Maandag 18 Januarie 2016

Dis noodsaaklik om ook met jou gawes te woeker



Ons vleeslike liggame, beskik oor talle ledemate. Die een vul die ander een aan. Dit stel ons in staat om te sien, en te hoor, te eet en te drink, te voel, te loop, te hardloop, ens.
            “Want soos ons (ek en jy), in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, (net so) is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar.
“En ons (ek en jy) besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: (let op) is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie 'n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.
“Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.
“Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid; seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” Rom 12:4-18
Die Heilige Gees deel gawes aan gelowiges uit, nie om net met God in aanbidding besig te wees nie, maar in die besonder om ander mense binne en buite die gemeente daarmee te kan bedien.
Jesus Christus was drie jaar in die bediening. Hy het presies gewys wat God verlang gedoen moet word. Net voor sy vertrek na die Hemel, het Hy sy taak aan ons oorgegee:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
“En kyk, Ek is met julle (in gees) al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” Matt 28:19
Daar is diegene wat sê hulle het geen gawe ontvang nie, maar die Skrif leer anders: “Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.” 1 Pet 4:10. Elke Gelowige het dus ten minste een gawe.
As jy nie weet wat dit is nie, beter jy gou seker maak wat dit is en daarmee woeker. Ons praat hier van gawes, nie talente nie.
Gawes is spesiale vermoëns…
*  Gawes is Goddelike geskenke
*  Gawes is spesiale vermoëns wat aan ons geskenk word sodat ons ‘n unieke bydrae kan maak. 1 Kor 12:7.
…..uitgedeel deur die Heilige Gees…
*  Gawes word deur God gegee
*  God gee aan ons die gawes sodat ons sinvolle dienswerk kan verrig. 1 Kor 12:11.
...aan elke gelowige, in ooreenstemming met God se beplanning en ontwerp en uit genade alleen,
*  Elke gelowige het minstens een gawe.
*  Elke gelowige is ‘n dienaar 1 Pet 4:10.
tot gesamentlike voordeel van die liggaam van Christus.
*  Die gawes wat God aan ons skenk stel ons in staat om mekaar beter te dien.
*  Die grootste toets vir die gebruik van ons Gawes is:  Verheerlik dit God?  Is dit tot opbou van ander? 1 Kor 12:7 en 1 Kor 14:3-5; :12.

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Gal 5:22
Beide die Vrug van die Gees en Gawes behoort sigbaar teenwoordig te wees is die lewe van die gelowige Christen en binne en buite die gemeente.
Onthou, ons groot opdrag is om Christus se werk te voltooi en die Getal vol te maak. Ons het nie sleg gevaar sedert die Hemelvaart nie, want die Christendom is steeds die grootste beweging wêreldwyd en die Bybel steeds die grootste verkoper.
Maar wêreldwyd is daar ‘n slapheid, ook hier in Suid-Afrika. Dis ‘n gevaarlike (lou) toestand en dis waarom ons so gereeld herinner aan: “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:12-13
Hoe sal jy weet of jy ‘n besondere gawe het? Maklik, begin net help waar daar nood is, soos om vir ‘n sieke te bid. Jy kan nie genees nie, net God kan, maar lê ten minste jou hande op daai sieke. Die onus om te genees bly op die HERE. Jou hande is bloot die verlengstuk van Jesus se hande.
Al die volgende gawes moet binne en buite jou gemeente voorkom: Herderskap, Profesie, Evangelisasie, Diensbaarheid, Apostelskap, Musiek, Lering, Wysheid, Wonderwerke, Bevryding, Geloof, Berading, Gasvryheid, Barmhartigheid, Genesing, Tale, Uitleg van Tale, Gees van Onderskeiding, Kennis, Intersessie.
Elke lidmaat het ten minste een van hierdie gawes, terwyl sommige Gelowiges meer as een van hier gawes kan hê.
Een van die lede van jou gemeente is Jesus Christus self, verwelkom Hom in elke diens en dank Hom dat Hy homself sal openbaar in die diens, al hou die diens soms drie ure lank aan.
Ons praat van aanbidding en lofliedere, maar die volheid daarvan begryp min van ons. As ons besef Jesus is in ons midde, sal ons hartliker sing...
Gebruik die bidure en ander byeenkomste om op die HERE te wag vir die openbaarmaking van die gawes. Almal het ten minste een gawe en niemand durf dit versaak nie.
Hoe meer jou hart in pas is met God se hart, hoe makliker sal dit vir jou wees om te hoor wanneer God jou gawes wil gebruik. Spandeer gereeld tyd saam met Hom en bou ‘n sterk intieme verhouding met Hom.
Wanneer jy in ‘n situasie kom waar die Heilige Gees deur jou iemand kan bedien, maak seker dat jy ingestel is op die HERE en dit wat hy vir jou wil sê op daardie oomblik. Dikwels mis ons kosbare bedieningsgeleenthede omdat ons net nie ingestel is op wat die Here op daardie oomblik wil doen nie.
Los die geselsery voor die dienste, kom in aanbidding, in die Gees, daar aan omdat jy graag wil gee en graag wil ontvang. Woon die dienste met afwagting by,
As die gawes en die bediening daarvan nou nog nie in jou gemeente aanwesig is nie, wees geduldig, dis ‘n leerproses, maar een wat deur elke Gelowige met ywer nagejaag moet word. Wees nederig en oop daarvoor om gekorrigeer te word.
Die gawes is daar tot opbou van die gemeente... en jouself. Jy by wie ‘n gawe of gawes reeds manifesteer, moenie op ander neersien nie, bid vir hulle help hulle, bemoedig hulle. Dit is en bly een liggaam, een Ekklesia.
Het jy met jou gawes laat slaplê: “Om hierdie rede herinner ek jou dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas.” 2 Tim 1:6
Elkeen het ten minste een gawe ontvang, maar berus nie daarin nie. Hou jouself oop want soos wat jy daardie gawe ontwikkel, gaan God jou nog en nog gawes gee. Wees so ingestel op die Heilige Gees dat jy die nuwe gawe sal herken.
Binne die dienste “Word aan elkeen die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
“Want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee, en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg van tale.
“Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.” 1 Kor. 12:7-11
Belewe Christus Jesus in persoon, belewe die Heilige Gees in persoon. Beleef Engele in die Gees. “Maar daar kom 'n uur (wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.  God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet (noodwendig) in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:24
Of daar net vier of agt of 20 mense in ‘n huisgemeente is, alles geld presies so vir julle ook. – Sjibbolet