Donderdag 03 November 2016

Dankie Jesus vir Hoop...

Image result for dankie jesus images

God wil dat ons as Sy kinders, hoop op ‘n aaneenlopende grondslag moet beleef en geniet. Nie hoop soos in “dalk” nie, maar hoop soos in “toekoms-feit”, want God sê daar is hoop.
Die Almagtige God is die God van hoop. Hoop is een van die gawes wat God aan ons skenk, vandaar ook die Afrikaanse spreekwoord dat “die hoop sal nooit beskaam nie!”
Nogtans verval ons soms in wanhoop en word ons mismoedig. Mismoedigheid is veronderstel om vir die Christen ‘n kortstondige moment te wees op pad terug na hoop.
Ons het hoop as integrale deel van ons bestaan nodig want ons kan nie sonder hoop lewe nie.
Sonder hoop voel dit vir ons of die lewe nie die moeite werd is nie... soos wanneer jy totaal hulpeloos in die diepsee weggly en jou lewe voor jou verby sien flits. Soos wanneer jy middernag met ‘n visboot in die stormsee en gietende reën ure lank sukkel om veiligheid te bereik met net ‘n paar roeiers.
Of soos wanneer jy letterlik alles in die lewe verloor en die enigste oplossing selfmoord is, maar ‘n reuse Engel jou verhoed om dit te doen.
Al is jy ‘n kind, moenie eers aan selfmord dink nie want daar is hoop. Selfs al kan jy dit nie sien nie, weet dit, daar is hoop.
Die Heilige Gees in ‘n grootmens, is nie ‘n kleiner gees in ‘n jongmens of in ‘n kind nie. Die Heilige Gees is in Sy volheid ook vir en in jou as jongmens en selfs as kind.
Wanneer ons hoop het, dan voel ons soos wat God ons gemaak het.
Sonder hoop voel ons soos ‘n regte ou nikswerd – totdat ons besef, daar is hoop!
Daar is hoop! Dit maak nie saak wat jou omstandighede is en watter probleme jy in die gesig staar nie: Daar is beslis hoop. Solank jy nog lewe en asemhaal is daar hoop.
Omstandighede kan verander. “Want solank iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop.” – Pred. 9:4.
“’n Lewendige hond is beter as ‘n dooie leeu.” – Pred. 9:4.
Luister weer, wat jou omstandighede ook al mag wees, al staar jy die dood in die gesig, is daar hoop.
Al het jy jouself afgeskryf en heeltemal moed opgegee, is daar hoop, want jy is heelwaarskynlik in jou huidige situasie omdat jy jouself daarin geplaas het.
Onthou, ander mense raak ook mismoedig, soos Koning Salomo. Hy was die mees wyse man wat ooit geleef het. Hy was ‘n magtige koning, en selfs hy net by ‘n plek in sy lewe gekom waar hy gevoel het dit beter sou wees om liewer dood te wees. – Pred. 4: 1-2.
Selfs Dawid het in wanhoop verval in Ps. 142:3.
Natuurlik kom daar tye en omstandighede in ons lewens wat ons spreekwoordelik op moedverloor se vlakte laat sit. Ons kan maar daar sit, maar hoop verlaat ons nooit nie. Daar is altyd hoop, want God het dit beloof!
As jy moedverlore sou word, dink maar daaraan dat jy in belangrike geselskap soos die van Koning Salomo, Koning Dawid en Jesus Christus is.
Juis omdat Jesus Christus opgestaan het, is daar hoop, en boonop hoop op hoop.
Daarom durf ons nie in ‘n staat van mismoediging bly nie. Ons moet die kole van hoop aanblaas tot ’n magtige hoopvolle vuur.
Dink weer ‘n keer: Daar is mense wat sê hulle sal sterwe vir Christus. Klink nogal edel né. Die waarheid is dat God nie verlang dat jy vir Hom moet sterwe nie, maar juis dat jy vir Hom moet Lewe!
Lewe om ander te bemoedig. Lewe om die gevangenes en die siekes te besoek, die ellendiges op te help, jou man, jou vrou, jou kinders lief te hê, die Lewegewende Evangelie te verkondig, om Christus voor die mens te bely.
Waar daar lewe is, is daar hoop, sê ons altyd. Maar selfs in die dood is daar hoop want ‘n Christen gaan nie dood nie, hy het die Ewige Lewe.
Hoop lei tot verandering, tot restourasie, tot nuwe lewe, tot nuwe moed, ‘n nuwe visie, ja, tot ‘n totale metamorfose!
Verandering verwyder die haat, die nyd en die liefdeloosheid uit jou lewe. Hoop herstel huwelike en verhoudings.
Hoop gee jou aangenome kind aan jou terug en aan die aangenome kind sy ouers terug. Mal 4:5-6
Hoop sê: “Staan op, neem jou bed op en loop!” – John. 5:8.
Die besluit om hoop te aanvaar berus egter by jouself. Jy moet die keuse maak.
Hoop sê: “As jy (as Christen gestruikel het) jou sondes bely, Hy is getrou en regverdig om jou, jou sondes te vergewe, en (boonop) jou van alle ongeregtigheid te reinig. – 1 Joh. 1:9. Hoop maak alles nuut, ook vir jou.
Heb. 7:19 sê: “… daar is die invoering van ‘n beter hoop waardeur ons tot God nader.”
Hoop sê in Sag. 9:12: “Keer terug na die vesting o hoopvolle gevangenes! Ook kondig Ek vandag aan dat Ek jou dubbel sal vergoed!”
Hoop sê in Klaagl 3:21-26: “Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop: dit is die goedertierenheid van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want Sy barmhartighede het geen einde nie (let op: geen einde nie); hulle is elke more nuut; U trou is groot!
“Die HERE is my deel, sê my siel, daarop sal ek op Hom hoop. God is die HERE vir diegene wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE!”
Hoop sê in Heb. 6:18-19: “Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename (dis ek en jy as Christene) van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg:
“Sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel, wat veilig en vas is en ingaan tot die binnekant van die voorhangsel.”
Dit is noodsaaklik dat jy ‘n studie maak van Heb. 6. Dit staan bekend as die hoop-hoofstuk.
In Joël 2 doen hoop ‘n ernstige beroep tot bekering, want daar is hoop en in Joël 2:25 kom die genadige en regverdige God en sê hy sal diegene wat terugkeer na die hoopvolle vesting vergoed vir die jare wat die sprinkane verslind het.
Maak altyd die regte keuse, kies HOOP! – Sjibbolet

Iemand se gebed nou anderdag:

Ek is ‘n Koningskind!
Ek is meer as Oorwinnaar deur Christus wat my krag gee
Ek is die wenner en nie die verloorder
Ek is tot alles in staat weens Sy krag
Ek sit saam met Jesus in hemelse plekke
Ek regeer saam met Hom oor die vyand en sy werke
Satan ek weerstaan jou, jou werke en jou planne;
Ek bind jou en maak jou kragteloos in Jesus’ naam
Jy’t genoeg gesteel en geslag
Jou tyd is op
Die bloed van Jesus is teen jou
Wyk van my af!
Ek eis duisendvoudig terug, al’s wat jy van my gesteel het
Ek eis ‘n siel vir elke sent wat jy van my beroof het
God sal jou straf.. dis reeds so opgeskryf!
Ek neem my gesag in Christus op,
Hy leef in my en ek deur Hom...
Met Jesus loop ek ‘n bende storm,
Met Hom spring ek oor ‘n Muur,
In Jesus’ naam
Amen