Vrydag 25 November 2016

Mens gee nooit op nie…


Image result for soldier hiking


Jare gelede het 'n Roger Simms wat pas klaar was met diensplig, huis toe geryloop. 'n Mnr. Hanover laai hom in sy duur Cadillac op. Hulle stel hulleself aan mekaar bekend. Hanover sê hy is op pad na Chicago. Hy het ‘n sakeonderneming daar.

Roger vertel dat terwyl hulle ry, voel hy 'n drang in sy hart om vir die vreemdeling te vertel hoe hy tot bekering gekom het, en die man dan na sy eie verhouding met Christus te vra.

Hy deins terug, want al het hy in die kamp, tussen die dienspligmanne, nooit geskroom om vir Christus uit te staan nie, voel hy te beskeie om met so 'n vreemde en sigbaar welgestelde man oor sy siel te praat. Die aandrang in sy hart om die man vir Christus te probeer wen is egter so groot dat hy, steunend op die krag van die Heilige Gees, sy vrees oorwin en oor sy eie bekering praat en vir die man vra of hy nie verlang om ook Christus aan te neem nie.

Mnr. Hanover se reaksie was so geweldig dat Roger skrik. Hanover trek van die pad af en bring sy motor dadelik tot stilstand, laat sy kop op die stuurwiel sak en begin huil. Met Roger se hulp neem hy Jesus Christus aan as persoonlike Verlosser.

“Hierdie is die wonderlikste ding wat nog ooit met my gebeur het,”" sê hy met vreugde vir die oorblufde Roger. Kort daarna laai hy Roger naby sy huis af en ry verder na sy eie bestemming.

            ‘n Paar jaar later, terwyl Roger voorberei vir 'n sakereis, kom hy af op mnr. Hanover se visitekaartjie. Mnr. Hanover se kantoor is op sy sakeroete en hy besluit om Hanover by sy reisprogram in te sluit. Die kantoor is in een van die hoë wolkekrabbers in Chicago se middestad.
‘n Ontvangsdame sê hy kan nie met mnr. Hanover praat nie, maar sy neem hom na mev. Hanover toe. “Het u my man geken?” vra mev. Hanover. Roger vertel haar die storie en hoe mnr. Hanover sy hart vir Christus gegee het.

“Wanneer het dit gebeur?” vra sy met 'n skielike belangstelling. Roger onthou: “Die 7e Mei, vyf jaar gelede, toe ek my diensplig voltooi het.”

Sy bars in trane uit. Nadat sy haar selfbeheersing herwin het, sê sy: “Ek het jare lank vir die redding van my man gebid, maar ek het gedink God het my en my lewe en gebede verwerp en ek het vyf jaar gelede opgehou om vir Hom te leef. En kyk net hoe wonderlik het God my verhoor. Daardie dag, dit moet wees net na my man jou afgelaai het, is hy in 'n kop-aan-kop botsing dood.”

Roger moes weer help en mev. Hanover het haar saak met die HERE reggemaak.

            Met God gee mens nooit op nie want Hy is en bly ‘n Waarmaker van sy Woord. Al neem dit hoeveel jare voor die antwoord kom, hou net aan met klop want vir seker sal Hy oopmaak. Onthou altyd, die saad wat jy saai is lewendig en gesond en dit sal vir seker opkom.