Wys tans plasings met die etiket merk van die dier. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket merk van die dier. Wys alle plasings

Maandag 14 November 2016

Die gevreesde 666


·Image result for 666   

Wie se Merk dra jy?

Die instelling van die Merk van die Dier is so ‘n gegewe as wat die geboorte van Jesus Christus was, as wat Sy sterwe was, en ook Sy opstanding en ook Sy Hemelvaart en beslis ook Sy Wederkoms.  Dit is op pad!
            Wat gaan gebeur as jy die Merk van die Dier aanvaar?
            Openb. 14: 9-11 sê:  “As iemand die Dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang sal hy self ook drink van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van Sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige Engele en voor die Lam.
            “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie – hulle wat die Dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van Sy naam ontvang.”
            Ons is op die vooraand van die instelling van die Merk van die Dier.  Let op die snelle tegnologiese ontwikkeling in die digitale wêreld.  ‘n Magdom inligting kan op ‘n skyfie so groot soos ‘n speldekop geberg word.
            Merke, soos jou handtekening, wat onsigbaar is vir die oog, maar sigbaar onder sekere beligting, is lank reeds moontlik.  Daar is geen twyfel oor die beskikbaarheid van die Merk nie.
            Wat wel saak maak, is wie die merk gaan ontvang. Die Bybel sê die mense sal die Merk ontvang.  Daaruit wil mens aflei dat elkeen ‘n keuse sal hê of hy die Merk wil ontvang al dan nie.
            Omstandighede gaan miljoene mense dwing om die Merk te ontvang:  Aan die een kant omdat hulle nie die gevaar daarvan sal besef nie, en aan die anderkant omdat niemand sonder die Merk sal kan handel dryf nie – Openb. 13: 16  “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die Merk of die naam van die Dier of die getal van sy naam het.”
            Finansiële instellings wil in toenemende maat nie meer tjeks uitskryf nie.  Jy moet ‘n bankrekening hê. Geldverwisseling begin al hoe meer aanlyn geskied.  Sonder jou strepieskode ID-boekie is jy deesdae verlore.  Die poskantoor wil nie eers jou eie pakkie aan jou oorhandig as jy nie oor die nuwe strepieskode boekie beskik nie.
            Alles wat jou lewe beheer werk met ‘n nommer, vanaf jou ID-nommer tot by jou mediese fonds, al die koopkaarte, alles.  Die moontlikheid om kontant te hanteer verklein by die dag.
            Bedrog in die finansiële wêreld gaan maak dat kontant, tjeks en koopkaarte verdwyn.  Die Merk, of dan nommer, sal op jou voorkop en/of jou hand verskyn.
            Dis hier wat jy sal moet vasskop en waar jou pad op aarde finaal gaan skei van diegene wat die Merk ontvang.  Al wat vir jou sal oorbly is ruilhandel en daarvan weet ons mense niks, maar ons sal vinnig moet leer.
            Iemand wat onlangs afgetree het, het vir homself R1 miljoen se klein goue munte gekoop.  Hy meen hy sal goue munte vir al sy aankope kan verruil.  Wat het ek en jy om te verruil?
            Ons sal iets moet hê om in ruil te gee vir ‘n nuwe bril, nuwe kunstande, vir medisyne, vir motoronderdele, vir kos, vir brandstof, ens.
            Waar gaan ons woon? Want ons sal nie ons water- en kragrekenings kan betaal nie. Maak maar jou eie skrikwekkende lysie.
            Een ding is seker, omstandighede gaan die ware gelowiges nader aan mekaar dwing. Die talle dinge wat nou skeiding onder ons veroorsaak, sal (moet) verdwyn.  Ons gaan mekaar absoluut nodig kry.
 Daar sal nie langer kerke wees nie, ons sal Christus se gemeente, Sy Bruid, wees.
Ons sal ‘n nuwe dispensasie binnegaan wat drasties van die huidige gaan verskil. Selfs ons hoogmoed en inhibisies gaan verdwyn. Ons sal ‘n totale metamorfose deurmaak, want die Here Jesus sê Hy kom haal sy Bruid en sy sal sonder vlek of rimpel (moet) wees. Efes. 5:27
            Daar is mense wat meen dat wanneer die Merk van die Dier ingestel word, die ware gelowiges weggeraap gaan word. Dit lyk egter nie so volgens Openb. 14: 12 nie:  “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus Christus bewaar.” Wat beteken dit?
            Dit is ‘n woord van bemoediging en vertroosting aan die gelowiges. In die dag van oordeel mag hulle nie verskrik raak nie, maar moet hulle standvastig bly in die geloof (Openb. 13:10 en 5:8).
Die volharding kom daarin tot uitdrukking dat hulle in die dae van nood en stryd vasstaan in die gebooie van God (Openb. 12:17;  1 Joh. 3:23, en in die geloof in Jesus Christus (Open. 14:4), teenoor diegene wat die Dier aanbid.
