat dink aan ’n soort ingryping van God wat ’n paar keer in die Bybel vermeld word, naamlik dat Hy verwarring onder die vyande van Sy volk gebring het en hulle mekaar self in die proses uitgewis het sonder dat Israel veel hoef te gedoen het.

Die bekendste geval is seker dié van Gideon met sy 300 manne teen die menigte Midianiete en waar ons lees dat “die Here die swaard van die een teen die ander gerig het”. (Rigt. 7:22)

2 Kron. 20:22+23 vertel hoe die Here vir ’n oormag vyande wat op Jerusalem toegesak het ’n “hinderlaag opgestel” het en hoe hulle “mekaar in die verderf gehelp” het.

Die Here het ongewone maniere om met Sy vyande te werk. Ja, God het inderdaad vyande. Veral mense wat leuens, valsheid, korrupsie en bedrog eerder as die waarheid kies, posisioneer hulself as vyande van God.

Hy is die hoogste uitdrukking van waarheid. Trouens, Hy word “Waarheid” genoem. Waarheid word aan Hom gemeet.

Hy is die definisie van waarheid. God kan nie met leuens en leuenagtiges geassosieer word nie.

Die laaste paar weke is Suid-Afrika toenemend ontsier en onteer deur politieke slinkshede, intriges, bedrog, valsheid, sameswerings, korrupsie en leuens – en dit veral deur hulle in die hoogste gestoeltes.

Dis sleg as hulle wat die land moet regeer kwalik enige geloofwaardigheid meer in die oë van die landsburgers het.

Hiermee posisioneer ek God nie soseer teen ’n politieke party nie, maar teenoor mense wat ter wille van magsug en hebsug sal lieg, bedrieg, konkel, saamsweer en selfs moor om hul selfsugtige doelwitte te bereik.

Terwyl eerbare mense uit verskillende sektore van ons samelewing al hoe meer probeer om korrupsie en bedrog in ons land te ontmasker en te beveg, is meer Christene as ooit tevore ook diep onder die indruk van die rol wat hulle kán en behóórt te speel.

Die laaste paar maande het individuele gelowiges, gebedsgroepe en kerke op ’n ongekende wyse tot die Here vir Sy ingrype gebid. Hierdie geestelike ontwaking en mobilisering reflekteer dalk nie in die media nie, maar wel dáár waar dit regtig saakmaak – voor God se troon.

Dit word al hoe duideliker dat daar grootskaalse verwarring en tweespalt onder die vyande van waarheid en geregtigheid plaasvind.

Mense van karakter, met ’n sin vir waarheid en integriteit, vind hulself al hoe meer genoop om onder die donker skadu van bedrog en korrupsie uit te beweeg en standpunt in te neem – selfs teen hul eie partylede en ­jare lange kamerade.

As magsugtige politieke roofdiere onder mekaar begin veg, is daar dalk hoop dat ’n gekweste land kan ontkom en oorleef.

Dalk aanskou ons ook nog soos Israel van ouds dat ’n Godgestuurde verwarring ’n hoopvolle toekoms vir Suid-Afrika inhou!

Dr. Isak Burger