Donderdag 10 November 2016

Verwag altyd die Goeie, want God is Goed


Image result for ringing telephone          

Ons lewe in ‘n tydvak waar ons daagliks eerder slegte as goeie nuus verwag. Die slegte nuus van oorloë en dergelike is egter goeie nuus wat die profetiese beeld oor die Eindtyd voltooi. Hoe nader ons aan die einde van hierdie wêreld beweeg, hoe meer opgewonde moet ons raak want ons verlossing is na by.
            Wanneer die telefoon laataand of vroegoggend lui, is ons eerste gedagte dat dit slegte nuus moet wees. Ons dink meesal eerste oor dood. Wanneer die voorman jou laat roep kan dit nog gaan, maar wanneer die besturende direkteur jou laat roep, dan bewe jy al. Jy vermoed jy gaan afbetaal word of straks nog erger dinge. ‘n Laataand klop aan die voordeur, laat meeste van ons ook in vrees regop sit.
Ons kan nie so in vrees lewe nie. Dit sal ons vernietig.  “En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God…” Efes 6:17
            Ons is geneig tot negatiwiteit, maar as Wedergeborenes staan ons op Oorwinningsgrond, geklee in die helm van verlossing… en verder: “Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.” 1 Thes 5:8
            As jy op die oomblik deur ‘n moeilike tyd gaan, beklee jou met 1 Thes 5:8 en glo dit as uitgemaakte saak dat God antwoord en die problem opgelos is. Ons kan nie en sal ook nie ooit die onderspit delf nie.
            Ons lewe op hoop, nie soos in “ek wens” nie, maar “ek weet”. Vir die Wedergeborene is hoop altyd “toekoms-feit” soos in hoopvolle toekoms.
            Natuurlik sterf mense, natuurlik is daar ongelukke, maar as Wedergeborene leef ons BO die omstandighede en nie ONDER die omstandighede nie.
            As mens ‘n studie doen oor die rol van Engele in ons lewens, dan sal jy besef dat mens in elk geval nooit alleen is nie. Natuurlik is daar demone ook, maar hulle word totaal oorskadu deur ‘n magdom Engele, groeperinge… elk met ‘n eiesoortige bediening.
            God is IN ons en Hy is by verre groter as hy wat in die wêreld is. 1 Joh 4:4