            Wie se Merk gaan jy dra, die merk van die Dier, of die merk dat jy verseël is deur die Bloed van die Lam.
            Hoe sterk staan jy as gelowige? Gaan jy daardie dag kapituleer, of gaan jy volhard en vasstaan? Jou besluit sal onherroeplik finaal wees.
Kyk hoe min van ons mense het vandag ‘n woord van eer. Ons mense verbreek hulle woord na willekeur, so erg dat ons al onder mekaar sê:  Ons kan niemand meer vertrou nie.
Mense gee hulle hand en hulle woord vir mekaar in die huwelik en in twee uit elke drie huwelike verbreek hulle dit vir elke rede denkbaar. Hulle het beloftes aan God gemaak oor kinders, beloftes wat hulle ook nie nakom nie. Kyk net  na die kinders sonder morele waardes.
Ons mense het nie meer ‘n woord van eer nie, nie teenoor mekaar nie en ook nie teenoor God nie.
Daardie dag sal jy nie langer so kan maak nie. Jou woord, jou besluit, is finaal.
Hoe gereed is jy vir daardie dag? Dien jy die HERE,  groei jy? En wat van bid en Bybelstudie? Leef jy volgens die voorskrifte van die HERE? Bely jy Christus? Jy sal nou reeds moet leer om sterk te staan.
Jy moet jou voorberei vir die gewigtigste besluit in jou hele bestaan.
            So seker soos wat die Merk van die Dier ingestel gaan word, so seker is die sewe jaar van verdrukking. Sommige redeneer gelowiges spring die verdrukking vry, ander meen ons sal die helfte van die tyd moet deurmaak en nog ander meen ons sal die hele sewe jaar tydperk moet deurloop. Almal het Skrifgronde vir hulle aannames.
            Maar wat maak dit saak, ek en jy het geen beheer daaroor nie. Dis in God se hande. Wat wel waar is, is dat Jesus Christus kom om Sy Bruid (ek en jy) te haal en ons sal “sonder vlek of rimpel” wees.
            Iets moet dus gebeur wat ons waarlik Bruid sal maak, wat ons vir die huwelik en die huweliksmaal moet voorberei, as ons dit nie self doen nie. Om die Merk van die Dier te weier en die verdrukking deur te gaan, lyk mos na die wyse waarop hierdie voorbereiding mag geskied!
            Let op hoe drasties die wêreldtoneel verander wees die toename in losbandigheid, misdaad en terrorisme. Polisiemagte wêreldwyd sukkel om die status quo te handhaaf, veral weens die toename in misdaad in eie geledere. Het jy al gedink wat gaan gebeur wanneer die polisiemagte nie meer weerstand kan bied nie?
            Vir diegene wat die Merk ontvang het, sal daar geen verdrukking wees nie. Hulle is dan deel van die stelsel. ‘n Sondaar kan nie sondig nie want hy is sondig.  Sonde gaan die wêreld in totaliteit oorheers.
Pornografie het byvoorbeeld reeds ‘n aanvaarde norm geword, selfs op  die TV en die Internet in jou huis. Naakte sekstonele en wellus is nou die norm.
            Maar hulle tyd kom wanneer die gelowiges Christus tegemoet gaan in die lug. Dan eers sal diegene met die Merk drink van die wyn van die grimmigheid van God …. (Openb. 14: 9-11).
            Hoe gaan die Merk van die Dier lyk? Wat maak dit saak? Dit sal die Merk van die Dier (onheil) en nie die merk van God wees nie. Dit sal na verwagting ‘n nommer wees.
            Mens kan vandag jou pinkode in syfers of alfabeties insyfer. Jou selfoon kan in syfer en in alfabet kommunikeer. Dit gaan nie oor hoe die Merk gaan lyk nie, maar of jy dit gaan aanvaar al dan nie.
            Moenie redeneer dat jy gaan wag vir die dag van die instelling van die Merk en dan sal jy Christus kies nie. Jy sal vir seker die toets dop. Jy sal nie die geestelike en Goddelike stukrag wat dit gaan vra om vas te staan nie.
            In daardie stadium gaan die misleiding en verleiding op sy hoogste vlak fungeer want die Dier gaan geweldige mag uitoefen, groot tekens doen, sodat hy selfs vuur uit die hemele laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. Openb. 13: 11-18).
            Jy sal daardie dag die dood in die oë staar want Openb. 13:15 sê hy gaan diegene wat die Merk nie wil aanvaar nie, ook doodmaak! Dit sal gaan soos nou met5 ISIS: Of jy versaak Christus of jy word op die plek onthoof. Net veel erger.
            Die ware gelowige sal die dood nie vrees nie, want hy het reeds geleer om nie diegene te vrees wat die liggaam kan doodmaak nie. In daardie dae sal mense ook weens vrees aan hulle harte beswyk.
            Wyse maagde hou hulle lampe vol olie.  Dwase maagde het nie genoeg olie nie. Wat dan van jou wat geen olie het nie?